FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Hieroor praat mense

SARIE-leser vertel van haar Casanova-bedrieër PLUS ken só sulke mans uit

Verlief op ’n slinkse hartebreker

Vroue vind hom onweerstaanbaar. Hy oorlaai jou met geskenke en aandag. Maar die eintlike trekpleister vir die Casanova-bedrieër is jou kredietkaart.

SARIE-leser Karlien (skuilnaam) vertel van haar ervaring met só ’n man:

Ses weke ná hul ontmoeting het hulle verloof geraak. Hy het sy hand oopgemaak en daar was drie diamantringe. Sy moes een kies.

Hy was glo ’n handelaar in oudhede met sy eie besigheid. Hy het haar selfs ’n pakhuis met meubels gaan wys wat hy glo aan rolprentstelle verhuur.

“Ons het ons toekoms saam beplan. ’n Spoghuis gekoop. En sommer ook die aangrensende erf, om ons see-uitsig te beskerm. Die eiendomme was in my naam. Sy besigheid was glo in ’n familietrust en hy en sy pa haaks. Sy pa hou daarom die geld vas. Alles natuurlik net tydelik.” Só vertel Karlien.

“Intussen sorg ek vir hom en sy twee honde. Ek moet drie verbande afbetaal, want my woonstel is nog in die mark. Ek is geldelik in die knyp en voel die balju in my nek blaas. Bedags gaan werk hy kwansuis, maar ek sien nooit ’n sent daarvan nie. Ek ontmoet ook nooit een van sy vriende nie.”

Uiteindelik het sy uitgevind hy is werkloos. Daar is geen familietrust nie en die pakhuis met meubels behoort aan iemand anders. Sy woonstel, wat kwansuis verkoop sou word om die nuwe huis te help betaal, is sy ma s’n.

“Maar hy is so glibberig, jy kan hom nie vaspen nie. Hy is altyd die slagoffer, dis iemand anders se skuld. Sy pa, sy vorige meisie.”

Sy het besluit om terug te gaan Gauteng toe. Die huis is later teen ’n groot verlies verkoop. Maar hy oortuig haar wraggies om hom ’n tweede kans te gee. En boonop geld voor te skiet vir ’n sake-onderneming wat hy wil begin.

“Ná twee maande vra my vriende wat soek ek by hom? ‘Jy is net ’n leë tjek vir hom.’ Kort nadat ek alle kontak met hom verbreek het, het hy by iemand anders ingetrek. Sy het my later op Facebook gekontak en gevra of hy ook by my geld geleen het.”

November 2014 andrea streso nov

Lees meer oor Karlien en ander vroue se verhale in die November-uitgawe van SARIE PLUS kenners gee raad hoe om dié man te herken en jouself te beskerm.

 

Wat sê dr. Phil?

Dr. Phil, TV-sielkundige en -ghoeroe, se stuiwer

TEKENS HY IS ’N SWENDELAAR

  • Druk om te trou Hy laat jou glo dis ’n saak van lewe en dood.
  • Vaag oor sy verlede Vra altyd vrae daaroor. As hy weier om te antwoord, wees versigtig. As hy wel antwoord en jy wonder of hy die waarheid praat, vind uit. (Google dit!)
  • Geldsake is duister Hy spog oor sy geld. Of beweer hy het min omdat hy bv. onderhoud moet betaal. Doen speurwerk. Voor julle jul geldsake saamgooi, laat hy jou ’n paar belastingrekords wys. Ook as hy altyd geld wil leen.
  • Jok oor sy ouderdom Sy werklike geboortedatum is dalk iewers op ’n lasbrief.

WAT MAAK JOU WEERLOOS

  • Jy het iets wat hy wil hê Jy hoef nie noodwendig ryk te wees nie. ’n Werk en kredietkaart is dalk genoeg.
  • Goedgelowig Selfs al dink jy jy “lees” mense goed, kan hy jou steeds ’n rat voor die oë draai. Hy jok waarskynlik vandat hy ’n kleuter is.
  • Jy val vir sy groot gebare Hy pak bv. al jou besittings terwyl jy nie by die huis is nie en sit dit in sy plek. Dis nie ’n teken van sy liefde nie, hy probeer jou beheer en so gou moontlik in sy wêreld kry. Wees ook versigtig as hy te vinnig die ja-woord vra.
  • Toets grense met geld Dit gebeur gewoonlik vroeg in die verhouding. Hy nooi jou bv. vir ete en het dan glo sy beursie by die huis vergeet. “Alle bedrieërs laat een of ander tyd hul masker sak met een sin: ‘Ek het geld nodig.’ Beskou dit as die teken dat jy moet vlug,” sê Martie Coetser.

Bron: www.drphil.com

November 2014 andrea streso nov

 

Lees die volledige artikel in die November-uitgawe van SARIE én wenke hoe om die Casanova-bedrieër uit te ken