Hieroor praat mense

Modelle maer tot die einde toe

Hulle pronk op wêreldloopplanke, op FashionTV en op modeblaaie. Soms beny ons hulle hul vormlose, plat voorkoms.

Die supermodel Twiggy het in 1966 die beeld van maer modelle gevestig, en dié obsessie het sedertdien die modewêreld oorheers. Twiggy verdedig steeds haar wilgerlatlyf van destyds: “Ek was baie maer, maar dis hoe ek natuurlik gebou is. Ek het altyd verstandig geëet.” (www.dailymail.co.uk)

Maar om superslank te wees het lewensgevaarlik geword. Die dood van drie maer modelle het dit onlangs onder ons aandag gebring. Ana Carolina Reston (21) van Brasilië is in November 2006 aan ’n anoreksie-verwante siekte oorlede. Sy was 1,72 m lank en het net 38 kg geweeg. Ook die susters Luisel (22) en Eliana (18) Ramos van Uruguay is onderskeidelik in Augustus en Februarie aan hartversaking oorlede, vermoedelik weens ’n eetsteurnis. Luisel het 40 kg geweeg.

Skielik was die debat oor té maer modelle vuurwarm. Foto’s van uitgeteerde modelle het op die internet opgeduik. ’n Herrie het losgebars. Die Council of Fashion Designers of America het riglyne opgestel “oor sommige modelle ongesond maer is”. By Madrid se belangrike Pasarela Cibeles-modeskou in Februarie is vyf brandmaer modelle verbied om deel te neem. In Italië moet modelle voor hulle op die loopplank mag gaan ’n doktersbrief toon dat hulle nie aan ’n eetsteurnis ly nie. Die British Fashion Council het ’n taakmag gestig om strategieë te bedink om gesondheid onder jong vroue te bevorder. Ook in Australië mag baie maer vroue nie klere modelleer nie.

Die Oscar-benoemde aktrise Kate Winslet het ook haar stem teen uitgeteerde vrouelywe laat hoor. “Kurwes moet natuurlik, vroulik en eg wees,” het sy gesê nadat sy in Maart ’n saak teen die Britse tydskrif Grazia gewen het. Dié tydskrif het beweer Kate het ’n dieetdokter in Amerika besoek ondanks haar uitgesprokenheid teen Hollywood-druk om uiters maer te wees (www.people.com). Sy het die geld wat Grazia aan haar moes betaal aan ’n eetsteurnisliefdadigheidsorganisasie geskenk.

Wat sê hulle?

‘Die dood van modelle word nie in konteks gesien nie. Dis drie uit miljoene modelle wêreldwyd’

- Tanya Fourie

 

 

‘Die modelle se probleem moes geïdentifiseer word lank vóór hul anoreksie handuit geruk het’ - Leigh Toselli

 


 

‘Ek voel kurwes moet natuurlik, vroulik en eg wees’ – Kate Winslet

 

‘Jong modelle moet die eise van agentskappe om op ‘n dieet te gaan ignoreer’ - Claudia Schiffer

 

Maar wie besluit wat is té maer? Jou liggaamsmassa-indeks (LMI) gee ’n goeie aanduiding (sien kassie). Dokters het Ana se gewig as normaal beskou vir dié van ’n 12-jarige meisie van sowat 1,5 m. Haar LMI was net 12,8. Dis wanneer jou lyf dink hy ly honger.

Die SA model Mary Slater, wat jare lank internasionale modelwerk gedoen het, meen die grens tussen maer en té maer is wanneer dit “belaglik” raak: “Wanneer modelle nie meer eet en vitamiene inneem nie. Modelle was nog altyd maer, maar deesdae sien ons onrealistiese beelde. Dis ’n ongesonde uitbeelding van vrouelywe.”

’n Aanlyn-peiling deur die marknavorser Nielsen begin vanjaar het gewys elke vier uit vyf verbruikers meen modelle en baie glanspersoonlikhede is te maer. Die peiling is onder 25 000 mense in 45 verskillende lande, o.m. Suid-Afrika, gedoen. Hier dink 87% van verbruikers modelle is te maer.

’n SARIE-leser stel dit só in ’n brief oor ’n onderklere-model in ons Februarie 2007-uitgawe: “Dit (die model) is werklik nie die toonbeeld van vroulikheid, ’n gesonde liggaam of ’n natuurlike voorkoms nie. Hierdie model is eerder die voorbeeld van ‘loopplankanoreksie’ en ek maak sterk beswaar daarteen dat sulke modelle gebruik word in so ’n glans-vrouetydskrif. Die modelle wat gewoonlik in SARIE is, is vir ons almal ’n voorbeeld van ’n gesonde en pragtige vroueliggaam.”

Die peiling wys ook 89% van Amerikaanse, Britse en Franse verbruikers (waar van die grootste modeskoue plaasvind) is teen brandmaer modelle gekant. Maar daar is verdeeldheid oor die erns van die probleem – en of daar inderdaad ’n probleem is.

Tanya Fourie, een van ons top-internasionale modelle, glo die dood van modelle word nie in konteks gesien nie. “Dis drie uit miljoene modelle wêreldwyd.” Dis ook die geval met sommige modelle wat dwelms gebruik, sê sy. Dit beteken nie alle modelle gebruik dwelms nie.

Loopplankmodelle is ’n klein deel van die modebedryf, sê Monica Smith, direkteur van Heads Models in Johannesburg. As jy ’n paar maer loopplankmodelle sien, is die hele bedryf nie noodwendig ongesond nie. “Loopplankmeisies is gewoonlik langer en maerder as swemklere- of onderklere-modelle. Die grootte van die model hang af van die soort modelwerk wat sy doen.”

Leigh Toselli, oudmodel en modekenner, glo ook nie brandmaer modelle is só ’n groot probleem nie. “Dis nie of daar skielik ’n vlaag van anoreksiese modelle is nie. Ek dink dis afgryslik wat met die drie modelle gebeur het, maar hul probleem moes geïdentifiseer word lank vóór hul anoreksie so handuit geruk het.”

Leigh het verlede jaar ’n opskudding veroorsaak toe sy gekla het oor ’n te maer model op die loopplank by die SA Modeweek in Johannesburg. Die model is verbied om verder deel te neem. “Sy het ’n onrealistiese beeld voorgehou. Jy kan nooit te maer in hierdie bedryf wees nie, maar as dit jou gesondheid beïnvloed, raak dit ’n probleem.”

Is ons modelle gesond?

Modelagentskappe, ontwerpers en modelle self is dit eens dat SA modelle gesond is. Die deursnee plaaslike model is ’n nommer 34, sê Monica Smith, direkteur van Heads Models in Johannesburg. Hulle oefen gereeld en sukkel nie met gewigsprobleme nie.

 

Die model wat verlede jaar tydens die SA Modeweek van die loopplank afgehaal is omdat sy te maer was, is ’n uitsondering, sê Nikki Petersen van Star Model Management in Johannesburg.

 

Agentskappe in SA is besorg oor hul modelle, meen sy. “Ons het die optrede verwelkom (die model het ook vir Star Models gewerk). Ons was eerlik met haar en het gesê sy moet eers gewig aansit voor sy weer kan werk.”

 

Vanjaar het ontwerpers vroulike kurwes by die SA Modeweek gevier. Die mode-etiket Stoned Cherrie het voller modelle gebruik ter wille van die ronder lyf, wat gewild is in tradisionele Afrika-gemeenskappe.

 

 

Maer modelle is niks nuuts nie, sê Mary. “Toe ek in Japan was, was ek kleiner as wat ek moes wees, maar my middel was te groot. Ek het vir ’n week van ryskoekies en water geleef, maar het bly gewig verloor om my bo- en onderlyf. My middel het dieselfde gebly. Ek kon dit nie langer doen nie.”

Candice-Lee Kannemeyer, gewese skoonheidsredakteur van SARIE en ‘n voormalige model, sê: “Ek het in die laat jare tagtig en vroeë jare negentig as model gewerk en was ’n klein nommer 32. Toe ek in Japan en Parys wou gaan werk, is ek aangesê om tussen 4 en 6 kg te verloor. Ek sou ondergewig wees vir my lengte. Ek was 19 en wou myself nie onder soveel druk plaas nie. Ek het besluit om in SA te werk en gesond te bly.”

Anita Olckers, ’n model van Johannesburg, doen oorwegend kataloguswerk oorsee omdat haar lyf nie maer genoeg vir die loopplank is nie. “Ek wíl nie so maer wees nie,” sê dié nommer 34-model. “Daar’s al vir my gesê ek is te vet en ek beskou myself nie as vet nie. Dit het my voorheen seergemaak, maar in hierdie bedryf moet jy vasbyt en werk doen wat gepas is vir jou lyfgrootte.”

Meandra Nel (19) was die SA finalis in die Ford Supermodel-kompetisie in Januarie in New York. “My LMI was net 16,67. Ek weeg 53 kg en is 1,8 m lank. Ek moes hoor ek moet nog 5 kg verloor vir die loopplank. Terug in SA was ek te maer vir die modebedryf hier. Ons bedryf is gesonder omdat ons baie swemklere-werk doen.”

Sy meen modelle word al maerder. “Dis weens mededinging. Jy moet heeltyd beter (maerder) as die volgende model wees. Dis die opvatting dat mooiwees en maerwees hand aan hand gaan.”

Laurie Botha, eienaar van Model Management in Pretoria, sê ’n model word gebore. “Loopplankmodelle het die regte gene. Hulle is lank en maer al eet hulle baie. En as jy nie by die internasionale peil kan inpas nie, is daar tien ander meisies wat jou plek kan vul. Dis problematies as meisies hulself druk om maer te wees. As dit onnatuurlik vir jou lyf is om so maer te wees, is ek daarteen,” sê hy.

Wat is té maer?

Doen ’n eenvoudige berekening:

 

Deel jou gewig deur twee keer jou lengte, bv. 65 gedeel deur 1,73 x 1,73. Die antwoord is jou LMI (BMI in Engels) – ’n maatstaf van hoeveel jy onder- of oorgewig is. ’n Getal tussen 18,5 en 24,9 wys jou gewig is normaal. ’n Getal onder 18,5 beteken jy is ondergewig.

 

Lucilla Booysen, direkteur van die Sanlam SA Modeweek, stem saam dis alles in die gene: “’n Loopplankmodel moet die regte eienskappe hê. Loopplankmodelle is lank en skraal en hulle éét. Wat nou gebeur, is dat meisies wat nie die genetiese eienskappe vir die loopplank het nie, ophou eet.”

Jayn Hancock van Ice Model Management in Johannesburg reken ons gaan nie nou skielik voller modelle op die loopplank sien weens al die ophef nie. Die jare negentig se heroin chic (modelle wat soos uitgeteerde heroïenverslaafdes gelyk het) was net so maer, sê sy. “Toe was daar ook ’n ophef.”

Op loopplanke en veral met haute couture (eksklusiewe en toonaangewende ontwerpe) is dit ’n gegewe dat uiters maer modelle gebruik word. “Modeneigings kom van Parys. Paryse couturiers ontwerp klere vir brandmaer lywe. Hulle skep ’n illusie. Die modelle en klere lyk amper soos ’n modeskets. Omdat couturiers sulke groot toonaangewers is, gryp mense na hul idees, maar besef nie dat hulle dit op hul eie manier moet interpreteer nie.” Ook, sê sy, is dit moeiliker om vir ’n voller lyf te ontwerp, jy benodig meer lap en dit duur langer om die ontwerpe te maak. “As ontwerpers hul klere aan maer modelle wil sien, is daar niks wat enigiemand daaraan kan doen nie.”

Leigh dink daar word ’n groter ophef gemaak omdat ons elke dag op TV-modekanale maer loopplank-modelle sien. “’n Paar jaar gelede het sowat 200 mense wêreldwyd na ’n modevertoning van Chanel gekyk. Vandag sien jy dit op elke modekanaal.”

Maya Prass, ’n Kaapse mode-ontwerper, dink die samelewing wil júis maer modelle sien. “Die wêreld is obsessief oor maer lywe en dis wat ons op die loopplank sien.”

Wat is die sogenaamde size zero?

Size zero is ’n vroueklere-grootte in Amerika wat gelyk is aan ons nommer vier. Die middellyfgrootte is die gemiddeld van ’n agtjarige meisie.

 

Marian Acker, ’n dieetkundige by Riverside Manor in KwaZulu-Natal, ’n kliniek wat in onder meer eetversteurings spesialiseer, sê om so maer te wees kan daartoe lei dat vroue nie meer menstrueer nie. Dit kan ook tot haarverlies, ’n droë vel en selfs verdunning van jou beenstruktuur lei.

 

As jou lyf sy vetreserwes opgebruik het, begin hy spierweefsel afbreek om te oorleef. Jou organe kan ook begin ingee, sê Marian.

 

Rachel Zoe, ’n Amerikaanse stilis en self ’n size zero, word beskou as die een wat die size zero-neiging in Hollywood begin het. Haar kliënte sluit in Lindsay Lohan, Mischa Barton, Keira Knightley en Cameron Diaz. Rachel het gerugte ontken dat sy voorgeskrewe dieetmiddels aan haar kliënte voorsien.

Die uitgeteerde Victoria Beckham is sinoniem met size zero. ’n Peiling wat More, ’n Britse tydskrif, verlede jaar onder Britse vroue in die twintig gedoen het, wys Victoria is die vrou wat hulle die meeste bewonder.

 

BRONNE:
www.keepthedoctoraway.co.uk
Britse Sunday Times Magazine
(Desember 2006) www.chinadaily.com

 

Monica verwys ook na brandmaer glanspersoonlikhede. “Rolprentsterre is baie maer omdat hulle groter op die skerm lyk. Ontwerpers wil hê die petit A-lys-filmsterre moet hul klere dra en voorsien hoofsaaklik ontwerpe vir hierdie mark, wat dalk 2% van die bevolking is.”

Dis glanspersoonlikhede soos Lindsay Lohan en Victoria Beckham met hul size zero-lyfies (sien kassie). Jy mag dalk nie die maer modelle op die loopplank geniet nie, maar jy sal vind talle glanspersoonlikhede in die voorste ry verwag dit,” sê Monica.

Waar stel jy die grens? “Daar’s ’n fyn lyn,” sê Leigh. “As ’n model anoreksies is, is haar energievlakke laag. Jy hoef nie ’n meisie se heupe te meet om te sien sy het geen energie nie.” Modelle wat loopplankwerk doen, is baie jonk, sê sy. “Hul raklewe is tussen 18 en 25. Hul lywe het nog nie heeltemal ontwikkel nie en hulle kan lank en skraal voorkom. Hulle is nie noodwendig anoreksies nie.”

Prof. Michael Simpson, ’n afgetrede psigiater wat betrokke is by Health24, is bekommerd oor die invloed wat hierdie maer modelle en glanspersoonlikhede op jong meisies het. “Jong meisies is weerloos. Hul lywe begin verander en hulle ervaar druk om in te pas.”

Volgens die British Medical Association is daar ’n verband tussen die abnormaal maer modelle wat die media oorheers en die toename in die voorkoms van anoreksie en bulimie.

Dis ou nuus dat die maerbehepte media onder skoot kom vir vroue se swak liggaamsbeeld. Die redakteur van die Britse Vogue, Alexandra Schulman, het hierop gesê: “Ons wys vroue wat interessant, mooi of modieus is. Maar ons sê nie jy hoef soos hulle te wees nie.”

Leigh meen ontwerpers dra skuld, maar dat dit die verantwoordelikheid van alle rolspelers in die bedryf is om te verseker modelle bly gesond. “Modelagentskappe moet verantwoordelikheid aanvaar. Ook ouers moet bewus wees van jong modelle se emosionele en fisieke gesondheid. As jy emosionele probleme het, is hierdie bedryf nie vir jou nie.”

Die oud-supermodel Claudia Schiffer meen jong modelle moet die eise van agentskappe om op ’n dieet te gaan, ignoreer, berig AP. Sy is gekant teen diëte. Oefening en organiese kos hou haar slank en gesond.

Oud-model Tyra Banks meen familiesteun is belangrik in die bedryf. Sy het in ’n onderhoud met Larry King gesê sy het in haar loopbaan druk ervaar om maer te wees, maar veral haar ma het haar plat op die aarde gehou.

Tyra het werk verloor omdat sy te “rond” was, maar sy het haar loopbaan in ’n ander rigting gestuur en onder meer as onderklere-model vir Victoria’s Secret gewerk. Sy het intussen tussen 5 en 10 kg opgetel. Normaal vir ’n vrou van 1,76 m (73 kg), maar poniekoerante het haar onlangs as “vet” bestempel. Sy bespreek gereeld liggaamsbeeldkwessies in haar TV-geselsprogram, The Tyra Banks Show, omdat sy haarself as ’n mentor vir jong meisies sien, het sy aan die Amerikaanse tydskrif People gesê.

Modelle moet verantwoordelikheid vir hul eie lewe neem, sê Jacinda Louw, ’n model van Johannesburg en naaswenner van Survivor SA. “Jy moet besluit wat jy aan jou lyf wil doen. Daar is meer as genoeg werk vir alle soorte modelle. Jy hoef nie noodwendig so maer te wees nie.”