_MG_7061
Hieroor praat mense

Ons Canine Cuisine-wenner gee haar prys vir verdienstelike organisasie

SARIE en Canine Cuisine het verlede jaar ’n hondeliefhebber gesoek met ’n inspirerende optelhond-storie.

Megan van Wyngaardt se storie oor hoe sy vir Minkie gered het, het ons verbeelding aangegryp en sy was die uiteindelike wenner. Sy het R10 000 se hondekos van Canine Cuisine gewen om vir die dieresorgvereniging van haar keuse te gee.

Megan het besluit om die kos aan die Pets Empowerment in Townships te gee.

Sy sê dit was vir haar ’n baie moeilike keuse, omdat daar soveel verenigings in ons land is wat hulp nodig het – sy noem onder meer die DBV (Dierebeskermingsvereniging), Spokie se Diere Hoekie, Tears, Darg, Lucky Lucy, Wetnose, FORA, Woodrock.

Maar op die ou einde het sy Pets Empowerment in Townships gekies. Sy sê oor dié organisasie: “Hulle red honde wat niks anders as mishandeling ken nie. Baie van hulle leef hul lewe aan ’n ketting die lengte van ’n liniaal. Hulle kan nie eens wegkom van hul eie ontlasting nie. Dié honde verorber kos en water ná hulle gered is asof hulle dít nog nooit gesien het nie.

Sarie comp

[Dié organisasie] red ook sieklike, onversorgde tewe wat in die townships ronddwaal op soek na kos om hul werpsels te voed. Hulle het ook massa-sterilisasieveldtogte om te verhoed dat nóg diere in dieselfde omstandighede leef.

Één van hierdie honde is Smokey (onder) wat nou ’n huis soek.

Lees meer oor Pets Empowerment in Townships HIER.

Ons wenner Megan van Wyngaardt

Megan het haar eie Facebook-bladsy, Staffordshire Terrier Rescue South Africa, begin, want daar het nie so iets in SA bestaan nie. Hier word mense wat hul staffordshire-bulterriërs (staffies) wil weggee in aanraking gebring met mense wat sulke honde graag wil aanneem. Sy het die idee gekry nadat sy ’n staffordshire-bulterriër aangeneem het.

Dié hond het ongelukkig nie oor die weg gekom met haar ander honde nie en sy moes hom na ’n dierevereniging neem (omdat daar toe nog geen Facebook-blad soos hare bestaan het nie).

Hiér het sy vir Minkie gesien en haar aangeneem. Minkie het uit frustrasie met die hondehok waarin sy moes bly die vel van haar gesig afgekrap. Haar sterilisasie was ook nie reg gedoen nie.

Nou het Minkie ‘n gelukkige huis saam met Megan gevind.

Ons het Megan as wenner gekies oor die volgehoue ondersteuning wat sy aan optelhonde gee en omdat sy vir Minkie ‘n tweede kans gegee het.

Lees ook