FOTO Roger Sedres/Gallo Images

FOTO Roger Sedres/Gallo Images

Hieroor praat mense

Ons trots SA sport-oomblikke …

Met die aankondiging van die eerste 24 lede van ons Olimpiese span is ons opgewonde oor Rio. Ons kyk terug op ons sporthoogtepunte.

Van atletiek tot rugby, boks tot gholf, swem en sokker tot motorwedrenne! Daar is soveel gebeure waarop ons trots kan wees en wat wonderlike herinneringe herroep – van die mense saam met wie jy dit gekyk het, jou held wat wen of net die opwinding van die oomblik. Sport sal altyd inspireer. Hier is ’n paar van ons onthou-oomblikke.

Wêreld-atletiekkampioenskap, 2015

Wayde van Niekerk wen die goue medalje in die 400 m in Beijing. Hy was ná die tyd só uitgeput dat hy in die hospitaal opgeneem is vir waarneming. Sy antwoord op wat hom in die laaste paar treë in die pylvak gedra het?

“Alles gebeur so vinnig … die laaste 100 m het ek besef ek is voor. En toe het ek myself net gedruk om voor te bly!”

Afrika-nasiesbeker, 1996

Dit was Suid-Afrika se tweede deelname aan hierdie toernooi, waarvan ons dié keer ook die gasheer was. Op 13 Januarie 1996 klop Bafana Bafana vir Tunisië met 2-1 in die eindstryd en sorg die trofeeoorhandiging by Soccer City vir ’n gewigtige oomblik.

Kaptein Neil Tovey ontvang die trofee van oudpres. Nelson Mandela.

Olimpiese Spele in Athene, 2004

Roland Schoeman, Lyndon Ferns, Darian Townsend en Ryk Neethling wen die
4 x 100 m-vryslagaflos in 3:13.17, ’n nuwe wêreldrekord.

Formule 1-kampioenskapsreeks vir renjaers, 1979

Jody Scheckter wen die reeks in sy Ferrari. Die seisoen het in 1979 uit 15 renne bestaan waarin jaers punte vir die titelstryd kon versamel.

Hier is ’n video van Jody en SA se groot oomblik toe Scuderia Ferrari in Italië die Grand Prix gewen het.

OULIKSTE FOTO’S: Die drie Protea-babas in krieketklere

Olimpiese Spele in Atlanta, 1996

Penny Heyns is steeds die enigste vrou in die geskiedenis van die Olimpiese Spele wat die 100 m- en 200 m-borsslag gewen het.

Wêreldbekerrugby, 1995

Wie sal ooit die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 vergeet? Selfs al was jy ’n baba of nog nie eers gebore nie, bly hierdie oomblik in SA se geskiedenis groot. Die Springbokke, gelei deur Francois Pienaar, klop die All Blacks op 24 Junie in die eindstryd op Ellis Park met 15-12 om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.

Kyk hier na die emosionele oomblik as die Springbokke en oudpres. Nelson Mandela die volkslied sing voor die wedstryd teen Nieu-Seeland.

En onthou jy die legendariese Joel Stransky-skop?

My lewe saam met ’n professionele sportman

Wêreld-atletiekkampioenskap, 2009

Caster Semenya wen die titel in die 800 m in ’n tyd van 1:55.45 om met ‘n goue medalje huis toe te kom.

Sy wen ook die silwermedalje by die Wêreld-atletiekkampioenskap in 2011 en die Olimpiese Spele in 2012 in dié item.

Die Jonty Rhodes-“run out”

Die Wêreldbeker-kriekettoernooi van 1992 was die eerste keer dat die SA krieketspan toegelaat is om weer te speel ná die isolasiejare. Ons onthou die wedstryd teen Pakistan vir die jonge Jonty Rhodes (toe maar 22 jaar oud) se legendariese uithardloop van die kolwer Inzamam-ul-Haq. Ons sien nog hoe die jong seun sy alles gee en homself oor die paaltjies gooi. Suid-Afrika het die wedstryd met 20 lopies gewen.

Sien video van die oomblik.

Luister hier ook na die kommentaar tydens Jonty se oomblik:

“Jonty Rhodes knew there was a chance, decided not to throw, other than himself. He gets there first, and wipes everything out.”

Hestrie Cloete

In 2001 en 2003 wen sy die goue medalje in hoogspring by die Wêreld-atletiekkampioenskap. Mens sou kon sê 2001 tot 2003 was haar glansjare, met goue medaljes wat sy in 2002 by die Statebondspele en die IAAF-wêreldkampioenskap verower het.

Sy het silwermedaljes by die Olimpiese Spele in 2000 en 2004 gewen.

Rugbyspyskaart vir die naweek

Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk, 2007

Suid-Afrika hou vir die tweede keer die Webb Ellis-trofee omhoog nadat hy Engeland met 15-6 klop.

Percy Montgomery het die meeste punte (105 punte) tydens hierdie toernooi aangeteken en Bryan Habana het die meeste drieë gedruk.

Olimpiese Spele in Londen, 2012

Niemand het hierdie wen sien kom nie. Die gasheerland het gehoop hul mans-roeispan wen hierdie goud, aangesien die vrouespan ’n paar dae vroeër ook gewen het. Boonop het Denemarke wat by die vorige spele gewen het ook hul oog op die goud gehad.

Sport24 het berig dat James Thompson, Matthew Brittain, John Smith en Sizwe Ndlovu nie oor die eerste 1 500 m na sterk kompetisie vir Denemarke en Brittanje gelyk het nie. Dit was in die laaste kwart wat hierdie vier roeiers alles uitgehaal het vir die wen.

Kyk net hoe opgewonde was die span!

Britse Ope Kampioenskap by Royal Lytham & St Annes, 2012

Ernie Els het die Ope Kampioenskap in 2002 by Muirfield gewen, maar 2012 is die jaar wat almal onthou omdat niemand, ook nie Ernie, dit verwag het nie. Daardie jaar stap hy met dié gesogte trofee weg – 10 jaar ná sy vorige deelname en eerste wen in die Britse Ope Kampioenskap.

Hy het ook al twee keer die Amerikaanse Ope, in 1994 en 1997, gewen.

Ernst van Dyk

Die rolstoel-atleet Ernst van Dyk hou die rekord vir die meeste oorwinnings in die Boston-marathon. Hy het al 10 gewen! Verder het hy ook al goud in die Parys-, New York- en Los Angeles-marathon, asook die Great North Run in Engeland gewen.

Hy het ook in 2000, 2004 en 2008 aan die Olipiese Spele deelgeneem en elke keer ’n plek op die podium gehad.

Dakar-tydren, 2009

Giniel de Villiers en sy navigator Dirk von Zitzewitz wen dié uitmergelende tydren. Sedert Giniel in 2003 begin deelneem het, het hy nog net een jaar (2007) nie in die top-10 geëindig nie. Volgens Toyota Motorsport, vir wie hy nou ry, is ’n wen steeds sy doelwit.

Corrie Sanders teenoor Wladimir Klitschko

In 2003 het Corrie gereed gemaak vir een van sy grootste gevegte nóg: ’n boksgeveg teen een van die Klitschko-broers, Wladimir, om die titel WBO-swaargewigkamioen.

The Ring Magazine kies elke jaar een geveg wat ’n resultaat gelewer het wat niemand verwag het nie, hul Upset of The Year. In 2003 was Corrie Sanders se oorwinning oor Wladimir Klitschko die grootste skok.

Kyk hier onder na ’n uittreksel van dié geveg.

Ná die skielike dood van Corrie in 2012 het die Klitschko-broers gesê:

We will remember Corrie as a great person both inside and outside the ring. He was a great fighter with a big heart who always positively represented the sport of boxing.

En, natuurlik, 2010 se FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi

Onthou jy Siphiwe Tshabalala se doel? Jy kon uit elke woonstelkamer en in die strate ’n gejuig en beslis ’n vuvuzela gehoor het!

Herleef daardie oomblik in dié video:

BRONNE: Kickoff, BBC, Toyota Motorsport, Netwerk24, The Open

Watter sportherinnering sal jou altyd bybly?

Lees ook

Energie-smoothies vir jou sportnaweek

FOTO’S: Kombuistee van rugbyspeler Jan Serfontein se verloofde