joost van der westhuizen RIP
Hieroor praat mense

Rugby-reus Joost van der Westhuizen sterf

Op 6 Februarie moes Suid-Afrika ’n rugby-reus, ’n Wêreldbeker 1995-legende, ’n Springbokkaptein en -skrumskakel, ’n vegter en ’n pa groet: Joost van der Westhuizen. Hy het sy stryd teen motorneuronsiekte (MNS) verloor, het News24 berig. Joost was omring deur familie en vriende.

In 2011 moes Joost ’n wedstryd aanpak wat ses jaar lank sou duur. In hierdie ses jaar sou hy sien hoe sy eie liggaam, eens sterk en Springbokfiks, stukkie vir stukkie agteruitgaan. Hy moes vrede maak oor baie goed, maar veral oor pa-wees vir sy twee kinders. Hy kon naderhand nie meer met sy seun, Jordan, bal skop nie. Of met sy dogter, Kylie, dans nie. Al wat hy nog kon doen, was om hulle met sy oë lief te hê en waardeer.

joost van der westhuizen RIP

’n Vegter tot die einde

Vir baie sou dit die begin van ’n hopelose einde wees. Maar sonder hoop het Joost nie geleef nie. Nee, hy het tot die einde toe bly glo, bly inspireer, bly omgee en bly veg om ten volle te leef. Hy het selfs in November 2011 sy eie groep, die J9-stigting, begin om ander lyers te ondersteun en mense bewus te maak van motorneuronsiekte.

Een ding is seker, en dís dat Joost die afgelope 6 jaar méér geleef het as wat sommige van ons in ’n ganse leeftyd sal leef.

Soos Joost in die dokumentêre rolprent oor sy lewe, Glory Game: The Joost van der Westhuizen Story (2014), gesê het:

“Hulle het vir my gesê ek het net 20% kans op oorlewing, ek sal net twee jaar leef. Toe besluit ek: ‘Bogger hulle, ek sal besluit wanneer ek moet gaan.’ In die begin gaan jy deur al die emosies en jy vra: ‘Hoekom ek?’ Dis eenvoudig. Hoekom nie ek nie? As ek hierdeur moet gaan om toekomstige generasies te help, hoekom nie ek nie? … Daar’s twee goed wat jy elke dag vanselfsprekend vat: Tyd en gesondheid. En die oomblik wat jy dit verloor, begin jy eers wakker word.”

Kyk die lokprent hier:

Die prins van SA rugby

Joost het nie net die hart van ’n Springbok gehad nie, maar ook dié van ’n Blou Bul. In sy loopbaan, wat van 1993 tot 2003 gestrek het, het hy nét vir een provinsiale span gespeel: die Blou Bulle. Hy was ook deel van die legendariese 1995-Bokspan wat die eerste keer die Wêreldbeker vir Suid-Afrika verower het.

In 2015, 20 jaar ná die emosionele sege, het lede van die span weer by Ellispark byeengekom om die glorieryke dae te herleef, berig Sport24. Maar dit was ook ’n hartseer dag. Hul spanmaat wat die nr. 9-trui met soveel trots gedra het, die man wat die bal die laaste keer aangegee het voor Joel Stransky se legendariese skepdoel, is nie meer dieselfde nie.

“Vir my was Joost sonder twyfel die beste rugbyspeler saam met wie ek ooit gespeel het. Hy het spoed, krag, tegniek gehad wat mens eintlik nie kan glo nie. Hy was ’n kampioen.”

– Joel Stransky, oud-Springbok-losskakel, aan Netwerk24.

Kyk dié roerende insetsel op Netwerk24:

Amor: “Ek het Joost vergewe”

SARIE het destyds ’n eksklusiewe onderhoud met Joost se vrou, Amor Vittone, gevoer ná die nuus van die skandaal dat dit hy is saam met ’n ontkleedanseres in ’n seksvideo.

Die onderhoud het saamgeval met die verskyning van sy biografie deur David Gemmell, Joost: Spieëlbeeld (2009), waarin hy die eerste keer erken dit is hy in die video nadat hy dit lank ontken het. Amor was die dag van die onderhoud broos, weerloos.

Haar woorde aan ons joernalis – “Ek weet nou eers ’n mens se hart kan so seer wees dat jy nie asem kan kry nie” – het iets verklap van die rouheid van haar emosies. Sy was ook onseker oor die pad vorentoe. “Mense kom gee my raad. ‘Bly,’ sê hulle, of ‘get out’. Maar ek kan nie voel wat ander mense wil hê ek moet voel nie. Elke mens en elke situasie is uniek. Niemand kan vir my sê wat om te doen nie.”

Vier jaar later, in 2013, het SARIE weer met Amor gesels, maar dié keer was sy anders. ’n Vrou met meer lewenswysheid en ’n innerlike vrede, “want ek weet ek doen die regte ding”.

Amor saam met Joost en hul kinders, Jordan en Kylie FOTO: Facebook / Amor Vittone

Amor saam met Joost en hul kinders, Jordan en Kylie
FOTO: Facebook / Amor Vittone

Hier volg ’n uittreksel:

Sy en Joost is nou “nader aan mekaar as ooit – op ’n ondersteunende manier, nie op ’n romantiese manier nie. Ek sal altyd lief bly vir hom as die pa van my kinders. “Ons gaan nie meer skei nie.” Sy staan hom by deur sy siekte. (Hy ly aan motorneuronsiekte, wat sy spiere aantas en ongeneeslik is.)

“Ek het ’n belofte aan myself en my kinders gemaak: ek wil nie eendag spyt wees nie. Ek wil nie hê die kinders moet my eendag verwyt wanneer hy nie meer daar is nie, sê ek het hulle nie meer tyd met hom gegun nie. Hulle moet trots wees op hul mamma.”

Die gesin in 2015. FOTO: Facebook / Amor Vittone

Die gesin in 2015. FOTO: Facebook / Amor Vittone

Joost en sy dogter, Kylie FOTO: Facebook

Joost en sy dogter, Kylie
FOTO: Facebook

Sy het baie geleer die laaste paar jaar: oor haarself, oor die lewe, oor mense. En veral oor vergifnis. “Jy moet vergewe. Jy kan nie vir altyd loop met ’n rots op jou skouers nie. Maar vergifnis vat tyd. Ek moes self eers heel word voordat ek kon vergewe. Ek moes vrede en kalmte van binne kry.

“Toe het ek en Joost dinge uitgepraat. Ek was kalm. Jy kan nie in so ’n gesprek ingaan met woede in jou hart nie. Deur alles het hy my gerespekteer en verstaan hoekom ek so gereageer het en aan my goedhartigheid betoon. Hy’t homself ook vergewe, hy’s regtig ’n goeie mens. Dit het my herinner hoekom ek in die eerste plek verlief geraak het op hom. Ons is albei positiewe mense. Ons is albei vegters. Dís die dinge wat ons bymekaar gebring het. Ek het geleer die oomblik dat jy vergewe, val alles in plek. Jy haal die positiewe uit alles en dan is dit maklik om aan te beweeg.”

- Amor Vittone aan SARIE in Oktober 2013-uitgawe

 

’n Rugby-reus, ’n Wêreldbeker 1995-legende, ’n Springbok-kaptein, ’n vegter en ’n pa: Joost van der Westhuizen het tot met so dood bly inspireer – al was dit soms hóé moeilik. Rus sag, grote.

 

Joost van der Westhuizen 1971 – 2017