CV

FOTO Justin Badenhorst

Hieroor praat mense

Moenie deel van die 9 miljoen wees nie!

Volgens ’n artikel van Netwerk24 is miljoene Suid-Afrikaners onveilig op die internet, byna 9 miljoen om presies te wees. Wat nóg erger is, is dat uit ’n populasie van ’n bietjie meer as 50 miljoen mense, is ’n vyfde van die bevolking in gevaar.

Gaan gou na hierdie webtuiste en tik jou e-posadres in. Have I Been Pwned sal dadelik vir jou sê of jou e-posadres al ooit in die moeilikheid was as gevolg van wagwoorde wat van webtuistes af gelek het.

Hier is maklike wenke vir jou om veiliger op jou selfoon en op die internet te wees!

Is jý veilig?

Het jy al ooit jou bankrekening via jou slimfoon besoek of rommelpos (spam) tussen jou e-posse gevind? Dis tyd dat jy jouself beskerm!

1. Gebruik verskillende wagwoorde, nie net een nie

Dit is dalk maklik om net een wagwoord te onthou, maar in hierdie geval gaan die maklike roete jou nie beskerm nie! Gebruik verskeie wagwoorde om jouself en jou privaatheid te beskerm. Kuberkrakers is oral en altyd op soek na ’n geleentheid. As Twitter se wagwoorde en e-posadresse byvoorbeeld weer uitlek, is daar nie ’n kans dat kuberkrakers in jou ander sosialemedia-profiele kan ingaan as jy verskillende wagwoorde vir die onderskeie profiele het nie.

2. Maak jou koordlose konneksies veilig

As jy Wi-Fi by die huis het, verander die naam van jou konneksie en stel ’n wagwoord op. abc News waarsku ook dat jy versigtig moet wees wat jy alles op jou selfoon en rekenaar doen wanneer jy op die Wi-Fi van ’n openbare plek (soos ’n koffiewinkel of ’n internet-kafee) werk.

Hotspot Shield is ’n gratis program wat jy kan aflaai om seker te maak jou konneksies is veilig.

3. Koop net by veilige aanlyn winkels

Daar is twee maniere om seker te maak dat die aanlyn winkel waar jy koop, veilig is. Kyk eerstens of HTTPS voor die skakel van dié webtuiste staan én of daar ’n slot-ikoon langs die webtuiste se skakel verskyn. Vul eers daarna jou kredietkaartbesonderhede in.

internet veilig

Via se Sieners oor die bangmaakwoord: tegnologie

4. Beskerm jou slimfoon ook met ’n wagwoord

Deesdae het jy selfs meer inligting op jou slimfoon as op jou rekenaar. Dink daaraan: die meeste apps op jou selfoon gaan net in op jou profiel en baie skakels onthou jou wagwoord. Stel dus ’n wagwoord op jou slimfoon en oorweeg sagteware soos McAfee om jou selfoon te beskerm teen virusse en apps om jou wagwoorde ook te beskerm. Vind hierdie programme in jou Google Play-winkel.

veilig internet beskerm

5. Weg met spam!

Kry jy allerhande vreemde e-posse waarvoor jy nooit ingeteken het nie op jou gmail-rekening? Nou kan jy die besigheid vind wat jou e-pos aan ander stuur!

As jy ooit weer jou e-pos aan ’n webtuiste gee om byvoorbeeld hul nuusbrief te ontvang, tik jou adres só in:

Stap 1: As jou gmail-adres byvoorbeeld chantel@gmail.com is, tik nou chantel+“die webtuiste se naam”@gmail.com in.

Stap 2: Google herken nie die +-teken nie en ook nie enigiets wat daarna staan nie. Tik dus net ná die + die naam in van die webtuiste waarop jy is.

Stap 3: As jy nou ’n nuusbrief ontvang waarvoor jy glad nie gevra het nie, kyk na watter adres hulle dit gestuur het. Jou e-posadres behoort chantel+die webtuiste@gmail.com te lees. Ta-da! Jy het die webtuiste gevind wat jou e-posadres aan ander uitgegee het.

BRONNE: abc news, Digital Trends, Via se Sieners, The Guardian, The New York Times

Lees ook

Binnelanders se Je-ani Swiegelaar skep Facebook-blad vir ‘vol’ vroue

Moenie gevang word met dié Facebook-foefie nie