RIO
Hieroor praat mense

Paralimpiese span vertrek na Rio vir Spele

Die Suid-Afrikaanse span vertrek vandag uit Johannesburg na Rio de Janeiro om deel te neem aan vanjaar se Paralimpiese Spele wat van 7-18 September gehou word.

Die span is 45 lede sterk en sal aan 10 verskillende sportsoorte deelneem: boogskiet, atletiek, kanovaart, fietsry, ruitersport, kragoptel, roei, swem/watersport, skiet en rolstoeltennis. Atletiek het die meeste deelnemers, 19, en daarna volg swem en fietsry met 6 elk.

Vanjaar sal die 45-jarige spiesgooier Zanele Situ die vlag dra. Dis die vyfde keer dat sy aan die Paralimpiese Spele deelneem. Sy is die eerste swart vrou in Suid-Afrika wat goud gewen het by ’n Paralimpiese Spele, en wel in spiesgooi. Dié prestasie het sy in 2000 in Sydney behaal, toe sy die wêreldrekord vir spiesgooi oortref het. By dieselfde Spele het sy ook ’n silwermedalje gewen in diskus. Vier jaar later het sy in Athene weer goud gewen in spiesgooi. Vanjaar neem sy deel aan spiesgooi, diskus en gewigstoot.

Kyk die dokumentêr wat in 2012 oor haar gemaak is:

Ernst van Dyk neem vanjaar aan sy sewende Paralimpiese Spele deel. Hy neem deel aan die handfiets-tydtoets op 14 September en aan die handfiets-padren op 16 September. Hy sal op 18 September, die laaste dag van die Spele, aan die rolstoelmarathon deelneem.

Twitter Ernst van Dyk lees nou

FOTO Twitter

Vanjaar is daar ’n klompie sterk deelnemers in atletiek wat dopgehou moet word. Hulle het almal in Londen medaljes gewen. Dis Ilse Hayes se vierde Spele. Sy hardloop die 100 m en 400 m (T13). Fanie van der Merwe, wat vir die 100 m (T37) aantree, neem aan sy derde Spele deel. Arnu Fourie, Hilton Langenhoven, Anrune Liebenberg, Dyan Buis, Jonathan Ntutu en Union Sekailwe is ook almal Londense medaljewenners wat hoop om vanjaar in Rio weer op die podium te staan.

Die president van Saskok, Gideon Sam, het met die aankondiging van die span gesê: “As dit kom by Suid-Afrikaanse sportglorie, het ons Paralimpiese sterre nog altyd hul kant gebring.” Die span hoop om nie minder nie as 20 medaljes terug te bring na Suid-Afrika, en hulle hoop 8 daarvan sal goud wees.

Bronne: Beeld, The Star, http://www.sascoc.co.za/

 Lees nou

Duurste musiekvideo’s in geskiedenis

TV die nuwe Hollywood?