mark zuckerberg
Hieroor praat mense

Moenie gevang word met dié Facebook-foefie nie

Duisende Facebook-gebruikers is die afgelope week uitgevang met ’n kopiereg-foefie wat mense laat glo die inhoud op hul profiel moet beskerm word en dat Facebook jou inligting sal gebruik indien jy nie ’n verklaring op jou profiel deel wat hulle verbied om dít te doen nie.

Dié “verklaring” is egter net ’n poets wat iemand gebak het om te sien hoeveel mense daarvoor sal val.

Volgens Independant het die TV-aanbieder John Oliver, die aanbieder van Last Week Tonight with John Oliver, die boodskappe gesien en dit begin bevraagteken. Hy spot in ’n video met die poetsverklaring wat Facebook-gebruikers toegewyd gedeel het om hul foto’s en ander inhoud te probeer beskerm.

Die video is al meer as 90 000 keer gedeel én dit het boonop die stigter van Facebook, Mark Zuckerberg, se aandag getrek. Hy het die video ge-like.

Volgens Facebook se reëls en regulasies behoort alle inhoud aan die gebruiker self en dit kan beheer word deur jou sekuriteitstellings.

In ander nuus oor Facebook berig Recode dat die profielfoto soos ons dit nou ken iets van die verlede is. In die toekoms sal dit eerder ’n profielvideo wees en dit gaan groter op die skerm vertoon met spasie daaronder om ’n kort beskrywing oor jouself te gee.

Hier is ’n voorsmakie van hoe die nuwe profiel sal lyk:

Bronne: Independant en Recode

Lees ook