jag
Hieroor praat mense

Ontmoet die ‘Klein-Karoo’-akteurs by dié Valentynsdag-piekniek

Die JAG Foundation, ’n liefdadigheidsorganisasie wat SARIE ook ondersteun, bied ’n romantiese piekniek en fliek by Eaglevlei-wynplaas in Stellenbosch. Die fondse wat ingesamel word stel JAG in staat om verskeie noodsaaklike lewensvaardighede aan kinders te leer.

Jy kry nie slegs eetgoedjies by dié geleentheid nie, maar ook die kans om die nuwe Afrikaanse film Klein-Karoo te kyk! Dit beloof om ’n romantiese aand onder die sterre, saam met die sterre te wees, aangesien jy die geleentheid kry om saam met die akteurs en aktrises van dié film te kuier!

Klein Karoo vertel die storie van ’n onderwyseres wat met alle mag en mening ’n sentrum by ’n  plaasskooltjie wil oprig om ’n veilige hawe vir kinders te bied. Maar dié stukkie grond is te koop en nie een van die moontlike kopers, nie eens haar eie verloofde, stel belang in dié projek nie. 

Van ons land se mees talentvolste akteurs speel in dié rolprent, soos Donnalee Roberts, Tim Theron, Amalia Uys, Hykie Berg en Anel Alexander.  

Die JAG Foundation en die Klein-Karoo-filmspan het nie slegs hande gevat vir dié Valentynspiekniek nie, maar hulle werk ook saam om die gemeenskapsprojek in die film op die been te bring. By dié sentrum sal die JAG Foundation verskillende aktiwiteite vir die kinders aanbied, onder andere die JAG Runners- en JAG Riders-programme (’n hardloop- en fietsry-program onderskeidelik). Hulle gaan ook etes aan die kinders verskaf én hulle help met huiswerk en take.

Só kan hierdie kinders leer droom én hul drome nastreef, ongeag uit watter omstandighede hulle kom.

Hoe kry jy ’n kaartjie?

Kaartjies vir die JAG Valentynsdag piekniek beloop R380 per paartjie. Kaartjies vir enkellopendes is beskikbaar op aanvraag. 

Elke kaartjie wat verkoop word stel die JAG Foundationin staat om kinders noodsaaklike lewensvaardighede te leer, en sodoende alternatiewe lewenswyses te bied – weg van alkohol-, dwelmmisbruik, bendebedrywighede en talle ander sosiale kwessies.

Vir meer inligting of kaartjieverkope kontak Magdél Steyn by magdel@jagfoundation.org.za of 074 102 4851, of besoek www.jagfoundation.org.za

Valentynsdagpiekniek

HIERONDER is die lokprent vir Klein Karoo wat Vrydag, 1 Februarie in teaters begin draai.