Saray Khumalo

Saray Khumalo

Hieroor praat mense

SA vrou se Everest-droom vir eers iets van verlede

SARIE* het net voor Saray Khumalo se vertrek na Everest met haar gepraat oor haar voorbereiding om die eerste swart vrou te word wat die magtige Everest wil  uitklim. Maar dié berg het ander planne gehad.

Ná die sneeustorting Vrydag 18 April wat die lewe van minstens agt Sjerpa-gidse geëis het, is Saray en haar Suid-Afrikaanse spanmaat Sibusiso Vilane se drome vir eers iets van die verlede.

Die Burger berig dat dié storting sowat 500 m van hulle basiskamp plaasgevind het. Mail and Guardian het berig dat die Suid-Afrikaners deel is van die groep wat nie verder kon klim nie weens ’n moontlike tweede sneeustorting. Hulle moes van Lobuche-Oos terug na die basiskamp klim. Volgens Ubuntu Everest se Facebook-blad het hulle nog nie besluit of hulle gaan verder klim, of terugkeer huis toe nie.

Saray by Lobuche-Oos FOTO:  Facebook

Saray by Lobuche-Oos
FOTO: Facebook

Só het Saray voorberei vir die Everest-uitdaging

SARIE-joernalis Marguerite van Wyk het met Saray gepraat oor haar voorbereiding. Sy moes onder andere byna 100 000 trappe binne 36 uur klim ter voorbereiding van dié uitdaging.

Saray van die Wes-Rand het in Desember saam met Sibusiso Vilane, bergklimmer, avonturier en groepleier (die groep bestaan uit twee vroue en twee mans) 100 000 trappe in 36 uur by die Westcliff-hotel in Johannesburg aangedurf. Dit was ter voorbereiding van hul Everest-uitdaging om geld vir die Sonneblomfonds vir leukemie-lyers in te samel. Saray is ’n ma van twee, getroud met ’n mediese dokter en werk as afdelingsbestuurder van die navorsing-en-ontwikkelingspan van Discovery Vitality.

“Om soveel trappe te klim was een van die uitputtendste en verveligste dinge wat ek nog gedoen het! Maar ons hele span het dieselfde doelstelling gehad en mekaar só gemotiveer: Ons wil kankerlyers help. Ná dag twee was ek teleurgesteld dat ek net 87% van die trappe geklim het. My bene het gepyn, maar ek was trots dat ek 33 uur lank deurgedruk het. Ons het net drie uur opgehou tydens ’n donderbui.

Ek hou van fisieke uitdagings. As kind was ek ’n regte tomboy en ek het graag boom geklim en fiets gery. Ek het eers laat leer kook en ’n kêrel gekry. My liefde vir die buitelug het eintlik begin toe ek as tiener saam met kerkgroepe gekampeer het. Nou is ek vuur en vlam om die wêreld se sewe bergpieke uit te klim.

Onlangs was ek twee weke lank in die Franse Alpe om my voor te berei op Everest se uiterste koue en om tegniese bergklim-tegnieke te bemeester. Ek oefen sowat ses keer per week in die gimnasium, draf, klim baie trappe en het selfs begin met rotsklim-sessies. My fiksheidsprogram sluit ook gereelde staptogte van sowat 20 km mét ’n 20 kg-rugsak in.

Ek was nog altyd gedrewe. Ook in my werk. Nadat ek in 2012 Kilimandjaro in Tanzanië geklim het, het ek verlief geraak op bergklim. Ek wil my kinders wys ’n gewone vrou soos hul ma kan mense se lewe verbeter. Die grootste uitdaging van Everest is sekerlik bergsiekte. Ek gaan my bes doen en die natuur respekteer.”

*Die artikel is in SARIE April 2014 gepubliseer.

Volg Saray en Sibusiso se reis op Ubuntu Everest se Facebook-blad HIER.

Saray en Sibusiso FOTO:  Facebook

Saray en Sibusiso
FOTO: Facebook