mrt08spesialeverslag1a
Hieroor praat mense

Skool by die huis?

Tuisskool 1: Dit lyk soos ’n gewone laerskoolklassie. Klein tafeltjies en stoeltjies, die mure vol kindertekeninge. “Ek is baie gestruktureerd,” vertel Miriam. “Ek volg ’n daaglikse leerplan, en ek en die kinders (9 en 5) werk daarvolgens.”

Tuisskool 2: In die kombuis en badkamer staan toerusting vir wetenskap-eksperimente permanent rond. Nes die mikroskoop in die sitkamer. “Ek gebruik nie ’n spesifieke kurrikulum nie,” sê Tracey. “Ek neem wel idees daaruit en bou ’n leerprogram om my kinders (10 en 7) se belangstellings.”

Dis twee van tuisonderrig se vele gesigte, soos uitgebeeld in ’n DVD* oor hierdie onderwerp. En tussen dié uiterstes is ’n benadering wat by elke gesin se unieke behoeftes pas. Dis juis dié plooibaarheid wat tuisonderrrig vir baie mense ’n aanloklike keuse maak. Plaaslik, maar ook in onder meer Amerika, Brittanje, Australië, Kanada en Nieu-Seeland. Dis nie bekend hoeveel tuisskolers in SA is nie, omdat nie alle ouers by die onderskeie onderwysdepartemente registreer nie (sien kassie: Wat sê die wet?). Leendert van Oostrum van die Pestalozzi Trust se Sentrum vir Tuisonderrig in Pretoria meen daar is “tussen sowat 30 000 en 120 000 tuisleerders”. (Leendert het ’n M.Ed.-graad in tuisonderrig.)

 

Waarom tuisonderrig?

  • Ouers kan meer persoonlike aandag aan kinders gee en hul eie waardes en norme aan hulle oordra.
  • Ontevredenheid met openbare skole: dissipline, dalende akademiese standaarde en Kurrikulum 2005.
  • Kinders word nie noodwendig op skool volgens ouers se godsdienstige oortuigings onderrig nie.
  • Kinders met leerprobleme sukkel in openbare skole.
  • Hulle is dalk die teiken van vernederende aanmerkings as hulle akademies sukkel.
  • Kinders word volgens hul individuele behoeftes onderrig. Die begaafde kind en die een met leerprobleme kan albei presteer.
  • Hulle ondervind minder stres omdat minder druk van buite op hulle geplaas word. Hulle vorder teen hul eie pas.
  • Hulle kan ’n lewenslange leergierigheid ontwikkel, iets wat nie noodwendig deur onderwysers in openbare skole aangewakker word nie.

Bron: Dierdré Bester, M.A.-verhandeling

 

Baie ma’s sukkel om die rol van ma én onderwyser te kombineer – dr. Caroline Leaf, breinkenner

 

Volgens dr. Caroline Leaf van Johannesburg, wat spesialiseer in breinnavorsing en skrywer van Skakel jou brein aan (Tafelberg, 2005), groei tuisonderrig weens die “skokkende” toestand waarin die onderwys wêreldwyd verkeer. “Kinders weet nie meer hoe om te dink nie. En dis wat tuisonderrig jou by uitstek leer. Dis ’n vaardigheid wat hulle nie verloor nie, al gaan hulle later na ’n openbare skool,” sê sy.

Caroline se kinders het ervaring van openbare skole én tuisonderrig. Sy gee wêreldwyd lesings oor leertegnieke wat sy ontwikkel het, en haar man, Mac, en vier kinders, Jessica (16), Dominique (13), Jeffrey-John (10) en Alexandria (9), reis saam met haar. Hulle het ’n private onderwyser, en Jessica het pas haar sg. A-levels (’n vlak bo matriek) voltooi. Die gemiddelde ouderdom daarvoor is 19.

Dis ’n voordeel van tuisonderrig – kinders werk vinniger deur die kurrikulum. In ’n openbare skool word soveel tyd aan nonsens bestee, sê Marianne Nicol, mede-uitgewer van ’n kostydskrif in Australië. Sy het gr. 11 en matriek in een jaar voltooi nadat sy op haar eie tuisonderrig begin doen het. “Ons het van Pretoria na Wildernis verhuis en ek het moeilik by die plattelandse skool aangepas. Ek het nie beplan om twee grade gelyk te doen nie, maar ek het baie vinniger gewerk.” Wat Caroline wel by tuisonderrig mis, is die sosialisering. Hulle emigreer vanjaar na Amerika en haar kinders sal dan teruggaan skool toe – vir die sosiale sy daarvan.

Sy glo kinders moet aan tradisionele én tuisonderrig blootgestel word. Maar dis harde werk om te sorg dat jou kind genoeg vriende het. Jy moet ook sport-aktiwiteite reël – iets wat op skool natuurlik gebeur. “My kinders is naweke uitgehonger vir geselskap, al neem hulle by private klubs aan sport deel.”

Die gebrek aan sosialisering is ’n beswaar wat tuisopvoeders gereeld hoor. Soos Linda Kotze van die Vaaldriehoek sê: “Ek kry baie teenkanting weens die persepsie dat tuisonderrig my kinders, Melissa (9), Carla (7) en Anel (3), heeldag afsonder van die samelewing en hulle net met Ma interaksie het.” Sy het haar beroep as ingenieur laat vaar om tuisonderrig te gee. “Ons lewens was te gejaagd. Ek wou ook meer tyd saam met my kinders in hul vormingsjare deurbring.”

Cornelia van Oostrum en haar twee susters, Uda (13) en Katrina (9), was nooit in ’n openbare skool nie. Sy’s ’n musiekstudent in haar eerste jaar aan Unisa en gee musieklesse vandat sy 16 jaar oud is.

“In ’n openbare skool is jou maats gewoonlik in dieselfde graad as jy. Maar my vriende was kinders in my straat en in my hokkiespan, hulle het saam met my klavierlesse geneem en in ’n orkes gespeel. Ek het geleer om met baie soorte mense oor die weg te kom,’n goeie voorbereiding vir die beroepswêreld.” Op emosionele vlak word sy dikwels ouer geskat as wat sy is. “Ek het in gr. 8 in Tuks se simfonie-orkes begin speel, die enigste een wat nog op skool was. En niemand wou glo ek is so jonk nie!”

Dit werk vir húlle

Petro Weber van Johannesburg beskryf haarself as “modern, hip en gebalanseerd”. En haar gesin is “soos enige ander een”. Een verskil: Sy onderrig haar seun, Ruben (10, gr. 5) sedert verlede jaar by die huis. Haar man, Zieg, is ’n ortodontis met praktyke in Johannesburg en op Stellenbosch. Elke maand bring die gesin ’n week deur op Stellenbosch. “Ruben was nog altyd ’n alleenkind en ‘anders’ as ander skoolkinders. Hy is volwasse vir sy ouderdom en het nie altyd ingepas nie. Hy is nou nie meer onder druk om dit te doen nie. Hy stel nie sy geluk en vermaak gelyk aan sy eksterne omgewing nie, dit kom van binne af. Omdat hy gewoond is om alleen te wees vermaak hy homself. En sy kreatiwiteit het begin vloei: Hy bou die mooiste motors en hyskrane met Lego-blokke. Ek glo dis omdat sy omgewing rustiger is. Tuisonderrig het ook sy identiteit en selfvertroue ’n hupstoot gegee.”

 

Rene Hartman woon op die plaas Mooigelegen tussen Potgietersrus en Marble Hall. Haar laatlam-tweeling, Christiaan en Rudolph (11), het pas gr. 5 deur tuisonderrig voltooi. “Ek het nie baie vertroue in uitkomsgebaseerde onderwys nie. En ’n Christelike opvoeding is vir my en my man, Johan, belangrik. Daar is ook die praktiese oorweging: Ons woon 60 km van Potgietersrus af. Die seuns is verlede jaar toegelaat om aan Lmpopo se krieketproewe op Polokwane deel te neem. Hulle is ook genooi om vanjaar rugby en krieket te speel by die plaaslike laerskool op Roedtan, sowat 13 km van hier. Hulle neem kunsklasse en klavierlesse op Potgietersrus. In die Septembervakansie het hulle ’navontuurkamp saam met 40 ander kinders bygewoon. Hulle is spontane kinders wat volgens die kampleiers goed ingeskakel het.”

  • Kontak Caroline Leaf: drcarolineleaf@swoyb.com; Pestalozzi Trust se Sentrum vir Tuisonderrig: 012 330 1337 of www.pestalozzi.org; Cape Home Educators: 088 127 4484; Oos-Kaapse Vereniging vir Tuisonderrig: 082 975 1721; KwaZulu-Natalse Vereniging vir Tuisonderrig: 088 125 2799.

Maar Martie Swanepoel, ’n joernalis van Parys, Vrystaat, sê sy sal tuisonderrig nie aanbeveel nie – tensy jou kind aktief by ’n sosiale groep betrokke is. Haar seun, Tinus Pieterse, het verlede jaar gr. 9 deur tuisonderrig voltooi. Hy het akademies uitstekend presteer, maar is vanjaar weer in ’n openbare skool. Sy het bekommerd geraak, want hy het elke middag in sy kamer gesit en op sy kitaar of rekenaar gespeel.

Caroline Leaf het nóg ’n voorbehoud. Dis veral moeilik vir Ma, op wie se skouers die verantwoordelikheid rus. “Ek kry baie terugvoer van ma’s wat sukkel om die rol van ma én onderwyser te kombineer. Vroue ondervind reeds soveel rolkonflik . . . “Jy bereik ’n punt waar jy motor bestuur en aanhou om die kinders te leer. Dis natuurlik om dinge aan hulle te wil verduidelik. Maar as jy tuisonderrig gee, sien hulle dit nie altyd só nie. Jy begin iets vertel en hulle sê: ‘Ma, dis nie nou skool nie.’ “

Lizebelle Oosthuizen, opvoedkundige sielkundige van Pretoria, het ’n ander prentjie gekry in navorsing vir haar M.Ed.-graad. Drie ma’s met wie sy onderhoude gevoer het, het hulself primêr as ma gesien, met die onderwysrol meer op die agtergrond. “Hulle wíl daardie tyd saam met hul kinders deurbring. Dis vir hulle lekker om by die kinders betrokke te wees – hoe hulle leer en sosialiseer. Hul verhouding met hul kinders is beter as voorheen en daar is baie spontaneïteit.”

 

’n Tuisonderrig-ma hoef nie al die kennis te hê nie – Linda Kotze, Vaaldriehoek

Volgens Linda Kotze kan ’n mens nie ’n leer-omgewing skep as daar ’n swak verhouding tussen gesinslede is nie. Die kinders is soggens aangewese op mekaar en móét eenvoudig goeie maats wees. Dit verbeter dus gesinsverhoudinge. “Skooldissipline” was nie van dag een af maklik nie, erken sy. “Melissa het ná meer as ’n jaar besef óf sy laat my toe om haar op dié leerpad te lei óf sy gaan niks leer nie. Met haar sussies is dit makliker. Hulle het geleidelik in tuisonderrig ingegroei.”

’n Tuisonderrig-ma hoef nie al die kennis te hê nie, sê sy. “Hulle weet ek weet nie alles nie. Maar ons sal saam na die antwoord soek.” Volgens Linda is haar kinders se leer-ervaring beskermd, maar nie hul lewe nie. “Hulle het gereeld buitemuurse aktiwiteite saam met maats in openbare skole. Ná skool en by buitemuurse aktiwiteite is hulle aan net soveel kritiek as hul skoolmaats blootgestel.”

Só maak mens

  • Heelwat leermateriaal is beskikbaar, soms heeltemal of gedeeltelik op rekenaar.
  • Onderwysmetodes wissel van gestruktureerd tot ongestruktureerd. Pleks van ’n kurrikulum kan kinders bv. navorsing doen oor onderwerpe wat hulle in ’n spesifieke stadium interesseer.
  • Navorsing toon die ouer se kwalifikasies het geen invloed op die tuisskoler se prestasie nie.
  • Sommige tuisleerders skryf eksamens soos deur die kurrikulumverskaffer voorgeskryf. Dikwels verkies ouers dat hul kinders nie eksamen skryf nie, maar hulle word gereeld deur ’n opvoedkundige sielkundige getoets. As hulle na ’n openbare skool wil terugkeer, kan hulle volgens wet nie toegang geweier word nie. Hul ouderdom minus ses bepaal die graad waarin hulle gesit word. Vir matriek moet jy die kurrikulum van een van die elf geakkrediteerde eksamenrade volg. (Die nege provinsies, Onafhanklike Eksamenraad en Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys.) Plaaslike universiteite erken ook die Cambridge-kurrikulum. En daar is alternatiewe maniere om universiteitstoelating te kry sonder matriek.
  • ’n Kurrikulum kan jou enigiets van R600 p.j. tot meer as R10 000 p.j. per kind kos. Die gewildste voorafverpakte programme kos tussen R3 000 en R4 000 per kind p.j.

       Vir meer inligting besoek www.pestalozzi.org

Maar is daar ma’s wat liewers nie tuisonderrig moet aanpak nie? Ma’s wat dalk te krities, perfeksionisties of nie baie geduldig is nie? Leendert sê: “Net soos daar nie ’n maatstaf is om te bepaal of iemand ’n goeie onderwyser gaan wees nie, is daar nie ’n manier om vas te stel of ’n ouer geskik is vir tuisonderrig nie. En ’n uiters perfeksionistiese ma is dalk net wat ’n uiters perfeksionistiese kind nodig het.”

Tuisleerders en hul ma’s is ook geensins op ’n eiland nie. Hulle vorm ondersteuningsgroepe en neem deel aan ’n netwerk van aktiwiteite. In die Vaaldriehoek-omgewing het tuisleerders die afgelope jaar ’n konsert, swemgala en entrepreneursdag gehou. Daar was besoeke aan die Munt, ’n leeuplaas, bakkery, museum, voëlpark, Waterworld en ’n plaas in plant- en skeertyd.

Linda meen: “’n Ouer wil die beste skoolopleiding vir sy kind hê. Vir party is dit tuisonderrig, vir ander ’n tradisionele skool. Maar tuisonderrig is hier om te bly.”

*Pietie Strobos het die HOPE family/familie INFORIUM gestig om tuisonderrig-ouers te adviseer. Vir die DVD kontak Pietie, wat Tirsa (9) en Anje (6) tuis onderrig, by 079 632 9655 of hope@SaHomeEducation.co.za of besoek www.aHomeEducation.co.za

Sien jý daarvoor kans? Onthou . . .

  • Ouers wat tuisonderrig gee, het min tyd vir hulself.
  • “Huis” en “skool” word nie geskei nie, en “skool” kan selfs naweke insluit.
  • Dit verg baie dissipline van die ouer.
  • Ouers moet deeglik beplan en hul dag organiseer. Hulle word nie as tuisonderwysers opgelei nie – dit is ’n moeilike selfleer-proses.
  • Dit kan duur wees. En een van die ouers moet boonop sy/haar loopbaan opgee.
  • Sonder ’n ondersteuningsgroep kan ouers vereensaam.
  • Dis ’n groot verantwoordelikheid, en as ouers misluk, kan hulle net hulself die skuld gee.

Wat sê die wet?

Tuisonderrig is van 1996 wettig in SA. Kinders wat nog skoolpligtig is (15 en jonger), kan as tuisleerders by die onderskeie onderwysdepartemente registreer. Volgens Leendert van Oostrum van die Pestalozzi Trust se Regsfonds vir Tuisonderrig registreer baie kinders egter nie weens kinkels in die beleid van provinsiale onderwysdepartemente. Bv. bewys moet gelewer word dat tuisleerders se onderrig voldoen aan die minimum-vereistes van Kurrikulum 2005 en dat die gehalte nie minderwaardig is nie. Maar die departemente is vaag oor wat dié vereistes is en wat die standaard van onderwys behels, sê Leendert. Ouers wat tuisonderrig oorweeg, moet die onderwysdepartement kontak vir die nodige vereistes en kan ook verdere hulp kry by organisasies soos die Pestalozzi Trust.

Volgens navorsing . . .

Die basiese geletterdheid en syfervaardighede van tuisleerders is baie beter as dié van leerders in openbare skole, het Dierdré Bester, ’n Pretoriase onderwyseres, bevind in haar M.A.-verhandeling. Tuisleerders in gr. 4 was gemiddeld 90,5% geletterd, teenoor 48,1% van leerders in openbare skole. Hulle gemiddelde vlak van syfervaardigheid was 82,4% teenoor hul eweknieë in openbare skole se 30,02%. Hulle het gemiddeld tot goed gevaar in sosiale vaardighede soos selfvertroue, selfbeheersing, deelname in groepverband, formele verhoudinge met volwassenes en om vriendskapsbande te vorm.