FOTO: Instagram @kryptonklary

Hieroor praat mense

Vetsug: ’n kommerwekkende epidemie

Nasionale Vetsugweek, 15 – 19 Oktober 2014, laat die soeklig val op die epidemie van vetsug en oorgewig in die land, en hoe dit bydra tot ’n verskeidenheid leefstylsiektes.

Die statistieke oor vetsug en oorgewig in Suid-Afrika is kommerwekkend. Die Hart-en-beroerte-stigting van SA (HBS) berig dat sowat 70 persent van vroue en ’n derde van alle mans in Suid-Afrika as oorgewig of vetsugtig geklassifiseer kan word.

Maar dit is nie net volwassenes wat hierdeur geraak word nie. Suid-Afrika se kinders, naamlik 1 uit 4 dogters en 1 uit 5 seuns, ly ook hieraan.

’n Duidelike verband kan gemaak word tussen oorgewig en vetsug aan die een kant teenoor die voorkoms van leefstylsiektes soos suikersiekte, hartsiekte, hoë bloeddruk, gewrigspyn en sekere kankers.

“Dit is moeilik om een sondaar wat tot dié epidemie bydra uit te lig”, vertel die hoof van die HBS, dr. Vash Mungal-Singh. “Maar die publiek moet verstaan dat hul leefstyl die oorsaak van oorgewig of vetsug is. Suid-Afrikaners eet te veel, drink te veel drankies en beweeg te min.”

Volgens dr. Mungal-Singh het Suid-Afrikaners meer verwerkte kosse begin eet, wat hoog is in vet, suiker en sout. En weens ons besige lewens vergryp ons ons aan kitskosse, wat ons laat gewig aansit.

Ons oefen ook te min! Minder as twee derdes van alle kinders is weekliks aktief. En die helfte van alle mans en twee derdes van vroue is onaktief.

Die oplossing berus by elke Suid-Afrikaner… Die pad na gesondheid en gewigverlies is elkeen se eie verantwoordelikheid.

Vir meer inligting oor hierdie kwessie, besoek die Hart-en-beroertestigting se webtuiste, Facebook of Twitter-blaaie. Of skakel hul by 0860 1 HEART (43278).

Lees dieetkundige Mariza van Zyl se blogs HIER.