sr1108cover02final03
Hieroor praat mense

Milan blog: “Vlinders op die maag, een voet voor die ander”

Of beskryf ek liewer net hoe my laaste oefensessie verloop het? Noem ek die kortisoon-inspuiting wat vanmiddag op my wag of lys ek eerder net die liedjies wat ek versamel het vir my roadtrip Natures Valley toe?

Vyf dae voor die Otter en my woordeskat het my verlaat…

Ek kan ‘n paar aanhalings neerpen… Daardie moriveringswoorde wat ek hierdie week soos mantras herhaal. Of dalk moet ek ‘n prentjie van die wedloop se moordende profiel aanheg om n laaste simpatieke ‘siestog’ uit jou te lok?

Nee wat. Om my geliefde Amanda Strydom aan te haal:

‘Dan liewer niks nie. Glimlag net gedwee.’

Die tyd is verby. Daar’s is niks meer om te sê of te bewys of af te bid nie. Die dag het aangebreek. Die werk is gedoen. Nou is dit net ek en daardie beeldskone enkelpaadjie wat op 15 Oktober vir my wag.

Dankie, liewe leser, dat jy saam met my gereis het. Ek het presies n jaar gelede, op my verjaarsdag, hierdie uitdaging aan myself belowe. Noudat 38 my stadig bekruip, gaan ek hom met ‘n bang tegemoet. Die Otter is seker die vreemdste geskenk wat enige vrou vir haarself sal kies, maar ek kan nie vir jou beskryf hoe opgewonde ek is om Maandag hierdie verjaarsdag-pakkie tree vir tree oop te maak nie.

Ek vra vir oulaas dat jy sal oorweeg om ‘n donasie te maak aan die Tygerberg Kinderhospitaal. As jy vir Malcolm kontak by mkling@sun.ac.za sal hy vir jou die besonderhede stuur. Of SMS die woord ‘milan’ na 38198 om R10 te skenk.

Laastens, ‘n ietwat vreemde versoek: Sal jy Maandag iewers deur die loop van die dag na die Oos-Kaap se kant toe draai en ‘n aanmoediging fluister? Ek spring 6h30 weg, en sal vir 11 ure aan die hardloop wees. My kinders het belowe om 12h00 buite op die stoep te gaan staan en te skree ‘Go Mamma, Milan!’
“Sal jy ons hoor, Mamma?” het my blou-oog kind bekommerd gevra.
“My hart sal, Pixie-pop. My hart sal jou hoor.”

Nou ja… Hier gaan ons! Een voet voor die ander..

Milan

  • Petro

    Milan, jy is regtig ‘n aansporing vir ons almal! Die Otter was nog altyd op my "bucket list" en miskien
    sal ek dit gou moet doen want 60 klop aan die deur. Sterkte en ons sal ook 12h00 na die Oos-Kaap draai en vir jou aanmoedig. Baie geluk met die verjaarsdag ook en ons sien jou by die eindpunt.

  • cstelle

    Milan, ek dink jys super cool!! dit sit nie in enige een se broek om so n reuse-uitdaging aan te gryp nie !!
    Ek glo jy gaan dit maklik maak, om die een goeie rede …. JY WIL !!

    good luck!!!

    xxx

  • Schalk

    Hopelik is ek daar. Every step of the way!!

  • Brenda

    Milan, ek lees pligsgetrou elke blog oor jou groot uitdaging. Ek het met die eerste blog wat ek gelees het dadelik Otter Trail Run gaan Google. My bewondering vir jou "guts" het net daar die hoogte ingeskiet. En saam met die adrenalien wat sommer hier agter my rekenaar begin vloei het net deur na die video clip te kyk, het ek gedink EK WIL OOK! Jys voorwaar ‘n inspirasie! Nog nooit het ek enige kommentaar gelewer nie, maar vandag wil ek sê: Ek weet jy kan! Ek sal Oos-Kaap se kant toe skree dat die kranse antwoord gee. Hardloop daardie Otter met die wete dat jou ondersteuners elke tree agter jou staan. Sterkte en geniet jou wedloop!

  • Milan Murray

    Ai Brenda! Tjank ek nou! Dankie vir die skree…

  • Oom Christo

    Haai, Milan. Ons is baie trots op jou. Ek glo dat jy elke tree iets sal ervaar van wat ‘n kankerpasiënt deurmaak. Vooraf weet jy die pad is lank en styl. Jy smag daarna om te sien of die volgende opdraend ‘n salige gelykte oplewer. Jy weet dat as jy gedoen het wat jy kan, jy net in afhanklikheid kan opkyk na die enigste plek waar jou hulp vandaan kom. As die moedeloosheid wil-wil kop uitsteek, vind jy en ‘n medereisiger die geleentheid om vir mekaar te sê: "You’re going to make it!" Jy weet dat elke tree wat jy jou voete sien gee ‘n tree nader aan die wenpaal is en jy sit die ander voet een tree verder. Intussen dink jy aan die verbasende aantal mense wat jou ondersteun – naby vriende en familie, maar ook mense wat jy (amper) nie ken nie. En jy is dankbaar vir elkeen. Dankie, namens elke kankerpasiënt, dat jy omgee. Ek dink jy gaan iets hierna publiseer wat nog baie mense gaan inspireer op hulle lewensmarathons.

  • Lyn van Rooyen

    Goed gedaan, Milan! Volgens die Otter se ‘twitter feed’ was Milan se tyd 10h02min en 26 sekondes

  • Mari Maree

    Hallo Milan
    Baie geluk! Jy is ongelooflik. So amper was jy nie daar nie maar daar was ‘n Grooter Hand, wat geweet
    het dat dit vir baie kindertjies nodig is, dat jy moet hardloop.
    Jy is nou so fiks, jy moet maar inskryf vir die volgende wedloop.
    Ek hoop jy het jou mikpunt bereik.
    Weereens welgedaan, ons is trots op jou!!