Hieroor praat mense

SA se wenfliek begin draai

SA rolprente maak die wêreld oor indruk. Nou begin Oliver Schmitz se Shepherds en Butchers, wat met twee gesogte pryse by ’n New Yorkse filmfees bekroon is, in teaters draai. Vroeër die week het die Afrikaanse aktrise Erica Wessels se Engelse film Hatchet Hour ook ’n prys by ’n Los Angeles-filmfees gewen – lees meer hier. Die Afrikaanse prent Noem my Skollie is SA se amptelike inskrywing vir volgende jaar se Oscars.

Shepherds and Butchers

Die Britse komediant en akteur Steve Coogan vertolk een van die hoofrolle. Coogan het al saam met groot sterre soos Judi Dench (in Philomena) en Julianna Moore (in What Maisie Knew) gewerk. Die Britse aktrise Andrea Riseborough, wat in die Oscar-bekroonde Birdman gespeel het, is ook in dié rolprent te sien.

Maar dis glo die Suid-Afrikaanse nuweling, Garion Dowds, wat veral die aandag trek. Sy spel is belowend – as jy na die kritici luister. Ander plaaslike akteurs soos Marcel van Heerden, Deon Lotz en De Klerk Oelofse is ook te sien.

Shepherds and Butchers gaan oor ’n tronkbewaarder (Dowds) wat reeds as tiener dié werk begin doen het. Hy was deel van groep bewaarders wat terdoodveroordeeldes moes teregstel. Die fliek handel oor sy hofsaak ná hy 7 mense geskiet het. Coogan se karakter, wat die advokaat speel, moet letterlik veg om sy nek te red.

Vroeër vandeesmaand het Shepherds en Butchers die pryse vir beste speelprent en vir beste kinematografie gewen by die Woodstock-filmfees in New York.

Kyk die lokprent hier

The Accountant

Die Oscar-wenner J.K. Simmons en Ben Affleck speel teenoor mekaar in dié misdaad-drama. Ben se karakter verkies die geselskap van somme bo mense. Maar hy is nie sommer enige boekhouer nie. Hy doen die boeke van gevaarlike kriminele.

Kykers word beloof dat hulle op die punt van hul stoele sal sit.

Kyk die lokprent hier

Joburg Film Festival

Dié fees skop vandag af en duur tot 5 November. ’n Wye verskeidenheid van 60 Suid-Afrikaanse rolprente, sowel as rolprente uit Afrika, word gewys.

Bespreek jou kaartjies op Ster-Kinekor.

Hatchet Hour is een van die rolprente wat gaan speel.

BANFF Mountain Film Festival

Dié filmfees toer die wêreld oor om die wêreld se beste avonturier-filmmakers bekend te stel. Die Banff-sentrum in Kanada ontvang talle inskrywings en hulle kies net die bestes vir die fees. Hierdie fees is nog net aan tot die 29ste Oktober, so jy moet spring vir jou kaartjies.

Besoek die webtuiste vir meer inligting oor die flieks en bespreek kaartjies op Ster-Kinekor.

Kyk hier een van die 11 kortflieks wat wys. Daar is ook ’n vollengtefilm op die program.

Before The Flood

Leonardo se dokumentêre film oor klimaatverandering word hierdie naweek op National Geographic bekend gestel.

Jy kan dit Sondag 30 Oktober om 20:05 kyk (op DStv-kanaal 181), of na ’n heruitsending Maandag, 31 Oktober om 22:50.

Nog flieks wat hierdie week wys

Lees nou

Jou stem tel vir 2017 se Rock & Roll Hall of Fame!

Kyk die Gilmore Girlslokprent!

Natuurfilms deur Leonardo DiCaprio en ander op pad!