Hieroor praat mense

#SARIEfees is hier!

Kom kuier, luister, sing en lag saam met ons en talle bekendes by die eerste SARIE Fees!

Van 16 tot 18 Maart 2017 gaan ons feesvier by die Atterbury-teater in die Lynnwood Bridge-winkelsentrum in Pretoria. Ons skop Donderdagoggend af met ons feesdae, so maak seker jou naweek is oop, want hier is jou planne!

Koop jou kaartjies by Computicket:

#SarieFees met Zelda & Johrne – Pretoria, Donderdag 16 Maart

#SarieFees met Michelle & SARIE-span, Vrydag, 17 Maart

Schalk Bezuidenhout – Die Snorseun, Vrydag 17 Maart

Theuns Jordaan, Saterdag 18 Maart

Etiket met Nataniël, Saterdag 18 Maart

Die lys van kunstenaars wat gaan optree

Etiket met Nataniël

Vermaaklik, kaalkop, insiggewend, inspirerend en sonder skroom! Nataniël gesels oor die ontstaan en geskiedenis van etiket. Vertel van die ontwikkeling, gebruike, verval en uiteindelike terugkeer van sosiale riglyne. Verduidelik hoe standaarde en doel verander het. Wys die belaglikheid van verkeerde of oordrewe toepassing uit, die gevaar van té min inligting, asook die noodsaaklikheid van hedendaagse beskaafdheid en orde. Van tafeldek tot trou, van familiedrama tot moeilike gaste, daar wag ’n skatkis van krisisse!
Nataniël beantwoord ook vrae uit die gehoor. Omskep die alledaagse in ’n unieke leefstyl, vind nuwe energie, luister, leer en lag saam!

Saterdag, 18 Maart 2017, 10:00
Kaartjie R200 Computicket

FOTO Clinton Lubbe

Zelda le Grange: ‘Verandering begin by jouself’

Negentien jaar lank was sy oudpres. Nelson Mandela se regterhand. Sy het hom op reise vergesel, was sy woordvoerder en vertroueling. Haar titel was eenvoudig: persoonlike assistent. Hy was een van die grootste politieke figure in die nuwe millennium. Maar vir haar net Khulu (oupa). Vir hom was sy Zeldina. Met haar boek, Goeiemôre, Mnr. Mandela, het sy afskeid geneem.
Sy kom gesels met ons oor hoe verandering plaasvind en dat jý dinge kan laat gebeur. Kom word geïnspireer deur haar stories en haar eie verandering – “van kokon tot mot”, het sy al self vir SARIE vertel.

Zelda & Johrné se vertoning
Donderdag 16 Maart om 10:00 – Kaartjie R170 Computicket

FOTO Phyllis Green

Johrné van Huyssteen: Om die rok in die huis te dra – van Spreuke tot sosiale media

Johrné van Huyssteen was al by soveel openbare platforms betrokke dat hy vir baie Afrikaanse mense soos ’n ou vriend voel. Sedert sy verhoogdae saam met die musiekgroep ddisselblom, was hy al aanbieder van DeKat TV, OFM-radioomroeper, skrywer en solosanger.
Maar ’n ego het hy beslis nie en as jy met hom gesels, raak die praat só lekker dat die tyd vinniger aanstap as wat jy dink. In die Maart-uitgawe van SARIE vertel hy: “Om die rok in die huis te dra gaan oor vroue se uniekheid, plek in die samelewing en die uitdagings van vandag. En dis ’n vrouepraatjie omdat ek dink ek verstaan vroue beter as wat ek mans verstaan! Seker omdat ek met twee susters en ’n dominante ma grootgeword het. My pa is ook nie ’n tipiese manne-man nie. Die moeilikste ding denkbaar vir my om aan te bied is ’n manne-aand.”

Zelda & Johrné se vertoning
Donderdag 16 Maart om 10:00 – Kaartjie R170 Computicket

FOTO Phyllis Green

Schalk Bezuidenhout: Die Snorseun

Ná die sukses van verlede jaar se Schalk Bezuidenhout Lewendig is dié krulkopkomediant met sy truitjies en skerp tong terug met ’n splinternuwe eenmanvertoning. Want of Schalk meisies op die maatsoek-program Die kliek lei na romantiese uitstappies, die geliefde Danny vertolk in Hotel of vlymskerp waarnemings deel in Jou nuusminuut, een ding is ’n feit: Hy laat mense skaterlag. Kom kyk hoe hy met homself die draak steek en al wat heilige koei is na die slagpale lei.

Vrydag 17 Maart om 20:00
Kaartjie R150 Computicket

FOTO Travys Owen

Theuns Jordaan die eerste keer by die Atterbury-teater!

Die rustigheid van die Karoo sit diep in sy stem. Theuns Jordaan sing al lank die land aan die brand. Met verkope van meer as 1,4 miljoen en talle topverkoper-albums het hy bewys dat hy nie net ’n sanger van formaat is nie, maar ook ’n baie talentvolle liedjieskrywer. Met liedjies uit sy pen soos “Jou asem”, “Soos bloed’’, ’’Roeper van my hart’’ en “Namibsroos” het hy die laaste jare gesorg vir van die grootste treffers in Afrikaanse musiek. Nou is hy die eerste keer in die Atterbury-teater te sien by die #SARIEfees.

Saterdag 18 Maart om 20:00
Kaartjie R200 Computicket

FOTO Phyllis Green

Michélle & SARIE-span

’n Spesiale SARIE-oggend vol inspirasie met redakteur Michélle van Breda, kosredakteur Herman Lensing, bekende stylredakteur Fanie Cronjé en skoonheidsredakteur Charis van den Heever.
Kom kyk, luister & proe hoe die bladsye van SARIE lewe kry op die verhoog!
Kaartjieprys sluit ’n SARIE-geskenkpak in.

Vrydag 17 Maart om 10:00
Kaartjie R170 Computicket

Feesprogram

Klik op die program hieronder om dit sommer op jou toestel te bêre. Deel die foto met jou vriende en familie om seker te maak niemand mis uit nie.

sarie fees