Koekedoor copy
Hieroor praat mense

Skryf nou in vir Koekedoor se tweede reeks!

Ná ’n suksesvolle eerste reeks van Koekedoor, word daar reeds weer gesoek na deelnemers vir die volgende reeks – dalk is dit dié keer jou kans!

Die bakrevolusie ontketen deur Koekedoor, die land se eerste en grootste werklikheids-bakkompetisie, kry opnuut momentum met kykNET se aankondiging dat ’n opvolgseisoen vanjaar verfilm word vir uitsending in 2016.  Dit word weer in Tulbagh op die historiese Twee Jongegezellen-landgoed verfilm met tien deelnemers wat mekaar die bakstryd aansê.

Bak-entoesiaste het tot 7 Augustus geleentheid om in te skryf vir die kans om in die Koekedoor-stoor mee te ding vir die titel as die beste amateurbakker in die land, en die groot pryse wat op die spel is.

“Die eerste seisoen van Koekedoor het nie net helde van Afrikaanse bakkers gemaak nie, maar ook vir hulle uitmuntende nuwe loopbaan- en entrepreneursgeleenthede geskep,” sê Marguerite Albrecht, opdraggewende vervaardiger. “Koekedoor se gewildheid val saam met ‘n wêreldwye oplewing in gebak en nuwe waardering van tuisgebak. Die formaat van die program bied ook baie goeie vermaak; die drama wat om die stoof afspeel en die deelnemers se hantering van gebak-dilemmas is uiters boeiend.”

Volgens mede-beoordelaar Mari-Louis Guy maak die program die misterieuse wêreld van gebak toeganklik. “Mense is onnodig bang gepraat oor bak. Koekedoor wys die prettige kant van bak, asook hoe uitdagend, skeppend en opbouend dit kan wees. Dit wys ook dat die mees gesoute bakkers flaters maak.”

koekedoor beoordelaars1

Mari-Loui, Tiaan en Elizabeth

Elizabeth Cloete, grande dame van Koekedoor en komiteelid van die VLU-Kaapland se beoordelingspaneel, moedig almal met ’n aanleg vir bak aan om in te skryf. “Ons is ’n baknasie. Ons soek die land se voorste bakkers, die melktertmakers, die koekversierders, kleinkoekie-kenners en die knap hande van die basaar-gebaktafels. Of jy bak vir die gesin, vir ’n inkomste of net vir die lekkerte, ons wil van jou hoor.”

En, voeg sy by, as jy nie self ’n bakker is nie, kan jy bydra tot die bruisende Afrikaanse bakkultuur deur ’n goeie amateurbakker waarvan jy weet aan te moedig om in te skryf.

Volgens Tiaan Langenegger, die derde lid van die beoordelaarspan en vorige wenner van Kokkedoor, is dit ’n lewensveranderende ervaring om deel te wees van so ’n groot produksie. “Die doel is om te wen, maar selfs net om die oudisie by te woon is so stimulerend dat mense van nuuts af verlief raak op ons baktradisies.”

Wie vir Koekedoor 2 kan inskryf:

Koekedoor se deelnemers sal die diversiteit van amateurbakkers in Suid-Afrika weerspieël met mans en vrouens van verskillende ouderdomsgroepe van regoor die land. Deelnemers moet 18 of ouer wees en ’n Suid-Afrikaanse of Namibiese burger wees met Afrikaans as eerste taal.

Slegs amateurbakkers wat hul bakvaardighede sonder professionele kwalifikasies of ondervinding in ’n professionele patisserie of sjefskombuis opgedoen het, kan inskryf. (Volledige voorwaardes word verskaf op die kykNET-webwerf.)

Die keuringsproses:

’n Aansoekvorm word ingedien (teen 7 Augustus) vir die eerste rondte van keuring. Aansoekers wat hier deurdring word na ’n oudisie genooi wat van 24 tot 27 Augustus in Johannesburg, Bloemfontein en Kaapstad gehou word. Tydens die oudisie kry aansoekers die geleentheid om hul koekbakvernuf aan ’n proepaneel te bewys, waarna ’n praktiese tegniek-rondte en ’n filmtoets volg.

Meer oor Koekedoor:

  • Koekedoor is ’n handelsmerkuitbreiding van Kokkedoor en word vervaardig deur Homebrew Films met Sanet Olivier as regisseur.
  • Die beoordelaarspaneel bestaan uit Elizabeth Cloete – veteraan-VLU-beoordelaar; Mari-Louis Guy – koekontwerper, stilis en trend-kenner, asook sjef Tiaan Langenegger – Kokkedoor 1-wenner wat nou sy eie kookateljee bedryf.
  • Elke episode het ’n tema en drie bakuitdagings: ‘Tuisgebak’ wat fokus op familiegunstelinge; ‘Fyngebak’, ’n tegniek- en tydtoets met gevorderde gebak; en ‘Pronkgebak’ waar deelnemers iets skouspelagtig bak wat hul eie stempel dra.
  • Koekedoor Seisoen 1 se wenner, Mareli Visser van Douglas, het R200 000 kontant, ’n Honda Ballade en ’n kookboekkontrak van Human & Rousseau gewen.
  • Koekedoor Bak, ’n kookboek met hoogtepunte van die eerste seisoen, verskyn eersdaags op die rak.

Vir inskrywingsvorms, voorwaardes en nadere inligting besoek kykNET.co.za,  www.facebook.com/koekedoor of @koekedoor op Twitter.