Hieroor praat mense

SA se beroepsmense swig voor opkikkers en dwelms

Dis Maandag, gewoonlik maar blouerig. Vandag het ek egter ’n wapen teen my omgesukkelde liggaamshorlosie. ’ n Klein, wit pilletjie. Dis voorskrifmedikasie vir kinders (soms ook volwassenes) met aandag-tekort-hiperaktiwiteitsindroom (ATHS). Dit help hulle normaal funksioneer. Maar as ons rustiger lede van die samelewing dit gebruik, raak jy glo hiper-gefokus. ’n Vriendin van ’n vriendin vertel sy werk dan teen die spoed van lig. Ek sluk een. En wag dat die pilletjie met my brein toor.

“Ek werk onder geweldige druk en aangesien die pilletjie my een dag in ’n superwerker verander het . . . Hoekom nie maar gereeld een sluk as ek moet perform nie?” Die vriendin van ’n vriendin is aan die woord.

Baie mense in besige beroepe redeneer nes sy: van prokureurs en joernaliste tot dokters en ouditeure. Hulle snuif kokaïen of drink opkikkers om deur ’n lang dag te kom. En dikwels deurnag ook. Die keuse is groot: verslankingsmiddels, energiedrankies, die genoemde wit pilletjie en sogenaamde “studeermiddels”. Ook crack, die rookbare vorm van kokaïen, wat ’n onmiddellike en meer intense uitwerking het.

’n Ouditeur vertel: “’n Apteker het voorgestel ek neem ’n paar slukke van ’n verslankingsmiddel as ek deurnag moet werk. Ek is nou nooit sonder my botteltjie ‘deurnag-energie’ nie. Ek drink ook gereeld energiedrankies as ek ’n spertyd moet haal.”

Vrystaatse boere doen glo dieselfde as die trekkers aanmekaar moet dreun. Maar later moet jy anti-depressante drink om weer die vuur in jou vuisvoos brein te probeer stook. Verniet, want jou breinstowwe weet nie meer herwaarts of derwaarts nie.

Só doen ek dit

*Linda Friedland is ’n mediese dokter, internasionale openbare spreker en konsultant. Sy het 5 kinders tussen 19 en 7 jaar. Verlede jaar was sy in 20 lande, sy het meer as 50 internasionale lesings gelewer en was op meer as 50 internasionale vlugte. Sy het ’n weeklikse radioprogram op Radio Today en twee boeke word beplan.

Super-vrou? Nee, sê sy. Sy het al aan chroniese-moegheidsindroom en ’n toestand bekend as toksiese leweroorladingsindroom gely. (Met simptome soos uitputting, spierpyne, migraine en naarheid.) Deesdae is sy bedag op tekens van haar liggaam dat haar pas te vinnig is. Sy probeer elke dag mediteer. Anders word sy gouer moeg en hanteer sy krisisse moeiliker. Sy oefen, sonder om dit te oordoen: joga, stap, ’n bietjie gim en gyrotonics – ’n kombinasie van pilates, joga en swembewegings. Sy bederf haarself met ’n massering, veral as sy ’n gejaagde oorsese program het. Nog ’n lekkerte is as sy saans vroeg in die bed kan klim. Saterdagmiddae ontspan sy ’n paar uur lank op die bed. En elke paar weke gaan sy en haar gesin bos toe vir die naweek. Op 42 druk sy haarself ook nie meer so hard nie. “Ek weet wat my beperkinge is.”

 

*Llewelyn Curlewis, ’n prokureur van Pretoria, ontlaai met ekstreme sportsoorte: hy kruip in spelonke rond, duik tussen haaie, jaag op sy sportmotorfiets, spring valskerm, hardloop die Comrades. “Ek soek die adrenalien, die bietjie spanning wat die onbekende wek.”

Hoe gebeur dit?
Jy is jonk, ambisieus en in ’n hoë pos. Die paaiemente van jou trendy motor en huis in die regte woonbuurt is hemelhoog. Jou kollegas blaas in jou nek. Jy het iets nodig wat jou daardie ekstra edge gee. Jou jappie-vriende snuif gereeld kokaïen en jy dink: Hoekom nie? Dis ’n vinnige manier om die “regte” mense te ontmoet. Diep binne jou voel jy trots dat jy toegang gekry het tot dié eksklusiewe groepie. En jy weet tog wat jy doen.

Dit werk soos ’n bom. Jy het energie, selfvertroue en kan ure aaneen werk. Daarna is jy wel bietjie “af ”. Maar veels te min om jou te pla. Jy verloor gewig, maar dis ’n pluspunt. Voorkoms is mos belangrik in jou werk. Van jou vriende gebruik selfs steroïede sodat hul spiere onder hul ontwerpershemde kan bult.

Jy besef dit nie, maar jy is reeds emosioneel aan kokaïen verslaaf. Mettertyd word die lekker minder, die donker tye meer. Jou lyf begin daarvoor skreeu. Al waarom die lewe begin draai, is jou volgende lyn kokaïen.

“Ek het my kinders se selfone gesteel. Geld uit my vrou se beursie . . .” Clive van Johannesburg was in die Elim-kliniek, ’n rehabilitasie-sentrum in Kempton Park, en is 18 maande “skoon” van crack-kokaïen. Hy het agt jaar lank kat en muis met sy gesin en werkgewer gespeel.

Hy was ambisieus en het homself vinnig in die motorbedryf tot ’n hoë pos opgewerk. Vandag is hy weer waar hy was . . . heel onder. Selfvertroue en wêreldgoed is daarmee heen. Maar sy begeerte brand helder om sy gesin te vergoed vir wat hulle moes ontbeer.

’n Familielid het hom aan kokaïen bekendgestel. “Aanvanklik het jy meer selfvertroue en energie. Jy gesels makliker met mense. Jy glo jy dink helder. Maar jou fokus is op die volgende lyn om te snuif.

“Binne twee minute ná jy dit gesnuif het, is jy op ’n high. En 20 minute later in die diepste depressie. Met crack is die spiraal nog vinniger. En die craving groter. Dan doen jy drastiese goed om geld in die hande te kry. Jy het nie meer waardes nie. Daar is nie meer reg of verkeerd nie. Dis iets wat jy moet doen om aan die lewe te bly. Soos asemhaal.”

In die jare sestig het die hippies uit idealisme chemiese middels misbruik. Vandag is ons doelwit materialisties. Anekdotes is daar baie. Soos: “Ek het een aand by die nuuskantoor (van ’n bekende koerant) ingestap en van my kollegas het kokaïen gesnuif.” En: “As student het ek ’n verslankingsmiddel gedrink as ek deurnag moes swot.”

Hoe groot is die probleem?
Rochelle Mountany is hoof: inligtingstegnologie en sake-intelligensie van Icas in Johannesburg, ’n internasionale maatskappy wat spesialiseer in gedragsrisiko-bestuur, en het top-maatskappye as kliënte. Sy sê data van ondersteuningsprogramme toon mense in beroepe waar baie druk is, misbruik meermale kokaïen en oor-die-toonbank-medikasie. Dit sluit onder meer finansiële en tegnologiese dienste en die media in. As kokaïen misbruik word, neem die produktiwiteit van werkers in 70% van die gevalle af en verhoudinge met kollegas ly skade.

Mense in hoër inkomstegroepe (meer as R25 000 per maand) gebruik ook meer alkohol as die res van die bevolking. Kenners sê tereg verslawing het geen respek vir status of beroep nie. Daar is die staaltjie van ’n dokter wat saam met ’n spoorwegwerker in dieselfde kamer in ’n rehabilitasie-kliniek beland het. Hy was nie gelukkig nie. Die spoorwegwerker het gesê: “Hier beteken jou beroep niks, almal is druggies.”

Hoofpyn?

Die kombinasie van parasetamol, aspirien en kafeïen in ’n bekende hoofpynpoeier maak dit ’n aanloklike opkikker. Dié poeier saam met ’n gaskoeldrank staan bekend as “boerekokaïen” – dis glo veral by polisiemanne gewild. Die dubbele dosis kafeïen laat jou kop gons. Jy kan aan hoofpynpoeier verslaaf raak.

Sekere dwelms loop egter hand aan hand met sekere inkomstegroepe. Ané Carelsen, bemarkingsbestuurder van die Elim-kliniek, beaam crack en kokaïen word dikwels in high flying-beroepe gebruik. Dis die aard van die dwelm: ’n opkikker wat jou verstand skerp maak en jou soos ’n god laat voel. Naas alkohol en dagga is dit die gewildste middel waarom volwassenes in Gauteng by rehabilitasie-klinieke aanklop. Die deursnee-crack-kokaïenverslaafde is diep in die twintig.

Judith van der Westhuizen, verpleegdiensbestuurder by Elim-kliniek, sê verskillende persoonlikhede is tot verskillende soorte dwelms aangetrokke. Heroïen-gebruikers is oor die algemeen stiller en minder gedrewe. Want heroïen sus jou brein en as jy beroepsgedrewe is, gaan dit nie deug nie. Behalwe as jou kokaïenverslawing reeds baie ver gevorder is.

Regter Eberhard Bertelsmann reken egter daar kleef nog ’n stigma aan harde dwelms by professionele mense. Drank, oor-die-toonbank- en voorskrifmedikasie is ’n ander saak. Die persentasie professionele mense met dié soort verslawing het die afgelope dekade of wat toegeneem, sê hy. Jy neem dus ’n kalmeerpil om te slaap, môreoggend drink jy ’n energiedrankie. Of erger: ’n amfetamien – pille wat jou brein stimuleer. Om aan die gang te kom en die dag tegemoet te storm. (Lees ook sy eie verhaal hier onder: ‘n Trein sonder remme)

Daar ís ’n toename in verslawing by professionele beroepslui, maar mense praat nie daaroor nie, sê dr. Elca Erlank van die Stabilis-behandelingsentrum in Pretoria. Sy het in ’n studie bevind verslawing is een van die grootste oorsake van ongeskiktheid by plaaslike dokters.

Sowat 25% van alle ongeskiktheid onder geneeshere wat in 2003 by die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) aangemeld is, was bv. weens petidienverslawing (’n voorskrif-pynmiddel). (Die RGB kan nie meer onlangse statistieke verskaf nie.) Redes is onder meer ’n gebrek aan ondersteuningstelsels, maklike toegang tot middels en ongereelde en lang werkure. Uit vorige studies blyk dit dat algemene praktisyns en narkotiseurs die grootste gevaar loop om verslaaf te raak.

Moenie in die slaggat trap nie

Jy ís nou eenmaal in ’n haastige beroep. Maar daar is baie wat jy kan doen pleks om na chemiese middels te gryp. Ané Carelsen van die Elim-kliniek sê ons lewe in ’n kitssamelewing. Jy wil iets drink en dadelik beter voel. “Later is dit die enigste manier hoe jy beter kán voel. Jy vergeet daar is ander maniere, want jy is emosioneel verslaaf.”

 

Volgens haar vorm ’n gesonde leefstyl die grondslag om stres op ’n gesonde manier te hanteer.

  • Kyk wat jy eet, slaap genoeg, doen oefening.
  • Werk aan jou emosionele intelligensie.
  •  As jy van nature sukkel om lewenseise te hanteer, gaan op kursusse waar jy leer van dinge soos tydsbestuur en rasionele denke.
  • Moenie dat buitefaktore soos jou man, werk en kinders jou geluk bepaal nie.
  • Verander die manier hoe jy na probleme kyk en dit hanteer. As jy dit nie regkry nie, kry professionele hulp.
  • Fisieke probleme het dikwels ’n emosionele oorsprong. “Pille is die allerlaaste uitweg. En dan ook net saam met ander terapie, op kort termyn en onder dokterstoesig.”
  • Neem gereeld verlof en breek oor naweke weg. Maak tyd vir vriende, familie en kollegas. En werk ook op ’n geestelike vlak aan jouself.

Ané sê: “Verslawing begin so onskuldig. Niemand wil verslaaf raak nie. Jy besef nie hoe maklik dit gebeur nie.”

 

Kontak Elim-kliniek: 011 975 2951 of www.elimclin.co.za

Ook die regsberoep stel eiesoortige eise.
Volgens Llewelyn Curlewis, Pretoriase prokureur met ’n doktorsgraad in strafreg, is jy nie net ’n prokureur nie, maar ook maatskaplike werker, sielkundige, adviseur . . . Mense soek ’n oor om te luister, iemand wat simpatiseer. ’n Kliënt wil nie hoor jy is met vakansie nie. Jou werklading is hoog en die aard van die Suid-Afrikaanse regstelsel (twee partye takel mekaar in die hof tot daar ’n wenner is) veroorsaak nog meer stres, sê hy.
Amerikaanse statistieke toon 1 uit 5 mense in die regsberoep het probleme met alkohol of dwelms. Dis twee keer meer as die algemene bevolking. (Bron: www.eriebar.org). Llewelyn sê daar is nie plaaslike statistieke beskikbaar nie. Studies sal ook nie geloofwaardig wees nie: Mense in dié beroep is bang om daarmee vereenselwig te word. Dit kan die einde van jou loopbaan beteken. Maar hy reken die Amerikaanse statistieke kan ook plaaslik van toepassing gemaak word.
Volgens David Bayever van die departement aptekerswese en farmakologie aan die fakulteit gesondheidswetenskappe, Universiteit van die Witwatersrand, is nog tipiese dwelmmisbruikers mense in die kunsberoepe, wat kreatief moet wees en dinge in ’n ander konteks as die gewone mens sien. Musikante moet ook ’n sekere peil handhaaf, of hulle nou “af ” voel of nie. Dan is daar sportmanne wat aan sportsoorte deelneem wat geweldige eise aan hul fisieke vermoëns stel, sê hy.

My eksperiment met die klein wit pilletjie? My brein het in ’n tiran ontpop, min gepla oor my hoofpyn, hartklopping en die gevoel van naalde en spelde in my hande. (Dié newe-efekte is ook te danke aan die wit pilletjie, ja.) Die sinne het soos soldaatjies oor die rekenaarskerm gemarsjeer. Maar ek het ’n spesmaas dit het my meer in die boks, minder kreatief laat dink. En nee, ek sal dit nie weer gebruik nie. Dit het niks gedoen wat goeie tydsbestuur en ’n koppie koffie nie ook kan doen nie.

 

’n Trein sonder remme

 

Die eerste prentjie is van ’n stoomlokomotief. Die drywer sit op die kolehok, ver van die kontrole af. En die trein slinger teen ’n helse pas voort, rook en stoom . . . rook en stoom . . .

 

Die tweede een is ’n elektriese trein wat vas op die blink spoor voortsnel. Dis die jare tagtig. Eberhard Bertelsmann is in die Elim-kliniek in Kempton Park.

 

Die eerste prentjie illustreer sy lewe toe sy verslawing aan kalmeerpille en drank op ’n toppunt was.

Die tweede een . . . sy nuwe lewe, die toekoms.

En wat ’n toekoms. In April verlede jaar het hy ’n kersie in die Elim-kliniek se kapel gaan aansteek. Hy het twintig jaar laas gedrink. Hy is reeds sewe jaar ’n regter in die Pretoriase hooggeregshof. Maar meer: Hy gebruik sy ervaring met drank en pille om die lewe van mense aan te raak. Hy is die afgelope veertien jaar ’n direksielid van die kliniek. En sy verlede is ’n oop boek. As hy praat, is sy handbewegings soms kragtig, soms vloeiend. Nooit onrustig nie.

 

“Ek was ’n regte jappie. ’n Advokaat en baie ambisieus. My werk was my passie, my uitdaging, my asem. Ek was ’n stigterslid van Lawyers for Human Rights, ’n lid van die Vereniging vir die Afskaffing van die Doodsvonnis. Ek het politieke sake aanvaar wat my ongewild gemaak het. Dit was ’n opwindende, opruiende tyd. Die veiligheidspolisie het soms in my nek geblaas. Daar was dreigemente, eenkeer is daar selfs op my geskiet. Ek was op die Burgerlike Samewerkingsburo se hit list.
 

“Toe loop ’n saketransaksie skeef en ’n klomp mense na aan my kon bankrot speel. Ek moes hard werk om dit te keer. Die hartkloppings en angsaanvalle het begin. Ek werk ses en ’n half dae van die week en slaap vier uur per nag. En rook elke dag so 60 sigarette.

 

“Waarom doen mense train surfing? Dis die adrenalien. Die opwinding. My soort werk was adrenalien. Dis lekker, jy raak verslaaf daaraan. Maar uiteindelik is jy soos ’n ystervark in ’n gat: Jy is halfpad en kan nie omdraai nie. Jy moet vorentoe. En die dokter skryf ’n kalmeerpil voor. ’n Lae dosis, wat jou nie lomerig maak en geen newe-effekte op kort termyn het nie. Ek kon nie my skerpheid in die hof verloor nie. Net: Dit het die hoogs verslawende middel bensodiasepien bevat.

 

“Ek het weer soos tevore aangegaan. Dieselfde pas gehandhaaf. Drie jaar later en die donkerte vat my. Stadig, suutjies. My geesdrif het weggesypel. Ek het nog dieselfde dosis pille gedrink, maar al meer op alkohol gesteun. Die pille was nie meer genoeg nie.

 

“Verslawing vereensaam jou. Jou grootste vrees is dat jy van jou enigste pêl, die bottel of pil, geskei gaan word. Dit voel of jou gebede teen die plafon vasslaan. Of die Here sy rug op jou gedraai het. Dit was moeilik vir die mense na aan my. Jy is neerslagtig, opvlieënd, onvergenoegd. Ek het net ’n drinkmaat gesoek saam met wie ek ’n bottel kon oopmaak – en in die glas kon huil.

 

“Vir professionele mense is dit moeilik om te erken: Ek is nie meer in beheer nie. Dis juis dié faktor wat bepaal of jy verslaaf bly. Al dié beroepe bestaan uit beheervrate. As jy nie in beheer is nie, gaan die kompetisie wen. Eendag het ek in my kar geklim en gery. Vyf dae is net weg uit my lewe. Die polisie het my gekry waar ek in Nelspruit heen en weer oor die hoofstraat se middelman ry.”

 

’n Paar dae later was hy by die kliniek. En daarna? Sy beroep was tog nog net so besig? “Jy hét nog net so baie uitdagings as vantevore. En daar is terugslae. Maar jy leer om dit te hanteer sonder om na krukke te gryp. Ek het ’n innerlike balans en kalmte gevind. En ’n sterk ondersteuningstelsel: my familie, kollegas, kerk en Elim-kliniek.”

 

As hy agter sy lessenaar sit, het hy ’n uitsig op Kerkplein. Geboue gebaai in geskiedenis, nes die hooggeregshof. Dis Woensdag en die landsvlag word gehys. ’n Orkes speel marsmusiek en selfs oom Paul swaai voete. Die lewe is die moeite werd, sê Eberhard.

Jou energieskop – waak teen dié gevare

Energiedrankies: Volgens CBC, ’n Kanadese TV-netwerk (www.cbc.ca), kry een so ’n drankie sy skop uit ’n kombinasie van kafeïen, suiker en ander bestanddele. In Kanada is daar waarskuwings op die etiket. In Frankryk is verkope verbied. Deels omdat rotte vreemd begin optree het nadat hulle tourien, ’n aminosuur en bestanddeel, gevoer is. Hulle was angstig, sensitief vir geluide en selfverminking het voorgekom. Die webwerf www.medicalnewstoday.com berig die Europese hof vir justisie het die Franse verbod op dié spesifieke drankie in 2004 bekragtig. Daar is onder meer verwys na ’n studie waarin bevind is die drankie bevat oormatige hoeveelhede kafeïen. Kommer is in dié verslag ook uitgespreek oor o.m. tourien. Dis ook in Denemarke verbied.

 

Verslankingsmiddels: Ané van die Elim-kliniek sê vroue begin dikwels dieetmiddels gebruik om gewig te verloor. En kom dan agter hoeveel energie hulle het. ’n Kollega vertel: “Ek staan agter ’n vrou, só dun, wat 4 bottels van ’n verslankingsmiddel koop. ‘Is dit hoesmedisyne?’ vra ek onskuldig. ‘Nee, my energie,’ sê sy. En sy woerts weg in ’n nuwe Mercedes.” Volgens Lorraine Osman, woordvoerder van die Aptekersvereniging, bevat baie oor-die-toonbank-eetlusdempers ’n bestanddeel wat verwant is aan die breinstimulante efedrien en amfetamien. ’n Newe-effek is slaaploosheid: die rede waarom nagskofwerkers dit verkeerdelik drink. Dit kan jou senuagtig, rusteloos en geïrriteerd laat voel. Dit help jou dalk om wakker te bly, maar as dit uitgewerk het, voel jy afgemat en depressief. Dit kan moontlik jou bloeddruk opjaag en hartritme versnel – en jou risiko van hartaanvalle en beroerte verhoog, sê sy.

 

Oor-die-toonbank-medikasie: David Bayever sê die grootste probleem is pynstillers, hoesmedisyne en verkouemedikasies met kodeïen. As kodeïen misbruik word, kan dit lei tot ’n droomtoestand wat moegheid, depressie en angs verminder. Dit gee jou baie tydelik ’n rush. Verslawing is maklik. Dit kan jou verdoof tot op die punt waar jy jou bewussyn verloor en sukkel om asem te haal.