FOTO Instagram /@sharonosbourne

FOTO Instagram /@sharonosbourne

Hieroor praat mense

Grys egskeiding: Ozzy & Sharon

TV-persoonlikheid Sharon Osbourne het dié week aangekondig dat sy en haar rocker-man, Ozzy Osbourne, gaan skei. Die paartjie was byna 34 jaar lank getroud en ken mekaar al vir 44 jaar.

Sharon het op haar kletsprogram The Talk erken dat sy Ozzy uit die huis geskop het. “Ek is 63 jaar oud en ek kan nie meer so leef nie,” het sy op dié program gesê.

Gerugte dat Ozzy ontrou was, is ook besig om die ronde te doen. Sharon het met ’n glas limonade op dié kletsprogram verskyn. En haar dogter, Kelly Osbourne, het ’n foto van haarself en ’n suurlemoen op sosiale media geplaas. Die limonade en suurlemoen as simbool van ontrouheid is onlangs deur Grammy-wenner Beyoncé uitgelig in haar album Lemonade.

Guess who’s turning ‘s into #lemonade?

A photo posted by Kelly Osbourne (@kellyosbourne) on

Sharon het haar aanhangers op sosiale media bedank.

 


Die grootste rede waarom paartjies ná dekades skei

Maar nie alle egskeidings is as gevolg van ’n buite-egtelike verhouding nie. In 2014 het die studie Gray Divorce: A Growing Risk Regardless of Class or Education bevind dat al meer paartjies skei omdat hulle mekaar ontgroei het. Die studie is deur die Universiteit Bowling Green in Ohio gedoen en gray divorce is ’n Amerikaanse term vir paartjies wat in hul 50’s en ná dekades van getroude lewe skei.

Volgens Marianna Jooste, ’n sielkundige in Kaapstad, skei ouer paartjies dikwels omdat hulle mekaar ontgroei.

“Dis kompleks, maar in die meeste gevalle het paartjies by mekaar verbygeleef en mekaar in die proses ontgroei. Met die kinders uit die huis, is dit ook aansienlik makliker vir ’n paartjie om te skei. Dikwels vind een van hulle die verhouding nie meer bevredigend nie en voel hy of sy wil vir die eerste keer alleen staan,” het Jooste aan SARIE.com vertel.

Happy Anniversary @ozzyosbourne. 34 years married, 36 years a couple, 45 years friends.

A photo posted by Sharon Osbourne (@sharonosbourne) on

Maar Jooste meen só ’n egskeiding kan dikwels traumaties wees.

“Vir albei, want vir die eerste keer ná dekades is jy sonder jou maat. En jy weet dalk nie meer wie jy is sonder jou maat nie. Dis ’n proses.”

In 2014 het Sharon in ’n onderhoud met kletskoning Larry King vertel hoe sy nie haar die lewe sonder Ozzy kan indink nie.

Toe die aktrise Susan Sarandon en akteur Tim Robbins se paadjies in 2009 ná 21 jaar geskei het, het sy ook vertel dat hulle mekaar eenvoudig ontgroei het, berig The Guardian. Die paartjie was nooit getroud nie.

Jooste sê indien een van hulle nie wil skei nie, moet ’n poging tot kommunikasie aangewend word.

 

Red só jou huwelik

As julle jul trots sluk, mekaar vergewe, steeds waarde heg aan die verhouding en saamwerk aan oplossings, kan julle deur ’n moeilike fase kom, sê Elise Beeby, ’n kliniese sielkundige. Selfs ’n buite-egtelike verhouding, siekte, sterfte of verhuising kan dan hernuwing beteken, sê sy.

• Besoek saam ’n huweliksterapeut om die sterk en swak punte van jul verhouding te identifiseer en ’n bouplan vir jul verhouding op te stel.
• Hersien jul verwagtinge.
• Erken dit wat seermaak.
• Kry saam oplossings vir elke probleem. Konsentreer op die spesifieke. Sê bv. “Ons het een keer per maand seks. Ek sal gelukkiger wees met weeklikse seks.”
• Hou by die feite, bv. “Verlede maand was die kredietkaartskuld R950, maar ons het op R300 ooreengekom.”
• Help mekaar om jul doelwitte te bereik en werk aan konflikhantering, woedebeheer en luistervaardighede.
• Beoefen saam stokperdjies.
• Trou weer.
• Weerhou julle tydelik van seks en leer mekaar weer ken.
• Een van julle kan vir 30 dae uit die huis trek.
• Bring gehaltetyd saam deur.
• Kyk op ’n nuwe manier na mekaar. Aanvaar mekaar, foute en al.
• Doen elke vyf jaar saam ’n huweliks- of verhoudingswerksessie.

 Lees nou

Dilemma: Ek hunker nog na my eks

Dilemma! Pasgetroud en nou is ek spyt

Dilemma! My tweede huwelik is vol komplikasies