rwc
Hieroor praat mense

Rugbywêreldbeker 2015: Praat saam met Bennie Fourie & Stiaan Smith – SA vs Amerika

Vroue is lank nie meer net die draers van tjip & dip wanneer dit by rugby kom nie. Vroue sit skouer aan skouer en geniet deesdae rugby saam met die mans. Maar tussendeur ma-wees en die korporatiewe wêreld oorneem, is daar nie altyd tyd om al die Wêreldbeker-aksie te volg nie.

Hiermee dan ’n kort rubriek om jou op hoogte te hou van die Groen-en-goud se vordering:

7 Oktober 2015 – Springbokke vs Amerika (64 – 0)

Ek was 10 jaar oud toe ek Broken Arrow gekyk het. Beste pakslae van my lewe … Ek’t geweet die ouderdomsbeperking was 16. Maar daardie film was magies. Die musiek was aangrypend. Christian Slater was yskoud. John Travolta het rook so cool soos Nike-tekkies met sewe regmerkies laat lyk. Dít was Amerika. Amerika was great en awesome en magtig en die konings. En gisteraand het die Bokke hulle 64-0 gewen. BOOM! WAT NOU AMERIKA?!

Okay, Bennie. Kalmeer. Dit is soos sport nommer 54 of iets in hulle land … perdehoef-gooi is meer prominent. 97% van Amerikaners se verwysing vir rugby is die episode wat hulle op Friends gesien het waar Ross in ’n parkie probeer speel het. Maar steeds. Dit voel goed. Dalk is dit nie net die wen nie, maar ook die wete dat die Bokke weer op die regte koers is voordat die uitspeelfase begin … en boonop basies beseringsvry.

Hierdie bonuspunt-wen beteken dat ons, ten spyte van ’n sukkelende begin, bo aan ons groep eindig. Nou wag ons vir Saterdag se wedstryd tussen Australië en Wallis om te sien wie verloor, want ons speel teen daardie verloorspan in die kwarteindstryd. Australië lyk vanjaar so gevaarlik soos ’n hormonale tiener met ’n oop kamerdeur. So ek gaan hard skree vir Wallis om te verloor.

’n Paar saampraat-feite

  • Ben Kruger, bekende Binnelanders-akteur, se seun Niku Kruger, het as skrumskakel vir die Arende uitgedraf.
  • Bryan Habana het Jonah Lomu se rekord geëwenaar vir die meeste Wêreldbeker-drieë.
  • Tot op hede is dit die grootste punteverskil in enige Wêreldbeker-wedstryd vanjaar en is die Bokke die enigste span wat hul teenstanders geen punte toegelaat het nie.
  • Ierland en Frankryk se wedstryd is bepalend vir die ander kwarteindstryd. Nieu-Seeland is reeds deur as die wenner van hul groep.

One broken wing for the Eagles – One giant leap for the Springboks

  • Bennie Fourie en Stiaan Smith