FOTO Instagram / @selenagomez

FOTO Instagram / @selenagomez

Hieroor praat mense

Selena opgeneem vir depressie en angs

Die Amerikaanse sanger Selena Gomez het haarself glo laat opneem by ’n rehabilitasiesentrum vir depressie en angs.

Onafhanklike bronne het aan E! News bevestig dat sy in Tennessee opgeneem is. Selena is al sedert die begin van September uit die kollig. Sy het einde Augustus aangekondig dat sy weens die siekte lupus ’n blaaskans van haar wêreldtoer, Revival, gaan vat om net te rus.

In ’n verklaring aan People het Selena destyds gesê: “Ek het ontdek dat angs, paniekaanvalle en depressie die newe-effekte van lupus is en dit kan alles eie uitdagings bring.”

Sy was 8 weke laas op sosiale media. Selena is die gewildste op Instagram met 101 miljoen volgelinge. En op Twitter het sy 46 miljoen volgelinge.

Wat is lupus?

Dit word as die “stil siekte” beskryf. ’n Siekte waar die liggaam sy eie gesonde weefsel aanval. En dikwels neem dit jare om dit te diagnoseer.

Dis ’n outo-immuunsiekte. Die algemeenste en gevaarlikste soort is sistemiese lupus eritematose (SLE), ’n chroniese siekte van die bindweefsel. Dit het ’n uitwerking op verskeie liggaamstelsels en is bekend as die “groot nabootser” omdat dit simptome met soveel ander siektes deel.

Dit kan die vel aantas (velletsels en pynlike swelsels wat soos opgehewe kneusplekke lyk), asook gewrigte (vingers, hande, polse en knieë), niere, longe, hart en senuweestelsel.

Sowat 1 uit elke 250 mense ontwikkel dit. Daar is nie ’n kuur nie en simptome word met immuun-onderdrukkers (soos kortikosteroïede) beheer.

Simptome kan die volgende insluit:

• Geweldige moegheid
• Laegraadse koors
• Kwaai gewrigs- en spierpyn
• Veluitslag op lyf
• Gewigsverlies
• Sensitiwiteit vir die son
• Swak sirkulasie in hande en voete
• Haarverlies

Selena het destyds gesê sy gaan ’n blaaskans vat vir haar eie gesondheid. “Ek wil proaktief wees en my gesondheid en geluk nou my top prioriteit maak.”

FOTO Unsplash / Agnieszka P

FOTO Unsplash / Agnieszka P

Hierdie is die tekens van depressie:

Om die diagnose te kan maak, moet minstens vier van die volgende simptome ook minstens twee weke lank voorkom:

– Verandering in eetlus; gewigstoename of -verlies

- Slaapprobleme, soos slaaploosheid of te veel slaap

- Geïrriteerdheid, of fisieke lamheid, op ’n daaglikse basis

– Konstante fisieke en/of emosionele moegheid en verlies aan energie

– Intense gevoelens van skuld of hulpeloosheid

– Onvermoë om te konsentreer of besluite te maak

– Gereelde gedagtes aan die dood en/of selfmoord

Indien iemand vermoed dat hy-/syself of ’n geliefde aan depressie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is: Kry so gou moontlik hulp by ’n professionele persoon soos ’n mediese dokter, kliniese sielkundige of maatskaplike werker.

Hierdie is die simptome van ’n paniekaanval:

– Skielike hartkloppings en ’n versnelde hartklop

Sweet

– ’n Stywe bors en ’n asemtekort

– Die gevoel van vasgevang wees

Naarheid

– Die vrees om uit beheer te voel of selfs dood te gaan

– Voel skoon uit jou vel uit

Kry hulp hier:

Skakel SADAG (SA Depressie-en-angsgroep): 0800 75 33 79 (tolvry) of SMS 31393

Besoek www.sadag.org of besoek www.survivorsofsuicide.org.za

Lees nou

Los vandag jou bra by die huis. Sien hier hoekom!

Bob Dylan wen Nobelprys

5 slim planne met bokskoek