FOTO Freeimages.com / Tash Whiteley

FOTO Freeimages.com / Tash Whiteley

Hieroor praat mense

Haai-slagoffer maak weer grappies

René Nel van Bettysbaai, wat verlede week deur ’n haai op Waenhuiskrans aangeval is, is vasberade om gou te herstel … “Want hy wil daai haai gaan ‘jag’,” spot sy ortopeed, dr. Albert du Toit, laggend.

René, wat gereeld duik, is onkant gevang deur dié aanval. Dié 43-jarige is op Donderdagaand, 23 Junie, deur ’n span dokters by die Cape Gate Medi-Clinic ingewag: “As gevolg van die soort beserings wat haaislagoffers opdoen – gewoonlik baie slegte vel-, been-, spier- en bloedvatskade, terwyl ’n ledemaat soms afgebyt word – het ons seker gemaak dat die regte personeel daar was met sy aankoms: drs. Anton Ras, plastiese chirurg, Alex Acker, narkotiseur en ook René se swaer, Shaun Williams, algemene chirurg, Pierre Mouton, bloedvat-chirurg, en ek,” vertel dr. Du Toit.

Volgens hom was hulle dankbaar dat hy nie ’n ledemaat verloor het of slagaar-beserings opgedoen het nie. “Hy was ook goed gestabiliseer deur die ambulansdiens van Bredasdorp, nogal my tuisdorp.’’

Volgens CNN was daar in 2015 ’n rekordgetal van 98 haai-aanvalle wêreldwyd en kenners vermoed dit sal vanjaar toeneem. Een van die redes, glo hulle, is dat die bevolking toeneem en al hoe meer mense tyd in dié visse se woonplek deurbring. Hulle meen ook klimaatsverandering speel ’n rol. Hoe warmer dit is vir langer periodes, hoe vinniger word dit lente en somer en hoe vinniger word die water warm. Meer mense swem dus al hoe vroeër. Dr. Kim Hollar, ’n professor aan die Universiteit van Hawaii, sê dit is nie so maklik om neigings in haai-aanvalle te voorspel nie. “Ons verstaan nie werklik hoekom dit gebeur nie.”

 

René se beserings was onder meer aan sy linkerhand, waar die senuwees sowel as drie senings na sy duim, pols en pinkie afgebyt en ’n been middeldeur gebyt is, en sy regterhandpalm waar die haai se tande twee klein uitgangswonde gelaat het.

“René het sy visskietgeweer in sy regterhand vasgehou. Die geweer is middeldeur gebyt en dit het waarskynlik gekeer dat die haai nie sy hand heeltemal afgebyt het nie. Hy het ook tien wonde rondom sy linkerknie opgedoen. Dit wissel in grootte van 2 cm tot 12 cm. Aan die buitekant van sy linkerdy is ’n wond van ongeveer 5 cm diep, en aan die binnekant van sy knie het die haai se tande tot in sy kniegewrig deurgedring. Sy linkerbeen was geheel en al in die haai se bek.”

Dr. Du Toit vertel hulle het dadelik aan die werk gespring, René se wonde goed uitgewas en toe al die senuwees, senings, spiere en beenbreuke geheg. Dié prosedure het sowat twee en ’n half uur geduur. Weens die groot gevaar vir infeksie is hy vyf dae lank op voorkomende binneaarse antibiotika geplaas.

“Hy sterk tans goed aan en het bykans geen pyn nie,” sê dr. Du Toit. “Dit sal sowat drie maande duur voor hy volkome herstel. En ja, hy wil weer eendag gaan visskiet.”

René se raad aan voornemende duikers wat haai-aanvalle wil probeer ontduik?

“Duik altyd met minstens nog een persoon, en maak seker dat jy naby jou boot bly.”

En ons gewone ouens, moet ons maar eerder uit die see bly? Kenners reken daar sal na raming sowat 100 haai-aanvalle vanjaar wees. Ralph Collier, ’n haaikenner, stel dit egter in perspektief: “100 mense sterf jaarliks as gevolg van vallende kokosneute … As jy dus veilig wil wees, bly ook weg van dié bome …”

Ook Suid-Afrika se haai-fluisteraar, Michael Rutzen, het in ’n SARIE-onderhoud in Junie 2002 gesê ’n mens se kans om die Lotto te wen is groter as om deur ’n haai aangeval te word.

In dieselfde artikel het Jenna Cains, ’n mariene bioloog, dié wenke gegee om veilig in die water te wees:

Moet nooit alleen swem nie, ook nooit vroegoggend, skemer, of saans nie. Onthou, in gebiede waar baie vis of robbe swem, is daar gewoonlik haaie. Probeer om nie paniekerig te raak as jy ’n haai sien nie, vir elke haai wat jy sien, is daar vyftig haaie wat jóú gesien het sonder om jou aan te val. Onthou: rukkerige bewegings maak haaie onrustig en dan val hulle jou gewoonlik aan.