Hieroor praat mense

Pieter-Dirk Uys, Jason Bourne en die Ghostbusters op die silwerdoek!

Dis ’n naweek vir legendes! As jy grootgeword het saam met Ghostbusters en albei die vorige flieks gekyk het, sien jy sekerlik uit na nommer 3. Maar dis nie al nie, die karakter Jason Bourne is terug vir aksie en Pieter-Dirk Uys se storie is uiteindelik op die silwerdoek te sien.

Hier is jou lys met flieks wat vandag begin draai en dié wat steeds speel. Moenie dit misloop nie.

Ghostbusters

Die derde Ghostbusters-rolprent is uiteindelik hier! Twee skrywers, dr. Abby Yates (Melissa McCarthy) en dr. Erin Gilbert (Kristen Wiig), het ’n boek geskryf oor hul bewyse dat spoke bestaan. Hul paaie skei ná die boek gepubliseer is, maar jare later span hulle weer hul kragte saam. Erin, Abby, twee ander spanlede en hul sekretaris (gespeel deur Chris Hemsworth) red Manhattan van spoke.

Captain Fantastic

Die wêreld gons oor The Lord of the Rings-ster Viggo Mortensen se nuutste film. Viggo speel ’n die pa wie se idees oor kinders grootmaak skielik getoets word. Hy en sy vrou, Leslie, het hul kinders buite die samelewing grootgemaak. Maar toe word sy siek en dinge verander …

Jason Bourne

Ja, Jason Bourne se verhaal is nie klaar nie. Maar dié keer weet hy wie hy is en daar is groot moeilikheid.

Nobody’s Died Laughing

Hierdie is ’n dokumentêr oor die lewe en reise van Pieter-Dirk Uys. Die film volg Pieter-Dirk van Kaapstad na Johannesburg, Grahamstad, Stellenbosch, Londen en Berlyn op toer is. Die film delf ’n bietjie dieper en vertel van die liefdadigheidswerk wat hy, en die vele karakters wat hy speel, al gedoen het en die bewustheid wat hy kweek rondom MIV/vigs.

In die fliek word onderhoude gevoer met bekendes soos Charlize Theron, Lizz Meiring, Anna-Mart van der Merwe, FW De Klerk, Janet Suzman, Thoko Ntshinga, David Kramer, Zolani Mahola, Vincent Ebrahim, professor David Gere, Eric Abraham, Sophia Loren en Jonathan Shapiro.

Wonder Boy for President

As jy lus is om bietjie te lag oor ons land en Suid-Afrika se politici, is dit die fliek vir jou. Wonder Boy, ’n jong man uit die Oos-Kaap af, word opgelei om te staan vir president. Twee mans het hom oortuig om dit te doen, maar hulle het ook sy ondergang beplan. Hulle gaan Wonder Boy se ondergang groot nuus maak en tot hul voordeel gebruik.

Maak seker jy loop ook nie hierdie flieks op die groot skerm mis nie

Lees nou

Só baie SA flieks!

Kyk! Sy Klink Soos Lente-lokprent