Elsabé Brits
FOTO Liza van Deventer

Elsabé Brits FOTO Liza van Deventer

Hieroor praat mense

Op ‘reis’ met Emily

Toe Elsabé Brits op ’n dag ’n tienerboek oor die Britse weldoener Emily Hobhouse in ’n tweedehandsboekwinkel ontdek, het sy nooit kon dink dit sou die begin wees van ’n ontdekkingsreis wat haar lewe oorneem nie . . . Net sodat sy reg kon laat geskied aan ’n besonderse vrou se verhaal.

Twee jaar lank het joernalis Elsabé Brits intensiewe navorsing in drie lande gedoen: Suid-Afrika, Engeland en Kanada. 

Die uiteinde? Die boek Emily Hobhouse: Geliefde verraaier.

“Om dit te skryf was ’n ‘fantastiese hel’. Ek het dit drie keer herskryf binne ’n jaar,” sê Elsabé.

Maar sy sal dit weer doen. Al het dit beteken dat sy, bo en behalwe haar heeltydse werk as Die Burger se wetenskap-spesialisjoernalis, Projek Emily ná werk en oor naweke moes inpas. “Dit neem jou lewe oor.”

Daar was hope uitdagings: sy moes gedissiplineerd skryf, dikwels onder druk werk, kophou met reisreëlings. “Soms het ek gevoel I’m losing the plot . . .”

Dit het begin toe sy in 2013 in ’n tweedehandsboekwinkel op Prins Albert die tienerboek Heldin uit die vreemde (oor Emily) deur Rykie van Reenen ontdek. Dít het haar aangespoor met haar “reis” op die spore van Emily. Drie Burger-artikels later het sy besef daar steek ’n boek in dié verhaal. 

Maar waar begin jy delf? “My 23 jaar as ondersoekende joernalis het my baie gehelp. Ek het gebel, rondgevra, weer gebel, baie gekrap, op die internet nagevors. Ek het op Jennifer Hobhouse Balme (Emily was haar groottante) op Vancouver-eiland, Kanada, afgekom. Sy het trommels vol van onder meer Emily se persoonlike briewe, dagboeke en plakboeke.”

Sy het ook in Suid-Afrika in talle argiewe rondgekrap. “Ek het selfs haar onvoltooide outobiografie bestudeer.” Elsabé vertel ook van die rompslomp om toegang tot die Britse Biblioteek in Londen te kry. “Dis nie oop vir die publiek nie en het weke se e-posse en administrasie geverg.” Sy het ook Emily se geboortehuis in St. Ive in Cornwal, Engeland, en die huis waar sy oorlede is in Kensington, Londen, besoek.  

Elsabé se oë verhelder as sy vertel wat sy oor Emily geleer het. “Sy was nie ’n ou tannietjie wat maatskaplike werk gedoen het nie, maar het haar sedert kleintyd verset teen vroue se lot. Sy was ’n suffragette (vroue wat vroeër jare geveg het vir die stemreg van vroue) en was wêreldwyd betrokke teen onreg en oorlog en het derduisende menselewens gered. Sy kon haar politieke standpunte, wat weldeurdag was, in elegante Engels motiveer. Maar sy is in haar eie land misken en het onbekend en alleen gesterf. Mense moet dít weet,” sê Elsabé vurig.

“Die boek vertel hoe sy die konsentrasiekampe in SA ’n paar keer besoek het om hulp te verleen. Sy was ook verpletter oor die uitwerking van die Britte se beleid van verskroeide aarde. Sowat 30 000 plase is afgebrand, die boere het geen vee gehad nie en daar was hongersnood. Emily het ná die oorlog in ’n opheffingspoging die eerste ‘tuisnywerheid’, ’n spin-en-weefskool op Philippolis, begin om vroue te leer om klere van skaap- en angorawol te maak. Dít het landwyd uitgebrei. 

“Ons moet besef sy was nie soseer vír die Boere en kinders as wat sy téén oorlog gekant was nie – dit is ’n groot verskil.”

(Emily het dus nie haar eie land, Brittanje, versaak nie, maar sy het dit gedoen omdat sy in wese gekant was teen alle oorlog.) 

 “Sy wou in 1915 ’n einde aan die Eerste Wêreldoorlog in Europa maak en sluit toe aan by die Women’s International Peace Movement en besoek Duitsland, teen die Britse regering se wil, waar sy baie goeie werk gedoen het.”

 Dit het internasionaal opslae gemaak dat sy die Britse regering van die dag dúrf teengaan. Dís juis wat Elsabé roer.

“Al was sy gehaat, het sy bly veg vir menseregte. Almal kyk na
hoe sy ánder gehelp het. Maar wat het dit aan háár gedoen? In haar onvoltooide outobiografie skryf sy: ‘Wat my eerste opval, is die talle foute wat ek in my lewe gemaak het. Hoeveel keer is ek nie verkeerd verstaan nie – byna volkome weens my onvermoë om myself uit te druk.’ ” Dít maak Elsabé hartseer.

Om dié rede hoop sy ook die ware verhaal van Emily kan eendag in ’n Britse rolprent uitgebeeld word. “Haar naam moet in ere herstel word onder haar éie mense.”        

WEN

10 lesers kan elke die boek Emily Hobhouse: Geliefde Verraaier (Tafelberg, R320) en ‘n bottel Emily-gedenkwyn van die wynlandgoed Longridge wen. Klik HIER om in te skryf. Sluitingsdatum is 31 Augustus 2016.