FOTO: Clinton Lubbe

Hieroor praat mense

Nataniël se ses soorte Kersfees – Deel 2

Vanjaar hou hy ’n la-a-a-ng Kersfees – vier vieringe oor vier (of meer) dae. So rek Nataniël sy gunsteling-tyd van die jaar uit. Maar daar is ook ses ander soort Kersvieringe, sê hy, en dís hoe hulle werk …

La-a-a-ng Kersfees
Dit is dié jaar my Kersfees – vier verskillende vieringe oor vier of meer dae. As jou familie oor die aarde versprei is, of daar is ’n pap babatjie iewers of iemand is siek en kan nie reis nie, dan het diegene – soos ek wat die maklikste kan rondbeweeg – drie of vier Kersfeeste. Ek vlieg en ry heen en weer om almal in te pas van die Kaap tot Gauteng. Vir dié wat te ver woon, soos my broer in Frankryk, word die pakkies maande voor die tyd gekoerier en die dag ná Kersfees, wanneer die familiefeeste verby is, maak ons almal saam op Skype die geskenke oop.

Daar’s die tradisionele Kersfees met die familie en my standaard-Kersete met my vriendin Charlene in die Kaap. Dan trek ek terug Pretoria toe vir vieringe met my broer en sy gesin wat pas teruggekeer het van Ierland, net om te wys dat hul broer nog kan kook! Die binne bende-Kersfees gebeur nie in ’n bepaalde tyd nie. Dit kan weke voor of ná Kersfees wees soos die vriende almal ’n geskikte tydjie kry om saam te vier. Daar is niks verkeerd met April as jy nie ander kans kry nie. Dan is daar ook ’n besoek aan ’n paar ouetehuise. Op dié manier rek ek my gunsteling-tyd van die jaar so lank as moontlik uit.

Nataniël se ses soorte Kersfees – Deel 1

Droom-Kersfees
Dis die oorsese wit een wat nooit gebeur nie, die plek wat in jou kop ’n gunsteling is, soos die een waar jy deur ’n nat Venesië plas. Baie van die drome is 90% disaster. Die wit Kersfees is een waarvoor jy rêrig moet beplan, want in Europa sneeu dit meestal in Januarie, nie in Desember. Maar jy kan dit voor die tyd deurdink en statisties uitwerk. Niemand sal meer moeite as dit kan indink nie. Dit neem soms 10 jaar. Dis een ding om daaroor te droom. Myne is om eendag my hele gesin in ’n villa in Toskane te versamel. Soos in die fliek My House in Umbria. (Ek is natuurlik Maggie Smith.) Die logistiek is verskriklik.

Maar as Jerusalem of Betlehem jou droom is, doen dit een keer. Of as jy ’n spirituele Kersfees wil beleef, gaan “trek” saam met Shirley MacLaine in die Andes. Party mense kan die Here vind onder ’n boom, ander moet ver reis. Ek hoop die medici wat dié tyd van die jaar iewers in nood gaan help, neem tinsel saam en as jy ’n gewonde in die hospitaal besoek, hang ’n ster bokant sy kop.

Stil Kersfees
Baie het daardie behoefte, maar is te bang. Jy moet dapper wees vir dié een. As jy dit betyds genoeg en diplomaties aan die familie en vriende oordra, sal hulle instem. Miskien kan jy begin met ’n gedig, dan ’n rolprent! Berei hulle deeglik voor. As jy ’n groot strandhuis het of by die see woon, laat weet al die wanted of unwanted gaste dat julle alleentyd soek. “Ons het behoefte om as gesin nader aan mekaar en die Here te beweeg. Julle kan die strandhuis in Julie kry. Dis net so mooi wanneer dit reën.” As daar wrywing in die familie is, bêre dit vir later. Dié is ’n Kersfees vir enige mens wat sy gesin of sy binneste wil red. Kersfees is die tyd om ’n skietstilstand te verklaar. Die drama het klaar afgespeel, dis hoekom ons Kersfees vier. As jy op jou tande kners omdat jou skoonma jou mal maak, is dié jou Kersfees. Dis die een tyd van die jaar dat ek bly is ek is nie getroud nie.

Nataniël se Kersfees

Kombuis-Kersfees
Dit begin maande voor Kersdag. Dit het niks te doen met sooibrand, hartomleidings of cholesterol nie. Dit gaan oor mense wat dink oor moeite, nie geld nie. Ek word nie kwaad oor ’n duur horlosie nie, maar die potjie vye move my net so. Dit gaan oor reuke en geure. Al die ou truuks werk nog: die naeltjies wat in die lemoen gedruk word, die bondeltjies kaneelstokkies op die tafel; vanieljepeule in die beddegoed en ’n geparfumeerde kers in die badkamer. Beplan jou oorskiet-toebroodjies vir die oggend ná Kersfees. Dit gaan oor die gedagte. Deeg wat oorgebly het nadat die vleispastei gemaak is, kan die volgende oggend baie mooi handtertjies maak.

Ten slotte
Dink hoekom jy Kersfees vier. Duisende mense glo nie aan die Kersverhaal nie. Los dit dan. Dit is die tyd om kinders, volwassenes en armes van gees te leer van rykdom, oorvloed, balans, afwagting, geloof en hoop. Trek mooi aan en drink minder.

Vertel ons! Hoe gaan jy Kersfees vier? Los kommentaar onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook– of Twitter-blad! Óf stuur ’n e-pos aan lucelle.hough@sarie.com.