FOTO: Phyllis Green

Hieroor praat mense

NUWE STUDIE: Waarom ons gaap – en dit het niks te doen met verveeldheid nie …

’n Nuwe studie het bevind dat die rede waarom ons gaap eintlik niks te doen het met hoe moeg ons is of hoe vervelig die vergadering is nie, berig The Independent.

Volgens die nuwe studie wat verlede week gepubliseer is, gaap jy om jou brein af te koel, want dit help dat jy beter kan dink. Soos enige rekenaar werk die menslike brein op sy beste by ’n sekere temperatuur – en wanneer dit te warm word, help gaap om die brein af te koel. Lees dié studie, wat deur navorsers van Oostenryk en Amerika gedoen is, HIER.

’n Gaap verhoog jou hartklop en bloedvloei en lewer ’n groot hoeveelheid lug na jou kop, wat die bloed in daardie area laat afkoel.

Voorheen het navorsers gedink gaap laat ons wakker voel omdat dit vinnig suurstof in ons liggaam vrystel. Maar dit lyk nou of gaap nie primêr vir dié rede is nie.

Hoekom gaap ek terwyl ek vaak is?

Vaakheid en moegheid verhoog albei die brein se temperatuur. Daarom gaap ons om ons brein by die ideale temperatuur te kry.

En ja, ook dié studie bevestig dat gaap aansteeklik is. Dit is deel van ons trop-instink. En jy het moontlik minstens een keer gegaap terwyl jy dié artikel gelees het …

Bronne: The Independent en Elsevier