Hieroor praat mense

‘Sien jou netnou op facebook’

As jy dit nie self gebruik nie, is die kanse goed jy het ’n kind, vriendin of kollega wat gereeld op MXit of facebook klets. Of op YouTube, MySpace en die honderde ander sosiale webwerwe, blogs en internetafspraakdienste waarvan die virtuele ruimte wemel en waar jy jou hart kan uitpraat, mense kan ontmoet en nuwe vriende kan maak.

Soos prof. Gertie Pretorius, direkteur van die Instituut vir kinder- en volwasseneleiding aan die Universiteit van Johannesburg, dit stel: Virtuele gemeenskappe het ons manier van kommunikasie vir altyd verander. Elke jaar kies die tydskrif TIME sy Person of the Year. Mense soos George W. Bush en Bono het al op dié uitgawes se voorblaaie verskyn. Verlede jaar het jóú gesig op die uitgawe van 25 Desember vanuit die voorblad se weerkaatsende silwer “rekenaarskerm” na jou teruggestaar, want danksy die internet kan jou stem hard en duidelik gehoor word.

TIME-joernalis Lev Grossman skryf: “Die internet is ’n hulpmiddel om die klein bydraes van miljoene mense saam te vat en elkeen te laat geld. Dit gee jou ’n geleentheid om na ’n rekenaarskerm te kyk en te wonder wie daar buite na jou terugloer.”

Jy betree ’n onbekende wêreld vol intriges en avonture. ’n Opwindende wêreld in misterie gehul.

Die ongekende gewildheid van sosiale netwerk-webwerwe onderstreep ook die mens se behoefte om te voel hy behoort tot ’n groter geheel en kontak te maak met ander wat jou belangstellings deel, meen Gertie. “Mense wat deel is daarvan word soos bure.

 

Op die internet kan elkeen se bydrae geld – TIME-joernalis, Lev Grossman

 

“Jy weet elke dag wat in jou vriende se lewens gebeur. As ek vandag verkoue het, kan almal daarvan weet nes dit in die verlede op ’n klein dorpie was.”

En soos Grossman tereg sê, op die internet kan elkeen se bydrae geld. Dis ’n plek waar jy ’n spoor laat en saak maak. Gebruik jy dit reg, kan dit jou lewe verryk. Laat jy toe dat dit jou lewe só oorneem dat jy nie meer ’n “regte” lewe het nie, verskraal dit eerder jou menswees.

Op ’n praktiese vlak bied virtuele gemeenskappe ’n maklike manier om te kommunikeer. Toe Adele Engelbrecht, ’n student, vir ’n goeie vriend vra hoe hulle in verbinding gaan bly vóór sy vroeër vanjaar na Doebai geëmigreer het, antwoord hy: “Deur facebook!”

Met facebook skep jy ’n profiel op ’n webtuiste waar jy daagliks met vriende kan gesels, ou vriende kan opspoor en inligting van jouself kan deel.

“Dis ’n vinnige manier om met ’n groot groep mense te praat, maar jy kan ook  persoonlike boodskappe aan individue stuur,” sê Adele. En ja, dit laat jou goed voel oor jouself. “Dit laat my voel ek het ’n bewonderaarsklub, en ek dink almal wat daaraan behoort, voel so. Dit doen jou selfbeeld goed as jou vriendelys bly groei. Die werklike lewe is meer realisties, maar dis lekker om soms na ’n virtuele sprokieswêreld te ontsnap.”

Antonie Roux, uitvoerende hoof van Naspers se globale internet-afdeling, sê: “Ek is ’n kranige amateur-fotograaf, maar hoeveel mense in die Kaap het dieselfde belangstelling en gebruik dieselfde toerusting? Daar’s nie ’n Nikon D200-fotografieklub in die Kaap nie. Deur die internet het ek groepe gevind wat my belangstelling deel en ek behoort nou aan drie van hulle.”  

Erika Truter, ’n 46-jarige ma van twee tieners, “klets” graag met haar vriendinne deur MXit, ’n selfoondiens waarmee jy oor die internet kan kommunikeer. Dis bekostigbaar om so in kontak te bly (jy betaal skaars 2c om ’n boodskap te stuur), sê sy. “Terwyl ek in die spreekkamer wag om die dokter te sien, kan ek vinnig aanlyn gaan en met iemand gesels.”

Erika Théron, ’n onderwyseres wat die afgelope twee jaar in Engeland skool gee, sê dis soms makliker om op facebook te kommunikeer. “Ek’s teruggetrokke as ek in vreemdelinge se geselskap is en voel minder blootgestel in ’n virtuele gemeenskap. Afstand is jou vriend. Om die een of ander rede gee dit my meer selfvertroue.”  

Raad vir ouers

 

Prof. Gertie Pretorius van die UJ en Badia Daniels, intern-kliniese sielkundige, gee die volgende raad vir ouers.

  • Besef virtuele gemeenskappe en -kommunikasie bestaan en jy kan nie jou kinders daarvan weerhou nie.
  • Skep ’n vertrouensverhouding met jou kind sodat hy/sy gemaklik voel om oor enigiets, goed of sleg, wat in ’n virtuele gemeenskap gebeur met jou te gesels.
  • Sien die gevaartekens raak. As jou kind heeltyd voor die rekenaar sit, nie in die nag slaap nie of heeltyd met sy/haar selfoon besig is, praat met hom/haar daaroor.
  • Stel vir jou kind grense oor die gebruik van die internet en selfoon.
  • Laat jou kind verstaan rekenaars en selfone is deel van die lewe, maar nie dié lewe nie.
  • Stippel die gevare vir jou kind uit oor interaksie met vreemdelinge. Laat hulle verkieslik net met vriende virtueel kommunikeer.
  • Moet nooit dat jou kind sy van, skool of adres ontbloot op sosiale netwerke nie. Hulle moet so min as moontlik persoonlike inligting uitgee – mense met kwade bedoelings kan allerhande brokkies slinks gebruik om by hulle uit te kom.
 

Dié soort kommunikasie is ’n goeie medium vir mense wat sukkel om van aangesig tot aangesig te kommunikeer, maar die interaksie bly redelik oppervlakkig, sê Nadia van der Merwe, dosent in internet-joernalistiek in die departement kommunikasiekunde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ). “As jy virtueel met iemand ‘praat’ kan jy nie die mens se stemtoon hoor nie. Jy’s onbewus van lyftaal en gesigsuitdrukkings, en oogkontak gaan verlore.” Jy vorm dus nie ’n volledige prentjie van wie die mens is en wat hy of sy regtig sê nie.

Erika (Théron) sê: “Virtuele gemeenskappe gee nie die intieme kontak en kommunikasie wat ons van ander mense nodig het nie. Die meeste mense met wie ek op facebook gesels, was reeds my vriende vóór ek dit ontdek het. Ek het oppervlakkige vriendskappe met die ander met wie ek op die webwerf praat. Maar dit is tog lekker om uit te vind wat met my ou laerskool- en hoërskoolvriende gebeur.”

Persoonlike kommunikasie bly steeds die hoeksteen van verhoudings, sê Nadia. “As jy regtig ’n vriendskap wil bou, moet virtuele kontak aangevul word deur persoonlike kommunikasie.”

Antonie beskou virtuele gemeenskappe as ’n verlengstuk van menslike kommunikasie, en nie as ’n plaasvervanger nie. “My kinders het beter sosiale vaardighede as wat ek op hul ouderdom gehad het. Hulle kan met soveel verskillende mense van verskillende kulture deur die internet kommunikeer en van hulle leer.”

Baie ouers beskou virtuele kommunikasie as ’n euwel, want hul kinders praat nóg minder met húlle, omdat hulle heeltyd op die internet is. Ouers weet nie noodwendig met wie hulle gesels nie, leer nie hul “vriende” ken nie en kan uitgesluit voel uit hul lewens. Maar sommige ouers het agtergekom jy maak kommunikasiekanale oop deur saam met hulle MXit en facebook te gebruik.

Erika (Truter) sê MXit maak dit makliker om sensitiewe sake met haar seuns te bespreek. “My 15-jarige seun het ’n ruk gelede deur ’n moeilike tyd gegaan. Dit was vir hom moeilik om met my daaroor te praat. Hy’t my van sy probleem deur MXit vertel. Daarna kon ons van aangesig tot aangesig daaroor praat. Maar MXit is nie ’n magic fix vir ’n swak verhouding nie,” sê sy. “Ek hou die goeie verhouding wat ek reeds met my seuns het gedeeltelik in stand met MXit.”

Die internet kan ook jou kanse vergroot om ’n lewensmaat te ontmoet, veral as jy gereeld op mense se profiele gaan rondloer, sê Nadia. Die Afrikaanse Idol, Dewald Louw, het by een van sy konserte op vanjaar se InniBos-kunstefees op Nelspruit ’n meisie opgemerk. Hy het haar later weer op facebook “raakgeloop” en haar selfoonnommer gekry, en hulle het mekaar op MXit beter leer ken.

Die gewese Survivor-ster Brigitte Willers en die Olimpiese swemheld Ryk Neethling het mekaar ook op facebook ontmoet en goeie vriende geraak. Nou wonder almal of daar romanse in die lug is. “Dis die storie van die 21ste eeu,” sê Nadia. “Digitale ontmoetings is aan die orde van die dag.

Maar jy kan ook té onafhanklik van virtuele gemeenskappe raak. Op die internet praat baie mense oor hul verslawing aan dié soort kommunikasie.

Ene Sherri Flynn vertel hoe sy sowat 10 keer per dag op die webwerf ingaan en ure daar deurbring. “Ek het geglo die fassinasie sou oorwaai, maar dit gebeur nie.”

Badia Daniels, ‘n intern-kliniese sielkundige van Port Elziabeth, sê mense wat sukkel met persoonlike interaksie kan hulself maklik sosiaal isoleer en net later deur middel van die internet kommunikeer. So kan hulle selfs méér vereensaam as wat hul reeds is en nie hul sosiale vaardighede ontwikkel nie.”

In baie gevalle neem mense ’n ander identiteit aan as hulle virtueel kommunikeer. “Dis hoekom hulle liewer nie die ‘vriende’ wat hulle deur virtuele gemeenskappe vorm persoonlik wil ontmoet nie. Die verhouding bly oppervlakkig.” Hoe jy mense oor die internet hanteer, verskil van hoe jy dit in die regte lewe doen, sê sy.

“Jy kan byvoorbeeld ’n verhouding oor die internet beëindig deur die mens bloot van jou profiel te verwyder, waar jy in die werklike lewe sou moes verduidelik wat jou pla. Jy kan ook té gou intieme besonderhede van jou lewe op die internet deel omdat jy veiliger voel. Dis veral gevaarlik as jy iemand nie goed ken of al ontmoet het nie.”

Kuberruim-sake

 

Sosiale webwerwe en die internet raak toenemend ook ’n plek om sake en bemarking te doen. Die Britse sangeres Lily Allen het in 2005 ’n paar van haar demo’s op MySpace, ’n sosiale netwerk-webwerf, geplaas ná haar platemaatskappy traag was om haar eerste album uit te reik. Binne vier maande is 9 000 afgelaai. Dit het uiteindelik gelei tot die uitreiking van haar album, Alright, Still (Elle, Julie 2007).

Die sangsensasie P Diddy het vroeër vanjaar ’n advertensie op MySpace geplaas om ’n persoonlike assistent te soek. Dié wat in die pos belang gestel het, moes hul video-aansoeke op YouTube, ’n video-webwerf, plaas en P Diddy se aanhangers kon vir hul gunsteling-aansoeker stem.

Reinhardt Buys, IT-, internet en mediareg-spesialis sê: “Anders as tradisionele regsfirmas het ons byna 95% van ons kliënte nog nooit persoonlik ontmoet nie. Ons beraadslaag met hulle via e-pos, ons webruimte en Skype, die internet-telefoondiens. Dis goedkoper, vinniger en geriefliker vir almal en só kan ons ook kliënte wêreldwyd help.”

 

Huwelike het al in die moeilikheid beland omdat mense verhoudings op die internet aanknoop. Dikwels sou hulle dit nooit in die regte lewe doen nie, maar aanlyn is dit makliker om te flankeer. Hoe meer jou ego gestreel word, hoe verder kan jy ingetrek word. Boonop het die aanlyn-verhouding nie al die probleme en eise van ’n regte verhouding nie. Omdat dit so maklik is om aanlyn by iemand te “kuier” kan dit ook gou ál jou tyd in beslag neem en voorkom dat jy belangriker dinge doen.
Verskeie maatskappye in Suid-Afrika blokkeer die gebruik van facebook omdat hul werknemers minder produktief raak, luidens News24 (2 Augustus 2007).
Tania Rademeyer (skuilnaam), grafiese ontwerper van Kaapstad, sê sy voel soms haar privaatheid word op ’n sosiale netwerktuiste soos facebook binnegedring. “Gewoonlik sou ek min of niks vir sommige van my facebook-kennisse te sê gehad het nie. Ons het tog om ’n sekere rede kontak verloor, maar ek voel verplig om hulle as ‘vriende’ te aanvaar omdat dit ’n klap in hul gesig sal wees as ek dit nié doen nie.”
Om watter rede jy ook al virtuele kommunikasie gebruik, is daar sekere reëls om jouself te beskerm. “Die reëls bly dieselfde in die virtuele wêreld: Weet wie Piet is vóór Piet jou vriend word,” sê Antonie.
“Vóór jy registreer, maak seker jy weet watter gevolge dit kan inhou,” sê Gertie. “Jou privaatheid is minder beskerm en mense kan maklik seerkry. Van die groepe op MySpace het een doel voor oë: Om te skinder. Baie mense wat die internet gebruik se bedoelings is nie suiwer nie.”
Reinhardt Buys, IT-, internet en mediareg-spesialis, stel voor jy moet vasstel of die webwerf ’n privaatheidsbeleid of iets soortgelyks het wat verduidelik wat met jou persoonlike inligting sal gebeur. “Moet nooit jou huisadres en ander inligting verskaf en dit vir aanlynkwaaddoeners moontlik maak om jou fisiek op te spoor nie.”