FOTO Unsplash / Oli Dale

Hieroor praat mense

Probeer dié slim sisteem vir e-posse

Januarie is reeds in sy derde week en al wat jy sien is e-posse, e-posse, e-posse. Nes jy dink jy’t jou inboks onder beheer kom daar nog ’n berg boodskappe in. Hoe gaan jy ooit by alles uitkom? Goeie nuus – hier is ’n eenvoudige manier om jou e-posse te sorteer En jy benodig net vyf afdelings (folders).

Volgens die webtuiste Fast Company sal hierdie sisteem jou lewe aansienlik makliker maak.

Hier’s jou vyf afdelings:

1. Inboks

Sien dit as ’n tydelike “kraal” vir al jou e-posse. Tensy jy onmiddellik op ’n e-pos reageer, moet al jou boodskappe so gou moontlik in een van die ander vier afdelings geliasseer word.

2. Vandag

Hierdie is slegs e-posse wat vandag ’n antwoord vereis.

3. Die week

Dit is boodskappe wat voor die einde van die week beantwoord moet word.

4. Die maand / kwartaal

Hierdie e-posse is minder dringend en kan wag vir later. Moet net nie van hulle vergeet nie!

5. VJI (vir jou informasie)

Dis alle e-posse wat inligting bevat wat jy in die toekoms weer gaan benodig.

Onthou, dit verg ’n bietjie dissipline om die sisteem toe te pas. Sorteer jou e-posse elke paar uur om te verhoed dat die boodskappe ophoop.

FOTO Unsplash / Oli Dale

FOTO Unsplash / Oli Dale

Volg dié vyf wenke om die sisteem te bemeester

• Moenie jou inboks as een groot doen-lysie hanteer nie. Gebruik eerder jou dagboek hiervoor. Só verhoed jy dat belangrike korrespondensie verlore gaan in ’n deurmekaar inboks.

• Prioritiseer. Almal wil dalk vandag nog ’n antwoord hê, maar dit is nie altyd moontlik of nodig nie.

• Werk sistematies. Maak eers jou Vandag-afdeling leeg voordat jy na die volgende afdelings oorslaan.

• Indien jou werk projekgebaseer is, kan jy elke projek in dieselfde vyf afdelings indeel.

• Moenie te veel ekstra werk aanpak of ander se verantwoordelikhede op jou neem nie.

Ons hoop dat hierdie stappe jou stresvlakke in 2017 aansienlik sal verlaag en jou sal help om meer georganiseerd te bly.

Bron: fastcompany.com