FOTO: Clinton Lubbe

Hieroor praat mense

Nataniël se ses soorte Kersfees – Deel 1

Vanjaar hou hy ’n la-a-a-ng Kersfees – vier vieringe oor vier (of meer) dae. So rek Nataniël sy gunsteling-tyd van die jaar uit. Maar daar is ook ses ander soort Kersvieringe, sê hy, en dís hoe hulle werk …

Groot familie-Kersfees
Die belangrikste ding is dat almal nie in dieselfde huis ingeprop word nie. Dis die wonder van gastehuise. Spandeer geld vir die gevaar van die gewonde siel. Dis nie ’n tyd om
suinig te wees nie. Bestanddele moet ’n week voor die tyd gekoop word. Dit is wetenskaplik bewys dat kos se gehalte nie deur ’n vrieskas benadeel word nie. ’n Mens begin nie met ’n ingewikkelde ete die aand tevore nie. ’n Goue reël is dat die gasvrou die finale sê het oor wie bring wat. As dit by Ouma se huis is en sy raak te swak, moet iemand in die gesin die boedel beredder om ellende te vermy.

Elke familie skep hul eie kultuur wat soos jogurt blyvoortbestaan. Ouers moet voor die tyd praat oor geskenke. Elke gesin het ander finansiële behoeftes wat in ag geneem moet word. Een geskenk is uit. Eenvoud het sy plek, maar nie met Kersfees nie. Hou ’n geskenk of twee uit vir Kersdag. ’n Groot deel van Kersfees gaan vir ’n kind oor die oopmaak van pakkies.

Lees hier waaroor Kersfees vir Nataniël gaan

Weggee-Kersfees
Ons hou nie elke jaar met dieselfde intensiteit Kersfees nie. Dit is die dag wat jy veraf vriende, bure wat swaarkry of ou mense wat alleen in ouetehuise woon, onthou. Dit gaan nie oor geskenke koop nie, maar oor die moeite wat gepaard gaan met die maak van iets baie meer waardevol. My ouma het ’n reël gehad oor Kersfees. Sy het alles wat sy gemaak het verdubbel. Een brood was vir die gesin en die tweede vir die bure. Moenie mense verleë laat voel nie. Los die melktert op die stoep voor die deur en lui die klokkie. Dink oor wat jy gee. As die pappa van die huis drink, moenie ’n bottel wyn as geskenk vir die gesin aanbied nie. Kersfeeskos is feestelik en nie begrafniskos nie. Hardloop by ’n tuisnywerheid in, gryp ’n paar flessies konfyt en versier dit prettig vir geskenkies vir ’n ou tante of iemand êrens vergete.

Kerskaartjies kan nog teen April vreugde bring langs iemand se bed in ’n ouetehuis. Die kinders kan een middag met ’n bottel gom, papier en glitter unieke Kerskaartjies maak. ’n Fantastiese geskenk is ’n mandjie vol druiwe of bessies. As iemand ’n bakkie appels by jou kom aflaai, verdeel dit. Al wil ons graag, kan ons nie altyd aan almal gee nie. Kies een organisasie en maak dit jou prioriteit. Gee jou hart en gawes aan ’n organisasie wat gidshonde (soos klein Oldiva op die voorblad) oplei om blindes te help om makliker te funksioneer. Dit is ’n baie duursame proses en enige bydrae maak ’n groot verskil. Jy kan die kinders inspan om kreatief te help met fondsinsameling. Weggee het nie noodwendig finansiële implikasies nie. Dit gaan oor moeite.

Wegbreek-Kersfees
Dié is ’n moeilike een en neem ’n paar jaar om te beplan. ’n Gesin voel dalk hulle wil een jaar alleen iewers heen gaan, of dalk wil jy vir ’n slag alleen wegbreek. Sorg dat ouers en alleenlopers versorg is voor jy vertrek. Laai ’n vrag vol geskenke en bestanddele af. Almal moet lank voor die tyd ingelig word – vriende en familie. Almal moet een keer in ’n leeftyd wegbreek. Die roetine moet verbreek word om iets spesiaals te skep.

Nóg 4 soorte Kersfeeste volgens Nataniël … lees verder!

Vertel ons! Hoe gaan jy Kersfees vier? Los kommentaar onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook– of Twitter-blad! Óf stuur ’n e-pos aan lucelle.hough@sarie.com.