FOTO Phyllis Green

Hieroor praat mense

SA Michelin-sjef behou sy ster

Suid-Afrika se eerste Michelin-sjef se ster skitter steeds blink aan die Franse hemelruim. Jan Hendrik van der Westhuizen se restaurant JAN in Nice, Frankryk, het sy Michelin-ster behou!

Verlede jaar het die groot eer hom en sy span die eerste keer te beurt geval.

Hy het die goeie nuus dat die restaurant sy ster behou het, verlede week op Facebook gedeel:

Jan Hendrik het aan SARIE.com vertel dat dinge by JAN sedert daardie eerste ster baie verander het. “Man, baie verander, ons reinvent soos ons aangaan. Die pressure is vir seker meer maar ek like pressure.”

Aan Netwerk 24 het hy vroeër die week vertel hoeveel druk daar op hom en sy span is sedert die gesogte Michelin-ster aan hulle toegeken is. “Die sielkundige druk is baie erg om alles perfek te kry. Die behoud van die ster word jou lewe – jy dink daaraan elke oggend, middag en aand en selfs in jou drome,” het hy aan Netwerk 24 gesê.

In ’n onderhoud met SARIE Kos verlede jaar het Jan Hendrik vertel as dit van hom afgehang het, sou sy restaurant selfs kleiner gewees het!

“Die restaurant is baie klein. Ons sit 28 gaste. Dit was ’n ou Vespa-herstelwinkel waar daar in ’n stadium ’n brand was. Toe ons die spasie oorgeneem het, was die argitek skepties. Hy kon nie visualiseer hoe ’n restaurant in dié spasie gaan werk nie. Ek het net aangedring en ons het dit maak werk. As ek my sin kry, gaan ek nog ’n tafel uithaal en dit nog kleiner maak. Net om meer spasie te gee vir die drama wat gebeur as ons ’n trollie instoot en by die tafel iets spectacular opdien.”

Lees die onderhoud hier.

Die bekroonde sjef het verlede jaar by die bekendstelling van sy kookboek, JAN, my Franse kosverhaal (Struik Lifestyle), ook aan SARIE Kos verduidelik hoe die proses werk om ’n Michelin-ster te kry.

“Michelin is ’n restaurant-en-hotelgids wat jaarliks hoofsaaklik in Europa gepubliseer word. Restaurante word anoniem geresenseer en die uitslag kan ’n restaurant maak of breek. As Michelin besluit jou plek het meriete, stuur hulle ’n verteenwoordiger wat vir jou kom sê hulle hou die restaurant vir beoordeling dop. Al weet ons nooit wanneer dit gaan gebeur nie, is ons maar altyd bewus van die moontlikheid dat Michelin ’n draai kan kom maak. Verlede jaar in Junie was daar ’n man wat sy wynglas teen die lig opgehou en sy mes omgedraai het om te kyk wat die maak is – en toe weet ek dit moet een van die restaurant-gidsmense wees. Toe hy groet, het hy gesê alles was onverbeterlik. Die gerug is hulle kom tot vier keer per jaar, soms twee mense of vier mense. Dit hou ’n mens op jou tone, maar ons gaan nie uit ons pad om dinge anders te doen nie. Ons probeer om altyd die bes moontlike diens te lewer.”

Lees nou

Malvapoeding met koek uit ’n boks

Dís hoe jy moet stort om wakker te word!

En die gewildste kleur is …