RSG Kunstefees 2016 plat logo
Hieroor praat mense

RSG se kunstefees is hier!

Dié is ’n fees om na uit te sien! Ons praat van die RSG Kunstefees, van 13-18 November. Dit skop vanjaar af met 18 nuwe debuutwerke, onder meer ’n Oulap se rooi, ʼn radiodrama oor een van Afrikaans se bekendste en mees geliefde rubriekskrywers, Audrey Blignault. Dit is die vierde radio-kunstefees op RSG.

Hier is van die hoogtepunte:

Sondag 13 November

15:00 State of the Heart met Amanda Strydom (KABARET) [REGSTREEKS vanuit die M1-ouditorium, Johannesburg]

Die veelbekroonde State of the Heart is nou 23 jaar oud. Dit is die eerste kabaret uit Strydom se pen en is bekroon met die Dalro- en Showtime-pryse vir beste kabaret en kabaret van die jaar. Hierdie tydlose liefdesverhaal steek op ’n teer wyse die draak met ou Afrikaner-tradisies van die 1920’s tot 1970’s. Midde die wreedheid van die oorlog is dit tog die liefde wat uiteindelik seëvier. Begelei deur Coenraad Rall op klavier sing Strydom in ses tale – Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Nederlands en Zoeloe.

FOTO Die Boer / Facebook

FOTO Die Boer / Facebook

Maandag 14 November

19:15 Boegoe vannie liefde

Die sangeres-liedjieskrywer Lize Beekman sing aangrypende toonsettings van Hans du Plessis se transponerings van Hooglied. ’n Program van woord en musiek oor liefde tussen die duine in ’n Afikaans wat van toeka af al in die sand onder kameeldoring lê.

sr1002lizebeekman_robert_hamblin

Dinsdag 15 November

20:00 ’n Oulap se rooi

Saamgestel uit die werk van Audrey Blignault, deur Woutrine Theron.

Audrey Blignault van Bredasdorp was vir ’n paar geslagte een van Afrikaans se bekendste, gewildste en mees geliefde rubriekskrywers, asook ’n radio-omroeper en redakteur van Die Huisvrou. Ter viering van haar 100ste verjaardag vanjaar het die aktrise Woutrine Theron ’n Oulap se rooi uit haar werke saamgestel. Eben Cruywagen het die teks vir die radio verwerk. Kom reis saam met die skrywer (vertolk deur Theron) deur die strate van haar hartsplek, staan stil by kosbare herinneringe en onthou – saam met ons – hierdie merkwaardige skrywer.

Regie: Christelle Webb-Joubert

Woensdag 16 November

20:30 ’n Grammy vir Afrika – Wouter Kellerman & lede van die Soweto Gospel Choir

Suid-Afrika se twee Grammy-wenners deel die verhoog vir ’n konsert waarin Afrika- en Afrikaanse klanke vermeng word met melodieë van die hele wêreld oor. Die fluitspeler Wouter Kellerman is ’n boerseun in murg en been en gaan saam met die dubbel-Grammy-bekroonde Soweto Gospel Choir gunstelinge soos Al lê die berge nog so blou en Ek verlang na jou vars vertolk. Daar is ook ’n spesiale klank-eksperiment met water wat hierdie samekoms-vertoning ’n onvergeetlike ervaring sal maak.

Vrydag 18 November

19:40 vryLAG met Emo Adams, Schalk Bezuidenhout & Lindie Stander

Dié gedugte driemanskap, onder leiding van die bekkige Johan Rademan, sit die lag in Vrydag. Dit is komedie sonder grense en ’n nuwe konsep om ’n stortvloed lagbuie te verseker. Sal die mikrofone en die luisteraars se ore hierdie komiese klets kan hanteer?

A photo posted by emo adams (@emo_adams) on

20:50 Danzer – Anton Goosen

’n Konsert met Anton Goosen en sy Bushrockband, Zolani Mahola van Freshlyground, David Kramer, Tribal Echo, Sima Mashazi en Churchil Naudé. Die musikante sluit in Albert Frost, Schalk Joubert en Kevin Gibson.

Anton Goosen het vanjaar sy 70ste verjaardag gevier. Sy grensverskuiwende album, Danzer, vier binnekort sy 25ste verjaardag. Saam met sy Bushrockband en ’n verhoog vol top-musikante sit hierdie geliefde liedjieskrywer en sanger weer die vuur in Danzer.

Besoek RSG vir meer inligting.Volg RSG ook op Twitter en besoek Facebook vir nóg inligting oor die RSG Kunstefees.

Lees nou

SARIE se 2016-sterre: Bennie Fourie is meer as net ’n grapjas!

Kyk Springbok-rugbyspeler se oulike tweeling!

Video: Herman maak brownie-koekies