FOTO Instagram / @Selenagomez

FOTO Instagram / @Selenagomez

Hieroor praat mense

Selena Gomez lewer emosionele toespraak

Die Amerikaanse sangeres Selena Gomez het vir die eerste keer in maande weer in die openbaar verskyn. Sy het haarself in Oktober laat opneem by ’n rehabilitasiesentrum vir depressie en angs.

Selena, wat die meeste volgelinge op Instagram het, ’n hele 103 miljoen, was 13 weke laas op dié platform. Sy het ook in Augustus laas iets getwiet.

Maar gister het sy in ’n rooi rok by die American Music Awards verskyn. Selena het haar eerste AMA-toekenning gewen vir gunsteling- vroulike rock/pop-kunstenaar, berig E! News.

Onafhanklike bronne het in Oktober aan E! News bevestig dat sy in Tennessee opgeneem is. Selena is al sedert die begin van September uit die kollig. Sy het einde Augustus aangekondig dat sy weens die siekte lupus ’n blaaskans van haar wêreldtoer, Revival, gaan vat om net te rus.

In ’n verklaring aan People het Selena destyds gesê: “Ek het ontdek dat angs, paniekaanvalle en depressie die newe-effekte van lupus is en dit kan alles eie uitdagings bring.”

Gister het sy ’n emosionele toespraak gelewer.

“Ek moes stop, want ek het als gehad. Maar in die binnekant was ek so gebroke. Ek soek nie erkenning nie, so ook het ek dit nie meer nodig nie … As jy gebroke is, hoef jy nie gebroke te bly nie.”

Selena het sedert haar toespraak nog nie teruggekeer na sosiale media nie.

Kyk haar toespraak hier:

Haar toespraak het nie net haar aanhangers geroer nie, maar ook talle bekendes. Die Grammy-wenner Lady Gaga het dié foto op Instagram gedeel.

 

Wat is lupus?

Dit word as die “stil siekte” beskryf. ’n Siekte waar die liggaam sy eie gesonde weefsel aanval. En dikwels neem dit jare om die toestand te diagnoseer.

Dis ’n outoïmmuunsiekte. Die algemeenste en gevaarlikste soort is sistemiese lupus eritematose (SLE), ’n chroniese siekte van die bindweefsel. Dit het ’n uitwerking op verskeie liggaamstelsels en is bekend as die “groot nabootser” omdat dit simptome met soveel ander siektes deel.

Dit kan die vel aantas (velletsels en pynlike swelsels wat soos opgehewe kneusplekke lyk), asook gewrigte (vingers, hande, polse en knieë), niere, longe, hart en senuweestelsel.

Sowat 1 uit elke 250 mense ontwikkel dit. Daar is nie ’n kuur nie en simptome word met immuun-onderdrukkers (soos kortikosteroïede) beheer.

Simptome kan die volgende insluit:

• Geweldige moegheid
• Laegraadse koors
• Kwaai gewrigs- en spierpyn
• Veluitslag op lyf
• Gewigsverlies
• Sensitiwiteit vir die son
• Swak sirkulasie in hande en voete
• Haarverlies

Selena het destyds gesê sy gaan ’n blaaskans vat vir haar eie gesondheid. “Ek wil proaktief wees en my gesondheid en geluk nou my top prioriteit maak.”

Lees nou

SA se beste eetplekke – hier is die lys!

The Huffington Post South Africa is hier!