Hieroor praat mense

Pa, jy ís nodig

Die feminis Gloria Steinem het gesê: “’n Vrou sonder ’n man is soos ’n vis sonder ’n fiets.” Ja, Meneer, dit lyk asof jy oorbodig geword het. Selfs vir bevrugting kan ’n anonieme skenker se saad gebruik word. Of praat ons nou te gou?

Terwyl mans worstel om hul rol in ’n veranderende samelewing te definieer, staan een ding soos ’n paal bo water: pa’s se unieke bydrae tot hul kinders se ontwikkeling. Dít terwyl statistieke toon die pa’s van sowat 57% van alle Suid-Afrikaanse kinders en 63% van swart kinders, was in 2002 “afwesig” of dood. (Aldus Linda Richter en Robert Morrell se boek, Baba: Men and Fatherhood in South Africa, HSRC Press, 2006).

Soos prof. Lize Booysen, hoogleraar in organisasie-gedrag en leierskap aan Unisa se nagraadse skool vir bedryfsleiding en ook kliniese sielkundige, tereg sê: “’n Gesin kan vandag bestaan uit twee ma’s, twee pa’s, net ’n pa, ’n ma, of ouma en oupa. Dis nie noodwendig negatief nie, net anders. Kinders én ouers pas daarby aan.”

Sy verkies dus om van ’n “afwesige ouer” eerder as afwesige pa te praat. Want ’n afwesige ma (fisiek of emosioneel) kan ’n kind net soveel skade berokken. Liefde, geborgenheid, konsekwentheid, dissipline, struktuur en kwaliteit-aandag: Dís die dinge wat belangrik is vir ’n kind se emosionele ontwikkeling en groei.

Inderdaad. Baie enkelma’s sloof hulle af en maak kinders groot wat eendag goeie landsburgers sal wees. Maar navorsing toon ook: Waar Pa uit die gesin is, kán dit ernstige gevolge inhou vir die kind.

5 soorte pa’s

Jou suksesse of mislukkings in die werkplek kan teruggevoer word na watter soort pa jy gehad het, aldus die Amerikaanse sielkundige Stephan Poulter in die boek The Father Factor (Prometheus Books, 2006). Hy noem vyf soorte pa’s wat ’n geweldige uitwerking op hul kind se loopbane kan hê: Die super-presteerder, tydbom, passief, afwesig en deernisvolle mentor.

 

  1. Die super-presteerder-pa: Niks wat jy doen, is ooit goed genoeg vir jou pa nie. Jy kan dalk rebelleer en onderpresteer. Of jy kan ’n tradisioneel gerespek-teerde beroep volg, soos medies of regte, in ’n poging om Pa se goedkeuring te wen. Hy het jou waarskynlik geleer om gedissiplineerd, doelgerig en produktief te wees.
  2. Die “tydbom”: Omdat hy enige tyd in woede kon uitbars, het jy vroeg geleer om mense se buie te “lees”. Jy kan dus ’n goeie personeelbestuurder of onderhandelaar wees. Maar omdat jy konflik haat, ook ’n draadsitter. Jy kan dalk sukkel om mense te vertrou.
  3. Die afwesige pa: Sowat 40% van pa’s val hieronder. Jy ervaar waarskynlik verwerping, woede en aggressie. Jy kan gedrewe wees om goed te doen en oorpresteer. Of soveel woede teen gesagsfigure ontwikkel dat jy liefs vir jouself moet werk. Vroue kan oorkompenseer en die tipe baas wees wat werknemers vir ontbyt opeet.
  4. Die passiewe pa: Hy is nie emosioneel by die gesin betrokke nie. Jy is ’n harde werker, maar emosioneel op ’n afstand.
  5. Die deernisvolle mentor: Hy ondersteun jou om die beste van jou talente te maak. Ook jy kan ’n mentor vir die mense om jou wees.
 

Michael E. Lamb, Amerikaanse kindersielkundige, het pa’s sowat 30 jaar gelede al die “vergete bydraers tot kinderontwikkeling” genoem. En vandag verwys Psychology Today na vaderskap as ’n unieke en komplekse verskynsel met reusagtige gevolge vir die kind se emosionele en intellektuele groei.

Studies toon jy kan op drie maande reeds onderskei dat jy ’n ma én pa het. Jy het dan reeds ’n begrip van jouself met pa en jouself met ma. Navorsing toon ook die pa speel meer met peuters en voorskoolse kinders as die ma – kinders verkies dan ook om met Pa te speel. Pa’s en ma’s se speelstyl verskil: Pa kielie meer, stoei en gooi die kleintjie in die lug. Hy moedig mededinging aan by die kind, die ma gelykheid. Hy moedig onafhanklikheid aan, sy sekuriteit.

In Life Without Father: Disappearing Dads Are Destroying Our Future (Free PR, 1996) gebruik David Popenoe die metafoor: “Ma gee die wortels, Pa die vlerke.” Pa práát ook anders, sê die webblad www.headstartinfo.org, terwyl Ma haar woorde vereenvoudig en op die kind se vlak praat. Pa nie. Hy daag die kind uit om sy woordeskat uit te brei – ’n belangrike boublok vir akademiese sukses.

En navorsing toon as albei jou ouers by jou opvoeding betrokke is, hét jy ’n voorsprong. Jy het waarskynlik beter kognitiewe en motoriese vaardighede, is gesonder en beter aangepas, kan probleme beter oplos, en het meer selfvertroue en empatie. Jy is ook nuuskieriger en geduldiger.

Dis net die puntjie van die ysberg. James de Villiers, voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad, onderskei twee tipes afwesige pa’s: Die fisiek afwesige pa wat bv. tydelik oorsee is vir werk of lang ure werk, maar steeds moeite doen om ’n goeie emosionele verhouding met sy kind te hê. En die emosioneel afwesige een wat fisiek aanwesig óf afwesig kan wees, maar nie werklik emosioneel by sy kind betrokke is nie.

“Jou welsyn as kind hang eerstens van jou ouers se verhouding met mekaar af, en nie die liefde wat jou ouers teenoor jou betoon nie. Dit geld as jou ouers bymekaar óf geskei is. As Pa slegs fisiek (veral tydelik) afwesig is en die intimiteit tussen jou ouers goed is, doen dit nie soveel skade nie. As hy fisiek én emosioneel afwesig is, sukkel Ma dikwels self om emosioneel te oorleef. Sy kan jou dan óf oorbeskerm óf self emosioneel afwesig wees. Jy moet dan elders emosionele sekuriteit soek.”

James sê hy vind jeugmisdadigers se pa’s is feitlik altyd emosioneel afwesig (geskei óf steeds getroud met Ma). Só ook kinders (veral seuns) wat die skool aan die einde van gr. 9 of 10 verlaat. Dan is daar ’n sterk neiging dat kinders van fisiek én emosioneel afwesige pa’s later in hul huwelike met intimiteit sukkel.

Hulle raak dikwels afhanklik en kompenseer vir die emosionele verlies van ’n pa deur óf baie liefde te gee, maar sukkel om te ontvang (die redder). Óf hulle soek na al meer liefde, maar sukkel om dit self te gee (die slagoffer of aggressor).

Skoolmeisies wat swanger raak, het dikwels emosioneel afwesige pa’s. Sy soek emosionele sekuriteit by die seun en sê moeilik “nee” vir seks, want sy vrees verwerping (dubbele verwerping, omdat sy deur Pa verwerp voel), sê hy.

James se ervaring word deurgaans deur navorsing bevestig. Kinders uit gebroke huise se kanse is twee tot drie keer groter om as tieners en jong volwassenes probleme te kry. Dit sluit in jeugmisdaad, tienerswangerskappe en swak prestasies op skool.

Statistieke 

in SA 

Sowat 3% van ons totale bevolking is geskei. Van die sowat 1,56 miljoen vroue met babas jonger as twee jaar, klassifiseer meer as die helfte hulself as enkelouers.
*Inligting verskaf deur die Eighty20-verbruikersinligtings-portaal.

 

Wat jou laat wonder: Is dít ’n oorsaak vir die hoë misdaadsyfer in SA?
Maar Irma Labuschagne, kriminoloog van Pretoria, sê die oorsaak van misdaad is nooit eenvoudig nie – jy kan nie ‘n enkele aspek die skuld gee nie. Die afwesigheid van ’n pa kan ’n bydraende faktor wees, veral by seuns. Maar om te sê “omdat daar baie afwesige pa’s is, lyk misdaad só”, is ’n veralgemening en ’n komplekse saak word oorvereenvoudig.

Jou ouers is geskei, wat nou?
As jy gelukkig is, is jou pa nog steeds baie betrokke by jou. Sebastian Kraemer skryf in Narrative Therapies With Children And Their Families, redakteurs: Arlene Vetere en Emilia Downing (Brunner/Routledge, 2005):
“Daar is statistiese bewyse dat dit voordelig is vir ’n kind as albei ouers by sy opvoeding betrokke is, selfs al is hulle geskei. Samewerking tussen ouers is moeiliker, maar waarskynlik nog belangriker.

“As ouers skei, is dit altyd pynlik vir die kinders. Maar die meeste skade word aangerig as daar onopgeloste en onversoenbare konflik tussen die ouers is, apart óf saam. Hoewel jy dalk dink jou kind sien dit nie raak nie, is die kwaliteit van ouers se verhouding altyd vir hom/haar belangrik.”

Irma voel as ouers skei, moet die ma daaraan werk dat die kinders hul respek vir hul pa behou. Al voel jy hóé negatief teenoor hom. Dis die grootste geskenk wat jy jou kinders kán gee. “Moenie jou volwasse probleme op jou kinders se skouers laai nie. Sê aanmekaar: ‘Mamma en Pappa is ewe lief vir julle.’ Moenie hulle vertel hoe sleg hul pa is nie, en hoe sleg die ‘ander’ vrou in sy lewe is nie. Dieselfde geld vir die pa,” sê sy.

Yvonne Retief, berader van Pretoria, sien gereeld hoe kinders pionne in hul geskeide ouers se hande word. Daar is ’n geval waar die pa die ma straf deur nie ’n rol in die kinders se lewe te speel nie. Hy weier bv. om die kinders by die skool te gaan haal, al is sy kantoorure van só ’n aard dat hy dit maklik kan doen. Dit het al gebeur dat die seuntjie laataand by die skool vir sy pa staan en wag. Pa daag net nie op nie – al het hy belowe hy sal hom gaan haal.

Zane Meas oor pa-wees

Zane Meas

Zane Meas, Neville Meintjies in 7de Laan, glo mentorprogramme kan ’n verskil maak in gesinne waar pa’s afwesig is. Hyself is deel van só ’n program, die inisiatief van die AGS-kerk in Newclare, Johannesburg. Dit was hoeka tydens só ’n kamp dat hy en die kinders van ’n berg by Mooinooi, Noordwes, gered moes word. Zane sê hoewel hy streng is met Campbell (12) en Connor (9), is sy vrou, Megan, eintlik die een wat die “wet neerlê”.
“Ek wil vir mans sê: Kyk na jul rol in die gesin en gemeenskap. Kyk waar jy ’n verskil kan maak. Die man moet weer die verantwoordelikheid as versorger van die gesin op sy skouers neem.”

 

Die afwesige pa . . .

wat kan ma doen?

As dit tydelik weens werkverpligtinge of siekte is, kan jy kompenseer deur ’n positiewe beeld van Pa voor te hou. Wys op die doel van sy afwesigheid (bv. voorsiening vir die gesin) of die waarde van ondersteuning as iemand in die gesin siek is.

As hy emosioneel afwesig is weens ’n langdurige, ernstige siekte, moet jy eerstens hulp vir jouself en jou kinders kry. Jy kan nie net gee sonder om ook te ontvang nie. Skep ondersteuning-strukture in jou familie, vriendekring en bv. die kerk.

As hy langdurig emosioneel afwesig is weens werk, huweliksprobleme of persoonlike probleme, moet jy aan die gebrek aan intimiteit in jul huwelik werk. As dit nie help nie, moet julle saam (of jy alleen) hulp kry, anders word jul huwelik eendag die voorbeeld vir jul kinders s’n.
*Bron: James de Villiers

 

Maar jy hoef nie ’n kind se biologiese pa te wees om vir hom/haar ’n vaderfiguur te wees nie. Navorsing toon stiefpa’s is nie noodwendig minder betrokke by kinders as biologiese pa’s nie. Soms is dit nie in die kind se beste belang om by sy biologiese pa te woon nie. Soos Irma sê: “Moenie vergeet hoeveel hel ’n aanwesige pa kán veroorsaak nie. Dink maar aan bloedskande of geweld teenoor die kinders of hul ma.”

Volgens James kan ’n stiefpa nie jou eie pa vervang nie, maar hy kan beslis opmaak vir die verlies aan ’n eie pa. Veral as Ma en Stiefpa se verhouding stabiel is, Ma en die biologiese pa ’n stabiele verhouding gehad het (as die pa oorlede is), of Ma en Pa se egskeiding nie te gekompliseerd was nie en hulle mekaar ná die egskeiding met respek behandel.

Ander manlike rolmodelle kan ongetwyfeld ’n sterk invloed op ’n kind hê. ’n Sportafrigter, geliefde oom, broer, buurman . . . Soos Hillary Clinton graag sê: Dit verg omtrent ’n dorp om ’n kind groot te maak, nie net die ouers nie . . .”

Die Fatherhood Project, geïnisieer deur die RGN se Child, Youth and Family Project, probeer om die impak van vaderloosheid te verminder juis deur die aanwesigheid van sulke “sosiale pa’s” aan te moedig. In Baba: Men and Fatherhood in South Africa, ’n uitvloeisel van dié projek, word gesê biologiese ouerskap kom tweede ná liefde en ondersteuning. Of dit nou van volwassenes af kom, of jong mense wat deur omstandighede gedwing word om die rol van die ouer oor te neem. (Hoewel die spesiale band wat tussen pa en kind kan bestaan, nie vergeet moet word nie.)

Die ideaal is egter dat kinders ook volwasse mans as rolmodelle moet hê. Volgens Irma is ’n kind wat aanvaar, geliefd en beskermd voel, veilig teen die lewe se aanslae. Dis die kind wat verwerp, ongeliefd en ongewens voel, en verwaarloos en verneder word, wat op ’n verkeerde pad geplaas kan word. “Daar is nie iets soos ’n perfekte gesin nie. Waar daar egter liefde en aanvaarding is, kan ouers maar foute maak. Wie maak nie foute nie?”

En James sê: “Ná jare as hipnoterapeut besef ek dat die uitwerking van ’n emosioneel afwesige pa nie geïgnoreer kan word nie. Die liefde van ’n volwassene is in só ’n geval die beste wat die kind kan kry.”

* Bykomende leesstof www.hsrc.ac.za/fatherhood

Geskei – bly só betrokke by jou kind

•    SMS gereeld.
•    Kry ’n program van belangrike gebeure in sy/haar lewe, bv. oueraande by die skool, sport, prysuitdelings. Wys jy stel belang, ondersteun hom/haar en woon dit by, waar moontlik.
•    Reël ononderhandelbare tye wanneer jy en jou kind(ers) tyd saam kan deurbring – sonder hul stiefma of jou vriendin. (’n Wenk vir álle pa’s, al is jy en hul ma nog getroud.)
•    Laat jou kind vry voel om sy/haar vriende na jou huis te nooi. Die geheim is dat jou nuwe gesinsopset so huislik moontlik moet wees.

 

*Bron: James de Villiers