Hieroor praat mense

Raaisels vreemder as fiksie

Dit was byna onvermydelik. Binne minute nadat die Amerikaanse Withuis Osama Bin Laden se dood aangekondig het, het die samesweringsteorieë begin – dit was alles net ’n groot kroekspul.

In e-posse, op Twitter, Facebook, radiostasies en TV-programme het verskillende menings opgeduik: Dat Bin Laden nog leef, dat hy eintlik al jare dood is. Selfs dat hy nog heeltyd saam met die Amerikaners gewerk het en dat hulle hom nou doodgemaak het sodat hy nie kan uitpraat nie.

Die Amerikaanse weermag se besluit om hom ter see te begrawe en nie foto’s van sy liggaam uit te reik nie het die teorieë net aangeblaas.

Baie van die teoretici en amateurspeurders meen die “storie” oor sy dood ná ’n lugaanval op ’n huis in Pakistan is versin om pres. Barack Obama te bevoordeel in volgende jaar se verkiesing.

’n Russiese radio-omroeper het beweer Bin Laden is al byna tien jaar dood en sy lyk is op ys gehou tot ’n geleë oomblik!

Samesweringsteorieë is so oud soos die mensdom en dit floreer veral wanneer ’n bekende of iemand wat die verbeelding aangryp, sterf – of dit nou Hitler, Marilyn Monroe, Elvis Presley of prinses Diana is.

[box:full:grey:botj]

1997

[/box]

Onlangs is in Unlawful Killing, ’n dokumentêre rolprent wat by die Cannes-rolprentfees vertoon is, beweer die “mafia in tiaras” (die Britse monargie) is agter Diana se dood. Die fliek is gefinansier deur Mohamed Al-Fayed, die pa van prinses Diana se minnaar Dodi Al-Fayed, wat saam met haar in die motorongeluk in Parys in 1997 dood is.

Soms is die waarheid vreemder as fiksie, maar soms is dit mense se verbeelding wat op loop gaan.
Sielkundiges en kenners sê op die webblad Wired Science die internet en televisie help ons nuuskierigheid aan.

“’n Mens kan vir byna enige samesweringsteorie ‘bewyse’ op Google kry.” Die miljoene internetklikke op dié teorieë en die hoë kykertalle van televisie-speurreekse bewys mense word gefassineer deur tergende raaisels. Daar is selfs diegene wat lang tye daaraan bestee om dit te probeer oplos.

[box:full:grey:both]

1988/ ’89

[/box]

In Suid-Afrika bly die verdwyning van Tracy-Lee Scott-Crossley, Joan Horn, Anne-Marie Wapenaar, Yolanda Wessels, Fiona Harvey en Odette Boucher tussen 1988 en 1989 ’n onopgeloste raaisel wat
mense aangryp. Die antwoord is saam met die verdagtes, die pedofiel Gert van Rooyen en sy houvrou, Joey Haarhoff, graf toe. Hy het Joey en homself geskiet toe die polisie hom in 1990 wou konfronteer.

Vir Doreen Gunn (65), ’n afgetrede administratiewe klerk van Krugersdorp, het dit meer as net gewone belangstelling geword, want sy dink sy weet waar Tracy-Lee is. Sy glo vas die gesellin Erika, wat volgens haar laas in Benoni by ’n gesellinklub gewerk het, is die blondekop-kind wat op 1 Augustus 1988 naby die Cresta-winkelsentrum in Randburg verdwyn het. Sy was toe 14 jaar oud.

In ’n ou kantoorgebou in Johannesburg, waar sy soms daaraan werk, rits Doreen ’n swart tas oop en pak twintig jaar van haar lewe uit. Foto’s, koerantknipsels, polisiedokumente en verklarings.

’n Voosgevatte afskrif van die oorspronklike dokument wat die Kinderbeskermingsvereniging destyds ingevul het, asook afskrifte van verskeie leidrade wat die polisie oor Tracy-Lee se verdwyning opgevolg het, laat ’n mens hoendervel kry.

Doreen sê sy het van die begin af ’n spesiale aanvoeling oor Tracy-Lee gehad.

“Ek het gevoel die polisie ondersoek die saak nie goed genoeg nie en het daarom self begin delf.

“Ek het Erika self gevra of sy wel Tracy-Lee is en sy het dit ontken. Ek glo sy en haar kêrel het my daarna ontduik. Haar spoor het doodgeloop, want die gesellinklub het intussen toegemaak,” sê Doreen.

Speurreekse op televisie het Doreen nog altyd gefassineer en sy meen sy moes eerder ’n speurder geword het. “Selfs in die dae van Murder She Wrote het ek altyd eerste geweet wie die moord gepleeg het. Ek het ’n aanvoeling daarvoor.”

Sy het ’n paar jaar gelede met die moord op die Johannesburgse student Leigh Matthews per trein en bus na die hooggeregshof gery om baasspeurder Piet Beyleveld te gaan spreek. “Ek het hom in die hofgange voorgelê en gevra hoekom die land se beste speurder nie ook die Van Rooyen-saak ondersoek nie. Hy het homself verskoon; ek kon sien hy is ongemaklik.”

Doreen lyk soos enigeen se buurvrou, glad nie na iemand wat jy met so ’n ondersoek sal assosieer
nie. Sy kan nie motor bestuur nie en het onder meer al per bus Kaapstad en Durban toe gery om leidrade op te volg. Sy het selfs al in die nag geryloop. Sy bestee ure in die biblioteek met haar navorsing en het geen idee hoeveel duisende rande sy al op die saak uitgegee het nie.

“Ek is nooit getroud nie en het nie kinders nie,” vertel sy. “My familie het my al berispe omdat ek my geld aan die saak bestee. Ja, ek erken self ek het my gesondheid afgeskeep omdat ek so hard daaraan gewerk het.”

Sy pak afskrifte van Tracy-Lee se skoolfoto’s en foto’s van haar ma, Noreen, en broer Mark op die tafel uit, saam met foto’s van die gesellin Erika.

Daar is tóg ooreenkomste.

’n Verweerde handgeskrewe “verklaring”wat Wendy, ’n medegesellin by die klub in Benoni, in 2001 voor Doreen afgelê het, bevestigvolgens Doreen die ooreenkomste tussen Erika en Tracy-Lee, soos

dat hulle ewe oud is. Ook dat albei linkshandig is, groen oë, ’n gaping tussen die voortande, ’n merk onder die bors en ’n moesie op die linkerskouer het. Albei het op Krugersdorp skoolgegaan en het die houding van ’n balletdanser en dieselfde gewoonte om hul hare terug te stoot.
Doreen het al verskeie kere met Tracy-Lee se ma gepraat en een keer met haar pa, Paul. Dit het vir haar gevoel asof hulle haar, nes die ondersoekbeampte in die saak, nie ernstig opneem nie.

In sy boek Children of Sorrow (Ashanti, 1990) vertel die joernalis Chris Marais hoe Paul sedert sy kind se verdwyning self ’n private speurder, Ian Connell, aangestel het om die saak te ondersoek.

Hy het volgens die boek saam met Ian die onderwêreld van prostitusie in Johannesburg en Durban ondersoek en “skokkende bevindings” oor sy dogter se verdwyning raakgeloop.

Só het hy telefoonoproepe ontvang waarin ’n meisie met ’n sleeptong smeek: “Kom haal my . . .”

Hy het sy kind se stem herken en vertel in die boek hy het in sy lewe nog nie so baie gehuil nie. Ian, die private speurder, het volgens die boek later ’n gesellin by ’n klub in Breestraat, Johannesburg, raakgeloop wat hy gemeen het Tracy-Lee is. Sy het selfs die gesellinklub se strokie as Tracy-Lee geteken en Paul het die handskrif as dié van sy kind uitgeken.

Paul het ook ’n afspraak met die gesellin gemaak, maar sy het nie opgedaag nie. (Die gesellin Wendy, wat die verklaring voor Doreen afgelê het, het ook beweer Erika het voorheen by ’n gesellinklub in Breestraat gewerk.)

Op ons navraag oor hoe dit nou met die gesin gaan, het Tracy-Lee se broer Shaun gesê hulle is al deur baie trauma en Doreen se betrokkenheid het ontstellend geraak omdat sy hulle aanhoudend gekontak het.

“Baie mense het al leidrade gegee wat opgevolg is. Elke keer hoop jy en dan lewer dit niks op nie. Ons bly hoop, maar my pa is sieklik en ek wil keer dat hy ontstel word. Die teleurstelling was groot toe sy ondersoek destyds niks opgelewer het nie.”

Herman Wapenaar, ouer broer van Anne-Marie, sê die meisies se gesinne het steeds kontak en almal bly hoop.

“Ons waardeer hulp, maar het al ’n wipplank van emosies gery. Ons is nou versigtig optimisties wanneer iets opduik.”

Hy sal Doreen se navorsing wil sien, maar hy sal dit net glo as daar tasbare bewyse is. Hoekom sou Tracy-Lee nie haar gesin kontak nie? wonder hy. Hy glo mense moenie sommer net op hul eie aan die saak werk nie.

“Ons motiveer eerder die polisie om die saak warm te hou. Daar is baie onopgeloste vrae. Ek is nou weer in noue verbinding met die polisie. Wie weet, dalk gebeur iets.”

[box:full:grey:both]

2007

[/box]

Mark Fuhrman, ’n bekroonde joernalis van The New York Times, sê in sy boek The Murder Business – How the Media Turns Crime Into Entertainment (Regnery Publishing, 2009) mediablootstelling omskep groot sake vir mense in ’n werklikheidsreeks. Hy noem verskeie bekende Amerikaanse sake waaronder dié van die moord op die kinderskoonheidskoningin JonBenét Ramsey.

Sommige sake wek “kollektiewe afgryse” en “ontplof in ’n nasionale obsessie”. Dit verkoop koerante en verhoog TV-kykertalle. Slagoffers en selfs beskuldigdes kry sterstatus, sê hy.

Duisende kinders raak vermis, maar net enkeles boei die media, soos die Britse meisie Madeleine McCann, wat in 2007 tydens haar gesin se vakansie in Portugal verdwyn het. In ’n stadium is selfs beweer haar ouers het iets met haar verdwyning te doen gehad.

“As die slagoffer ’n oulike meisietjie is, is sy die ideale ‘ster’ om die media en die publiek se aandag te trek,” meen Fuhrman.

Die vraag oor hoe gesond groot belangstelling in ’n saak is, was verlede jaar weer ter sprake nadat Carl Grigor van Tarkastad na bewering honderde SMS’e aan die vermoorde Matiestudent Inge Lotz se ma, Juanita, gestuur het. Dié moord is ook steeds onopgelos nadat Inge se vriend, Fred van der Vyver, in November 2007 onskuldig bevind is.

Carl se vrou het aan ’n verslaggewer van Rapport (21 November 2010) gesê haar man “het ’n geweldige belangstelling in forensiese ondersoeke”. Hy behoort glo ook aan ’n groep ondersoekers wat ’n belangstelling in moordondersoeke deel.

Ons kon nie so ’n vereniging opspoor nie, maar dis nie ’n ongewone verskynsel nie. Die Vidocq-vereniging (genoem na die briljante 18de-eeuse Franse speurder Eugène François Vidocq) kom maandeliks in Pennsilvanië in Amerika bymekaar om ou onopgeloste sake te probeer oplos.

Baie is oud-polisielede en ander is “gemotiveerde” landsburgers wat sake wil ontrafel (www.vidocq.org).

Piet Beyleveld, afgetrede baasspeurder en deesdae betrokke by ’n onderneming wat private speurwerk doen, glo wye mediablootstelling oor groot sake en TV-misdaadreekse het ’n invloed op “amateur-speurders”.

“Sommige mense kleef later onnatuurlik aan ’n saak.” Verskeie studies, soos dié van die gedragswetenskaplikes Glenn Sparks en Susan Huelsing Sarapin van die Purdue-universiteit in Wes-Lafayette, Indiana, bevestig sy teorie dat TVreekse soos CSI, Law & Order en Cold Case mense kan beïnvloed om self speurder te speel. Dié reekse boei glo die kyker met die whodunit-sindroom. (www.purdue.edu/uns/x/2009b/091028SparksCrime.html)

Die studie toon die effek daarvan op die publiek word in sommige Amerikaanse state so ernstig opgeneem dat hulle kandidate vir die jurie uitvra oor watter TV-reekse hulle graag kyk.

“TV-reekse gee ’n wanbeeld van hoe maklik ’n saak opgelos word. Ongelukkig is daar in die werklikheid nie soveel goeie leidrade nie,” sê Piet.

Dr. Micki Pistorius, ’n sielkundige van Pretoria, wat al saam met die polisie by die ondersoek van talle misdade betrokke was en ’n paar boeke oor bekende misdade geskryf het, sê mense ondersoek sake omdat hulle dalk graag self ’n speurder wil wees.

Sy het al mense teëgekom wie se bemoeienis onnatuurlik raak. “Met die ondersoek na die reeksmoordenaar Moses Sithole het een man selfs vir ons gesê hý is die reeksverkragter! Hy het blykbaar gesmag na erkenning.

Tydens die ondersoek na die stasiemoordenaar in Kaapstad het nog ’n man lastig geraak en ons werk bemoeilik. Ons het hom toe maar die dreine laat deursoek waar hy geglo het leidrade skuil.”

Sy gee die versekering dat elke moontlike leidraad deur die publiek ernstig opgeneem word. “Maar ’n mens ontwikkel later ’n gut feeling.” Sy verduidelik dat iemand gewoonlik so ’n obsessie ontwikkel om hul aandag van ’n ander probleem af te lei.

“As iemand week ná week ’n hofsaak bywoon, het hy waarskynlik nie ’n werk nie en is moontlik eensaam en op soek na opwinding en geselskap. Mense wat intens by sake betrokke raak, wil dalk ook voel hulle beteken iets vir die samelewing.”

As regsman en later as hofverslaggewer vir die dagblad Beeld het hy en kollegas die belangstellendes wat sekere sake getrou gevolg het, die regulars genoem, vertel joernalis en oudlanddros Philip de Bruin van Kaapstad.

Hy sê veral by die hooggeregshof vorm sulke “aanhangers” ’n soort “klub”. Hulle maak aantekeninge en bespreek die saak met mekaar. “Hulle beskou hulself as rolspelers in die saak,” sê hy.

“Een vrou was elke dag in my hof. Sy het selfs haar raad aangebied oor watter uitsprake ek moes gee. Soms het sy my ingewag en daarop gewys dat ek tog moet oplet na sekere getuies se eerlikheid. En sy het my aangespreek as ek volgens haar ’n verkeerde uitspraak gelewer het!”

Mense kontak hom as joernalis gereeld met “belangrike leidrade” in misdade.

“Met die Waterkloof 4 se saak het ’n vrou my ’n paar keer gekontak met haar uiteensettings van die saak. Sy het selfs soortgelyke vorige hofsake nageslaan.”

Toe hy nuusredakteur van Beeld was, het hy geleer ’n mens moet sulke wenke nie onderskat nie. “Ongelukkig is dit net waardevol as dit behoorlik forensies ondersoek word en in die hof as getuienis aangebied is.”

Doreen Gunn se bevindings het Michael Schmidt, ’n Johannesburgse ondersoekende joernalis, wat destyds by die Sunday Times gewerk het, vyf maande deur hole geneem waar prostitute uithang.

“Ek het elke moontlike leidraad opgevolg wat sy gegee het. Ek het met die Scott-Crossley-gesin en die gesin van die gesellin Erika gepraat.

Ek het ook met die gesellin se eksman en haar vriendin onderhoude gevoer. Ek het gedink ek sit op die droomstorie. Die storie van ’n leeftyd vir ’n joernalis,” sê hy.

Hy glo Doreen het goeie werk gedoen en dat haar werk op baie goeie “omstandigheidsgetuienis” gedui het. “Ek het Tracy-Lee se ma na Jungle Cats geneem om Erika te ontmoet. Daar was geen aanduiding dat hulle mekaar herken nie en hulle het ook ontken dat hulle mekaar ken.

“Daar is ’n punt waar jy wetlik nie verder kan gaan sonder om iemand se privaatheid te skend nie. Ek het daardie punt bereik.”

Doreen beklemtoon dat sy toegewyd sal bly. “Voor Tracy-Lee nie gevind is nie, sal ek nooit ophou om die saak te ondersoek nie. Al dink mense ek is eksentriek en obsessief.”