rwc
Hieroor praat mense

Rugbywêreldbeker 2015: Praat saam met Bennie Fourie – SA vs Wallis

Vroue is lank nie meer net die draers van tjip & dip wanneer dit by rugby kom nie. Vroue sit skouer aan skouer en geniet deesdae rugby saam met die mans. Maar tussendeur ma-wees en die korporatiewe wêreld oorneem, is daar nie altyd tyd om al die Wêreldbeker-aksie te volg nie.

Hiermee dan ’n kort rubriek om jou op hoogte te hou van die Groen-en-goud se vordering:

26 September 2015: Kwarteindronde – Springbokke vs Wallis (23 – 19)

In die geskiedenis was die wêreld al menigmaal verdeeld. Landkaarte wat konstant oorgeteken moes word met grense wat skuif. Verafgeleë lande wat ontdek word. Oorloë wat skeiding bring tussen lande en migrasiepatrone wat kulture verskuif. Dit klink soos ’n geskiedkundige tendens, amper soos iets wat nie meer gebeur nie … tot die naweek aangebreek het. Frankryk, Ierland, Skotland, Wallis … ek speel nie hopscotch nie, ek lys die Noordelike Halfrond se lande wat die naweek teen die Suidelike Halfrond gesneuwel het en duidelik weer ’n lyn getrek het in terme van wêreldrugby-oppergesag.

Die Bokke was die eerste linie; en wat ’n slagveld was dit nie. Maatskaplike werkers is kalm tussen 17:00 en 19:00 op Saterdae … want dis die enigste keer dat ’n geskree in ’n woonkamer normaal is. Sondag was die hele Suid-Afrika hees. Ek het maar die wedstryd met ’n paar wolhandskoene gekyk, want hoe hou jy ’n drankie vas met sulke sweterige palms? Dit was naelbyt vir die grootste gedeelte van die wedstryd met Wallis wat brutaal was op verdediging. Tot ’n stukkie towerkuns deur Duane Vermeulen en kaptein Fourie du Preez in die 72ste minuut die Drake ’n nekslag toegedien het.

Vermeulen het om die skrum gebreek, twee manne getrek en nonchalant ’n geen-kyk-aangee agter sy rug aan Du Preez gegee wat, tot Suid Afrika se verligting, in die hoekie ingeduik het. Ek’s geen dokter nie, maar ek glo nie dis goed vir jou om jou asem vir 80 minute lank op te hou nie.

Daarna was dit die All Blacks teen Frankryk. ’n Mondwaterende wedstryd met ’n geskiedenis vol verrassings … en was dit nie … ’n Verrassende hoë telling. Met ’n eindtelling van 62 – 13 het ek vir ’n oomblik gewonder of dit nie Nieu-Seeland se krieketspan was nie. Die verdedigende kampioene was dodelik op die aanval en het ’n reuse-waarskuwing gestuur vir die Bokke wat hulle volgende naweek in die halfeindronde op Twickenham pak.

Die derde stryd was Argentinië teen Ierland. Ierland was die in-vorm span in Europa deur die opbou van die Wêreldbeker en ’n Noordelike Halfrond-gunsteling. Maar niemand het dit vir Argentinië gesê nie … Ierland is soos ’n stout kind oor die skoot getrek en ’n 43 – 20 pak slae gegee deur ’n begeesterde Argentynse span.

Die laaste linie was Australië teen Skotland. Ek wou aanvanklik nie eers kyk nie, want ek gee nie om vir die Noordelike Halfrond-spanne nie en ek is liewer vir detensie as vir Australië. Australië is in elk geval ’n baie sterker span. Maar ’n paar minute in die stryd is ek deeglik daaraan herinner dat enigiets in ’n uitspeelwedstryd kan gebeur. Die telling het wipplank gery en dit het gelyk of Australië die wedstryd gaan vat totdat die Skotse buitesenter in swaar reën ’n onderskepdrie gedruk het wat Skotland die voortou gegee het. In die laaste minuut het die Suid-Afikaanse skeidsregter Craig Joubert egter ’n kontroversiële strafskop gegee wat Australië verdoel het en met ’n 35 – 34 eindtelling vir hulle en ’n plek in die halfeindronde teen Argentinië verseker het.

Met slegs Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Argentinië en Australië oor, is dit basies ’n herhaling van die tawwe Rugby-kampioenskaptoernooi wat Australië vroeër vanjaar gewen het. So, dankie Noordelike Halfrond, dat ons basies net jul velde kan kom gebruik om uit te vind wie in die Suidelike Halfrond regtig die Wêreldrugby-konings is.

’n Paar Saam-Praat feite:

  • Geen span wat al ’n groepwedstryd verloor het, het al die Wêreldbeker gewen nie. Die Bokke en Argentinië het elkeen ‘n groepwedstryd verloor.
  • Nieu-Seeland het die Bokke in 1999 en 2003 se Wêreldbeker uitgeskakel. Die twee spanne het mekaar in 2003 laas in ’n Wêreldbeker-stryd gepak.
  • Dis die derde keer dat Argentinië Ierland se Wêreldbeker-drome stuit.
  • Dis die eerste keer dat dit net Suidelike Halfrond-spanne in die halfeindstryde is.

AB de Villiers, die Protea-krieketkaptein, het dié video gedeel van die nasionale krieketspan se reaksies die oomblik toe die Springbokke Saterdag gewen het teen Wallis. Is dit nie spesiaal nie?

 

Bennie Fourie is ’n skrywer en akteur. Hy is tans te sien in Die Pro. Kyk na die lokprent van dié Afrikaanse film HIER.

bennie