rwc
Hieroor praat mense

Rugbywêreldbeker 2015: Praat saam met Bennie Fourie – SA vs Skotland

Vroue is lank nie meer net die draers van tjip & dip wanneer dit by rugby kom nie. Vroue sit skouer aan skouer en geniet deesdae rugby saam met die mans. Maar tussendeur ma-wees en die korporatiewe wêreld oorneem, is daar nie altyd tyd om al die Wêreldbeker-aksie te volg nie.

Hiermee dan ’n kort rubriek om jou op hoogte te hou van die Groen en Goud se vordering:

3 Oktober 2015 – Springbokke vs Skotland

Saterdagoggend staan ek op en ek weet, hierdie dag gaan moeilik wees. Waarom ek myself forseer om ’n marathon te doen, weet ek steeds nie regtig nie. Dit moet iets te doen hê met die vegter wat binne my leef. Maar met vriende soos Naas, Nick en Ashwin weet ek ek’s darem nie alleen nie. Drie Wêreldbeker-wedstryde, rug aan rug. Agt uur van rugby. Met al drie wedstryde wat ’n groot invloed op die Bokke se pad vorentoe het, het ek geen ander opsie as om gemaklik te raak op my terugskop-bank en deur te druk nie. Samoa teen Japan. Suid Afrika teen Skotland. Engeland teen Australië.

’n Vinnige oorsig oor die drie merkwaardige wedstryde:

Samoa vs Japan (5 – 26)

Japan lyk soos ’n groep graad 8’s wat die matrieks vir hul snoepiegeld boelie … en dit regkry. Die Brawe Bloeisels skop die middag af met nóg ’n kliniese skok-oorwinning – die keer oor Samoa. Met twee groot oorwinnings verdien Japan om as teenstanders gerespekteer te word en hou hulle duimvas om vir die eerste maal deur te dring na die uitspeelwedstryde. 

Skotland vs Suid Afrika (16 – 34)

Met vanne soos Nel en Strauss in Skotland se span was die afgelope week nogal akademies van aard vir die Bok-voorspelers. Die twee Afrikaners in die Skotse span het gemaak dat die Bokke nuwe name vir hul lynstaanroepe moes leer en dat hulle nie in Afrikaans kon kommunikeer nie. Maar op die dag het dít nie gepla nie.

Die Bokke het weer ’n sterk vertoning gelewer en Skotland was nooit regtig ‘n bedreiging nie  … behalwe dalk om Heyneke Meyer se hoofrekening-vermoë bloot te lê. Die Bok-afrigter is deur die kamera gevang waar hy ernstig besig is om op sy vingers te tel. Die patriot in my kies om te glo dat hy besig was om te tel hoeveel duisende mense hierdie Bokspan verkeerd gaan bewys.

Hoewel ons die wedstryd redelik maklik gewen het, was dit steeds nie ’n maklike week nie. Fourie du Preez, ons nuwe kalm kaptein, het ná die wedstryd gesê die Bokke was onder groter druk as met die eindstryd in 2007. Hoekom? Want as die Bokke teen Skotland verloor het, was daar ’n groot kans dat hulle uit die Wêreldbekertoernooi sou val. En dis so taboe soos om gevang te word dat jy jou sussie soen.

Engeland vs Australië (13-33)

Engeland het hul sussies gesoen. Die gasheernasie is deur Australië uit die Wêreldbeker geboender in ’n geskiedkundige wedstryd. In wat die groep van die dood genoem word, kon slegs twee lande kwalifiseer tussen Engeland, Wallis en Australië. Met Wallis wat verlede week vir Engeland getroef het, het dit beteken dat die wedstryd teen Australië basies ’n eindstryd vir Engeland sou wees. Ons hoop nou die Engelse ondersteuners verloor nie belangstelling in die Wêreldbeker nie, maar dat hulle sal aanhou om die stadions vol te sit.

FOTO: Prins Harry se emosies loop hoog tydens Engeland se wedstryd teen Australië

 

Hoe beïnvloed dit ons?

  • Met Japan wat vir Samoa gewen het, staan hulle nog ’n kans om te kwalifiseer en ons uit te skakel as die Bokke teen die VSA verloor en Japan die VSA wen.

  • As die Bokke nie Woensdag met ’n bonuspunt teen die VSA wen nie, kan ons dalk tweede eindig in die groep en dit sal beteken ons speel ’n moeiliker span in die kwarteindronde.

  • Met Engeland wat teen Australië verloor het, beteken dit dat ons in die kwarteindronde teen Wallis of Australië gaan speel.

’n Paar Saam-Praat feite:

  • Josh Strauss en WP Nel was in 2012 nog in die Bokke se oefengroep voordat hulle besluit het om in Skotland te gaan speel.
  • Dis die eerste keer dat ’n gasheernasie in die groepfase by die Wêreldbeker uitgeskakel is.
  • Skotland is baie trots op hul nasionale embleem, ’n distel, wat op hul truie pryk. Dié doringagtige blom het na bewering in oorloë hul vyande se posisies weggegee as hul kaalvoet daarop getrap het en in pyn uitgeroep het. Dis oulik en als …. maar wie gaan kaalvoet oorlog toe?

LEES wat het Bennie oor SA se nederlaag teen Japan geskryf

Bennie vertel wat het SA reg gedoen teen Samoa

Bennie Fourie is ’n skrywer en akteur. Hy is tans te sien in Die Pro. Kyk na die lokprent van dié Afrikaanse film HIER.

bennie