FOTO Instagram (@therealgrimmie)

FOTO Instagram (@therealgrimmie)

Hieroor praat mense

Ander Orlando-skietdood: Selena Gomez & Justin Bieber in trane!

In nóg ’n skietaanval die afgelope naweek in Orlando, Florida, is die lewe van ’n belowende jong sanger geëis. Die 22-jarige Christina Grimmie, ’n voormalige The Voice-deelnemer, is Vrydagaand doodgeskiet tydens ’n handtekening- en fotosessie ná haar vertoning by die Plaza Live Theater in die stad.

Christina het in 2014 aan die Amerikaanse The Voice deelgeneem, met Adam Levine as haar mentor. Haar duisende aanhangers was geskok, en Selena Gomez en Justin Bieber het intussen huldeblyke aan haar gelewer tydens hul onderskeie vertonings.

Mail Online berig dat Selena Gomez se stiefpa, Brian Teefey, die bestuurder was van Christina. Selena en Christina was vriendinne en die twee het ’n al lang pad saamgestap, het Selena vertel.

Sy het verlede Saterdag, die dag ná Christina se dood, Hillsong Worship se “Transfiguration” vir Christina gesing tydens haar konsert. Selena het vertel wat sy van Christina sal onthou en hoe sy haar reeds geken het voordat sy begin sing het.

Selena is nie die enigste bekende wat Christina se loopbaan gevier en haar hartseer uitgespreek het nie. Justin Bieber, Selena se eks, was ook emosioneel op die verhoog. Hy het gevra: “Grimmie, can you hear me?”.

Rolling Stone berig dat Adam Levine ook met die familie in aanraking was en dat hy onderneem het om vir die begrafnis en haar ma se vlugte te betaal. Die begrafnis en herdenkingsdienste vind môre (Vrydag) plaas.

Christina se broer, Marcus, het ook op sosiale media dankie gesê vir al die ondersteuning:

Ander bekendes soos The Voice-mentor Christina Aguilera, Kesha, Fifth Harmony, Rachel Platten en Charlie Puth het ook hul medelye en ondersteuning vir Christina se familie uitgespreek op sosiale media en tydens vertonings.

BRONNE: USA Today, Mail Online