maxresdefault
Hieroor praat mense

Gewilder as Twitter – maar wat ís Pokémon Go?

Miljoene mense speel nou Pokémon Go op hul selfone. Dit is op 6 Julie uitgereik en net in Amerika is daar reeds 7,5 miljoen mense wat dit speel. En hoewel dit nog net in die VSA, Australië en Nieu-Seeland beskikbaar is, het talle Suid-Afrikaners ’n manier gevind om dit ook te speel. Ons kos-assistent, Philippus le Roux, is ’n groot aanhanger en vertel meer oor dié selfoonspeletjie. 

Pokémon Go is ’n kombinasie van fantasie en werklikheid. Jy speel dit op jou foon, maar met die gebruik van aangevulde realiteit (augmented reality) “sien” jy Pokémon-karakters in die werklikheid – soos dié Pokémon-karakter op SARIE se voorblad.

'n Pokemon op Sarie se voorblad, Philippus le Roux

Jy gebruik jou selfoon se GPS-sagteware om jou te lei na verskillende plekke in jou omgewing waar daar Pokémon-karakters is. Jy kry jou voorrade vir die speletjie by openbare bakens soos monumente en bymekaarkomplekke soos parke en winkelsentrums. Verder laat weet jou foon jou as daar ’n Pokémon naby jou is sodat jy hom kan “vang”. Moet dus nie verbaas wees as daar mense op sypaadjies loop en deur hul selfoonskerms na die grond staar nie!

Nintendo, die maatskappy wat Pokémon Go besit, was glad nie gereed vir die gewildheid van die speletjie nie, en die bedieners (servers) waarop die program werk, was reeds twee dae ná hul bekendstelling oorlaai. Amazon.com het selfs aangebied om te help.

Die Japannese was onmiddellik woedend omdat Nintendo, wat ’n Japanse maatskappy is, die speletjie sonder kennisgewing in ander lande beskikbaar gestel het. Japan is boonop die land waar Pokémon ontstaan het en die Japannese was hoogs ontsteld dat die speletjie nie eerste in sy geboorteplek beskikbaar was nie.  

 

Pokémon Go gaan eers vir die res van die wêreld beskikbaar wees wanneer die bedieners die aanvraag kan hanteer, maar Nintendo het nog nie ’n woord gerep oor wanneer dít gaan wees nie. Intussen het baie mense kreatief geraak en ander maniere gevind om die speletjie in hul lande te speel.

Maar oppas: hierdie agterpaaie kan jou selfoon aan virusse blootstel, daarom moet jy seker maak jy weet wat jy doen voordat jy dié roete volg.

Nintendo lag breed aangesien hul aandeelpryse nou vinnig styg. Die vorige keer dat die maatskappy se aandele so gesog was, was in 1983.

Sedert 6 Julie het die speletjie so gewild geword dat dit nou al selfs Twitter oorskry het, berig Tech Crunch. Bekendes is ook net so vasgevang en neem graag foto’s saam met die Pokémons.

 

Had to look for a long time for this one.

A photo posted by Ellen (@theellenshow) on

Ek het binne ’n paar uur totaal verslaaf geraak aan die speletjie. Die program haak dikwels vas en die bediener skop jou soms af, maar in die Kaap is daar reeds baie bakens en Pokémon-karakters om jou besig te hou. By die Jan van Riebeeck-standbeeld en die fontein reg buite SARIE se kantoor in Adderleystraat het ek oor middagete al twee Pokémons gevang.

Die Kasteel is ook ’n groot bymekaarkomplek en daar is glo ’n Pokémon op Tafelberg!

Wees asseblief gewaarsku – skelms het reeds dié speletjie gebruik om lokvalle te stel, lees meer HIER. Gebruik jou gesonde verstand, moenie alleen in gevaarlike plekke beweeg nie en moenie bestuur terwyl jy Pokémons soek nie.