FOTO: Tim Robberts / Getty Images / Gallo Images

FOTO: Tim Robberts / Getty Images / Gallo Images

Hieroor praat mense

Ondersteun jou matriek-kind só

Soos die matriekresultate gister en vandag bekend gemaak word, is daar geen tekort aan emosies by matrikulante nie. Help jou kind om die resultate goed te hanteer; of daar nou teleurstelling of geluk is.

’n Paar feite van 2016 se uitslae:

442 672 matrieks het die 2016-eindeksamen geslaag.

– Dis tweede grootste getal leerlinge in die geskiedenis.

Vrystaat is vanjaar die provinsie wat die beste matriekuitslae in Suid-Afrika het.

– Maar die Wes-Kaap spog steeds met die toppresteerders.

– Die Oos-Kaap is die swakste met ’n slaagsyfer van 59,3%.

– In die Noordwes is daar altesaam 7 241 onderskeidings behaal.

Moets:

Anel Annandale, opvoedkundige sielkundige van Kaapstad:

  • Gee erkenning aan jou kind se teleurstelling.  “Moenie maak asof dit niks is nie. Jou kind het dikwels net nodig om te hoor dat jy sy teleurstelling verstaan.”
  • Wees geduldig, maar stel die grense. “Jou kind mag teleurgesteld wees, maar hulle moet dit nie op jou uithaal nie. Stel die grense, maar wees daar vir hom.”
  • Praat met jou kind oor die pad vorentoe. “Sit jou kind in beheer. En vra hom wat hy dink vorentoe sal moet gebeur.”

Cara Blackie, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg:

  • Luister. “Gee vir jou kind kans om sy teleurstelling te verwoord en emosies te lug.”
  • Gee perspektief. “Dikwels het jou kind goed presteer, maar hy is steeds teleurgesteld. Gee hom perspektief en lig sy goeie prestasies uit.”
  • Gee erkenning aan sy poging. “Die resultate reflekteer dalk nie hoe hard hy gewerk het nie. Gee hom die nodige erkenning.”

Moenies:

Cara Blackie:

  • Moenie vergelyk nie. “Moet nooit een kind se resultate vergelyk met dié van jou ander kinders nie. Dit kan sy selfbeeld beïnvloed.”
  • Moenie blameer nie. “Die teleurstelling van ’n kind wat slap getrek het en nou met die gebakte pere sit, is natuurlik ’n ander saak. Hier moet ouers waak om nie nou te blameer nie. Praat liewer later rustig met hom oor die situasie.

Anel Annandale:

  • Moenie jou teleurstelling op die kind plaas nie. “Dis natuurlik om ook teleurgesteld te wees, maar dis jou kind se teleurstelling wat eerstens gerespekteer moet word.”
  • Moenie onnodig kwaad raak nie. “Praat met hom of haar oor die realiteit van die resultate – as hy slapgelê het. Jou kind moet self verantwoordelikheid neem.”

Bronne: Cara Blackie, Anel Annandale en Netwerk24

Lees ook: