FOTO: Tim Robberts / Getty Images / Gallo Images

FOTO: Tim Robberts / Getty Images / Gallo Images

Hieroor praat mense

Ondersteun jou matriek-kind só

Soos die matriekresultate vandag en môre bekend gemaak word, is daar geen tekort aan emosies by matrikulante nie. Help jou kind om die resultate goed te hanteer; of daar nou teleurstelling of geluk is.

’n Paar feite van 2015 se uitslae:

  • Die Wes-Kaap is die enigste provisie waar die slaagsyfer verbeter het van 82,2% in 2014 na 84,7% in 2015.
  • Die Oos-Kaap het die slegste gevaar. Dié provinsie se slaagsyfer het van 65,4% in 2014 na 56,8% gedaal.
  • Suid-Afrika se slaagsyfer het met 5,1 persentasiepunte gedaal.
  • 60% van die matrieks is in die provinsies wat die swakste gevaar het, naamlik die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo.
  • 166 263 matrikulante het gekwalifiseer vir verdere onderrig by universiteite teenoor 2014 se 150 737 leerders.

Moets:

Anel Annandale, opvoedkundige sielkundige van Kaapstad:

  • Gee erkenning aan jou kind se teleurstelling.  “Moenie maak asof dit niks is nie. Jou kind het dikwels net nodig om te hoor dat jy sy teleurstelling verstaan.”
  • Wees geduldig, maar stel die grense. “Jou kind mag teleurgesteld wees, maar hulle moet dit nie op jou uithaal nie. Stel die grense, maar wees daar vir hom.”
  • Praat met jou kind oor die pad vorentoe. “Sit jou kind in beheer. En vra hom wat hy dink vorentoe sal moet gebeur.”

Cara Blackie, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg:

  • Luister. “Gee vir jou kind kans om sy teleurstelling te verwoord en emosies te lug.”
  • Gee perspektief. “Dikwels het jou kind goed presteer, maar hy is steeds teleurgesteld. Gee hom perspektief en lig sy goeie prestasies uit.”
  • Gee erkenning aan sy poging. “Die resultate reflekteer dalk nie hoe hard hy gewerk het nie. Gee hom die nodige erkenning.”

Moenies:

Cara Blackie:

  • Moenie vergelyk nie. “Moet nooit een kind se resultate vergelyk met dié van jou ander kinders nie. Dit kan sy selfbeeld beïnvloed.”
  • Moenie blameer nie. “Die teleurstelling van ’n kind wat slap getrek het en nou met die gebakte pere sit, is natuurlik ’n ander saak. Hier moet ouers waak om nie nou te blameer nie. Praat liewer later rustig met hom oor die situasie.

Anel Annandale:

  • Moenie jou teleurstelling op die kind plaas nie. “Dis natuurlik om ook teleurgesteld te wees, maar dis jou kind se teleurstelling wat eerstens gerespekteer moet word.”
  • Moenie onnodig kwaad raak nie. “Praat met hom of haar oor die realiteit van die resultate – as hy slapgelê het. Jou kind moet self verantwoordelikheid neem.”

Bronne: Cara Blackie, Anel Annandale en Netwerk24

Lees ook: