ryan gosling
Hieroor praat mense

Ryan Gosling: ‘Ek is soms 47% vrou!’

Asof jy nóg ’n rede nodig gehad het om van Ryan Gosling te hou … Nou sê die bekende Hollywood-akteur, kêrel van Eva Mendes en pa van twee dat hy eintlik een van ons is!

Ryan en Eva het twee dogtertjies, Esmerelda en Amada. Oor die 3 vroue in sy lewe en hoe dit is om saam met hulle te bly, het hy op Good Morning America gesê: “Dis hemels. Dis soos om elke dag deur ’n veld blomme te loop. Ek bly saam met engele.”

Ryan Gosling en Eva Mendes verwelkom 2de baba

Ons is dus nie baie verbaas oor Ryan se antwoorde in die nuutste ES Magazine nie. Sy kommentaar oor ’n vrou as president vir die VSA was: “Ek dink [Amerika] het ’n vrou se hand nodig. Ek het nog altyd meer van vroue gehou. Ek is grootgemaak deur my ma en my ouer suster. [...] My lewe tuis is nou ook meestal tussen vroue. [...] Hulle maak my beter.”

Onthou, Ryan het nou ook meer wysheid as ’n pa van twee:

“Ek dink vroue is beter as mans. Hulle is sterker. Meer ontwikkel. Jy kan dit dadelik sien as jy dogters het, jy sien hul vroeë stadiums; hulle is net dadelik seuns ver vooruit.”

En toe die joernalis hom vra hoeveel persent vrou hy is?

“Ek sou sê 49%, soms 47%, dit hang alles af van die dag waarop jy my vang.”

Die celeb-lys van mans-feministe is lank en daaroor is ons nie min bly nie! Ben Stiller, Daniel Craig, Mark Ruffalo, Barack Obama en nog vele meer is op dié lys.

Hier is 5 uitgesproke feministe:

Die Dalai Lama

In 2009 het die Dalai Lama in ’n toespraak by die Nasionale Burgerregte-museum in Memphis, Tennessee gesê:

“Ek noem myself ’n feminis. Is dit nie wat jy iemand noem wat veg vir vroueregte nie?”

Aziz Ansari

Die bekende Parks and Recreation-komediant het op Late Night with David Letterman vertel wat hy onder feminisme verstaan – heel eenvoudig dat vroue en mans gelyke regte moet hê.

Joseph Gordon-Levitt

Een van ons gunsteling-akteurs verklaar ook trots dat hy ’n feminis is. Dit is veral sy ma wat hom geleer het om nie vroue as objekte te sien nie.

John Legend

Toe John in 2013 The Sound of Change Live aangekondig het, ’n musiekkonsert wat geld insamel vir die vroue-organisasie Chime For Change, het hy gesê:

“Alle mans moet feministe wees. As mans omgee oor vroueregte, sal die wêreld ’n beter plek wees. Ons is beter af as vroue bemagtig is – dit verseker ’n beter wêreld.”

Chris Hemsworth

In Maart 2016 het Radio Times aan Chris gevra of hy homself as ’n feminis sien. Sy antwoord:

“Vir seker! My ma is ’n groot feminis. Ek dink my idees oor goed soos respek vir vroue kom van my ma. My pa het ook ’n baie gebalanseerde en eerbiedige beeld van die wêreld. Hulle is die twee groot positiewe invloede in my lewe.”

chris hemsworth

BRONNE: Refinery29, The Telegraph, E! News, PopSugar

Lees ook

Charlize lei stryd vir gelyke betaling – en wen!