nelsonmandelaphoto
Hieroor praat mense

Madiba se magic steeds met ons

Vandag herdenk ons weer oudpresident Nelson Mandela se verjaardag. Ter ere van hom vier ons Mandela-dag sedert 2009. Die 67-minuut-veldtog vra dat jy nét 67 minute van jou tyd gee om iemand anders te help. Die minute verteenwoordig die 67 jaar wat hy vir sosiale geregtigheid geveg het. 

Nelson Mandela. Madiba. Tata. Vir die wêreld was hy ’n byna mitiese figuur. Skones, rykes en vernames het elke geleentheid aangegryp vir ’n foto saam met hom.

Maar hy was so nederig en het net so graag met gewone mense as bekendes gesels. Is dít nie wat ons in ’n ware held soek nie?

By SARIE het ons deur die jare ’n skatkis van Madiba-herinneringe versamel. Soos die vieringe toe hy 85 geword het. SARIE was een van maar ’n handvol tydskrifte wat genooi is, en ons redakteur, Michélle van Breda, het die Madiba-magic beleef by ’n makietie in Johannesburg wat deur duisend mense bygewoon is.

0109SR014_5

Ons verjaardaggeskenk tóé: ’n Voorblad spesiaal vir hom gemaak, geraam in goud.

Die feestelikhede was besprinkel met internasionale bekendes soos Bill en Hillary Clinton en hul dogter, Chelsea, die popsanger Bono, Oprah, supermodel Naomi Campbell, Hollywood-akteurs en koningin Beatrix van Nederland …

Maar ook honderde Suid-Afrikaners, gewone mense en bekendes soos Sandra Prinsloo en Amanda Strydom, Pik Botha, Constand Viljoen en Desmond Tutu, Bobby Skinstad, Joost van der Westhuizen en Breyton Paulse, Sol Kerzner, Mark Shuttleworth . . .

Die gehoor het reeds die oggend onder Bill Clinton se inhuldigingstoespraak spontaan “Happy Birthday Mr President’’ begin sing toe Madiba op die verhoog verskyn, vertel Michélle in haar redakteursbrief (September 2003).

“Die aand het die banketsaal ontplof toe hy die vertrek in ’n kenmerkende Madiba-hemp binneloop. Die spyskaart is deur hom opgestel – sy gunsteling-kos: Maleise lensiesop, braaihoender met aartappels, soetmielies, groente en malvapoeding met vanieljeroom. En saam met die koffie – koeksisters!

“Toe die ‘Queen of Africa’, Yvonne Chaka Chaka, haar verskyning op die verhoog maak en die gehoor aanpor om saam te dans en hande te klap, was Madiba uit sy stoel om sy Madiba-jive te doen. Dit was waarvoor die gaste gewag het! Hulle het gebrul van plesier.

“Laataand is hy daar weg sodat ‘die jongmense’ verder partytjie kon hou. Hy was die man van die oomblik en dit was die aand van ’n leeftyd.

“En altyd sal Bill Clinton se woorde daardie dag my bybly: Madiba het die wêreld die vryheid en vreugde van vergifnis geleer.’’

Dit was ook Suid-Afrika en Madiba se vergifnis wat Michélle geïnspireer het toe sy in 2002 as tydskrif-redakteur uit Afrika gevra is om na aanleiding van die 11 September-terreur in Amerika ’n stuk vir die Nederlandse tydskrif Libelle te skryf. Bydraes van oor die wêreld is ingesamel vir die projek Global Heart waardeur idees oor positiewe denke en ’n gees van eenheid uitgespreek is.

In haar redakteursbrief van September 2002 deel Michélle die slotparagrawe van haar stuk met lesers:

“Mense wat ondanks die hartseer en vrae van die verlede vandag bereid is om met waardigheid mekaar die hand te reik. Om ten spyte van politieke, kulturele en godsdienstige verskille te help bou aan ’n nuwe en beter toekoms vir ons almal. Mense, ’n nasie, wat bereid is om te vergewe.

“Sekerlik is dít die lig van Suid-Afrika en ’n les aan die wêreld. En dan is dit geen wonder nie dat hierdie land en hierdie kontinent een van die wêreld se grootste seuns en die kampioen van vergifnis kon oplewer: Nelson Mandela.’’

En al is Nelson Mandela nie meer fisies by ons nie, bly sy magic ons land raak en hoop gee.

Screen Shot 2016-07-18 at 2.31.18 PM

Soek jy iets om te doen met jou 67 minute – of ’n projek om in die toekoms betrokke te raak? Besoek forgood.co.za vir ’n verskeidenheid idees – skenk jou tyd, goed of sê hoe jy betrokke wil raak en hulle vind ’n saak waarmee jy kan help.