1life_6
Hieroor praat mense

Sterker saam: Twee ongelooflike sterk dogtertjies

Twee jaar gelede het Karla en Emma, toe 10 en agt jaar oud, van hul pappa afskeid geneem. Dié twee blondekoppies moes klein-klein leer om sterk te wees – en hul ma, Emsie Schoeman van George, sê hul pa, Fanie, se ysterwil en vegtersgees leef voort in sy twee dogters.

1life_3

Karla en Emma het so te sê met kanker grootgeword nadat kolonkanker in 2008 by Fanie gediagnoseer is en die siekte deel van hul lewe geword het. Emma vertel: “Toe ek nog klein was, het ek eenkeer sy toonnaels geverf voordat hy hospitaal toe gegaan het!”

Elsie (40) het hulle vir 1Life se #SterkerSaam-veldtog genomineer omdat “hulle wraggies sterker aan die ander kant uitgekom het ná hul pa se dood”.

1life_1

In 2013 is vasgestel dat Fanie se kanker terminaal is. Pleks van by die huis sit, het hulle die Zanzibar-vakansie wat hulle vir Desember beplan het, na September vervroeg sodat al vier nog een keer saam kon vakansie hou. “Ons het voor die tyd vir Karla en Emma gesê dat hul pappa nie meer lank by ons gaan wees nie en moes aanskou hoe dit hul harte breek,” vertel Elsie.

Nogtans was dié vakansie net mooi die teenoorgestelde van hartseer. “Hy het glad nie siek gelyk nie,” vertel Emma, en Elsie las by dat hy sommer “vir vreemdelinge gesê het die vakansie is sy afskeidspartytjie!”

Elsie sê sy sou nie Fanie se dood in Januarie 2014 sonder Karla en Emma se sterk, opbeurende geaardhede kon verwerk nie. “As daar twee mense is wat deur hel kan gaan en sterker daar uitkom, is dit hulle. Fanie was ook so. Sy ysterwil is in hulle.”

1life_7

So klim Karla, Emma, Elsie en Dawie, met wie Elsie onlangs getroud is, op die vliegtuig Kaap toe, maar hulle sê nie vir die meisies waarheen hulle gaan nie. “Hulle het vir ons vertel ons gaan kamp, maar toe kom ons Kaapstad toe!” vertel Karla opgewonde.

Ná ’n uitstappie V&A Waterfront toe vir inkopies, iets wat Karla graag saam met haar ma doen, was die gesin reg vir hul fotosessie. Die meisies was gaande oor die ateljee-atmosfeer en is elke keer giggel-giggel weg om nog ’n nuwe uitrusting te gaan aantrek.

1life_4[1]

Maar die volgende dag se verrassing het hulle stom van verbasing gehad. Karla en Emma is mal oor Afrikaanse musiek en kon nie hul ore glo toe hulle hoor dat hulle Afrikaans is Groot in die Grand West-arena gaan bywoon nie. “Die organiseerders het die kinders op die hande gedra,” vertel Elsie. “Hulle het voor die konsert op die verhoog gegaan en kon voel hoe dit is om ’n kunstenaar te wees. Toe die konsert begin, het ons lekker saamgesing met Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld, Theuns Jordaan en Bobby van Jaarsveld.”

Toe Karla en Emma ná die konsert aan Bobby voorgestel word, was die opwinding net te veel vir hulle. “Daar staan die twee toe, stokstyf van skok, en staar Bobby grootoog aan. Stomgeslaan!”

Kyk die video van die ontmoeting hier:

Nie Karla óf Emma sal die naweek gou vergeet nie. Emma het die hele ry stoele se programme gegaps om vir haar maats by die skool te gee en Karla kon nie wag om vir almal by die huis te vertel wat hulle alles gedoen en gesien het nie.

Die manier waarop dié twee hul pa se dood hanteer, is ’n inspirasie. Hulle praat met vrolikheid en liefde van hom en glo dat wat gebeur het, moes gebeur het. “Hulle raak natuurlik soms hartseer en sê hulle mis Pappa Fanie, maar hulle is nie moedeloos en verpletter nie,” sê Elsie.

Elsie se raad aan gesinne wat ook iemand aan die dood moes afstaan, is om ’n traumaspesialis te raadpleeg vir die “moeilike” gesprekke en om van die begin af eerlik en openhartig te wees met kinders, al is hulle hoe jonk. “Hulle verstaan meer as wat jy dink en as jy dinge van hulle weghou, gaan hulle jou eendag verwyt.”

“Die grootste les wat my pa my geleer het, is om voluit te leef, want die lewe is soms korter as wat ’n mens verwag,” vertel Karla. Hoewel Dawie nou in hul lewe is, het Pappa Fanie steeds ’n plek in hul harte. “Ek is swanger,” vertel Elsie, “en die kinders sê nou al ons moet onthou om die nuwe boetie of sussie te vertel van hul ander pappa.”

1life_6

1Life se #SterkerSaam-veldtog is verlede jaar September bekend gestel met die doel om mense te motiveer om hul stories te deel oor hoe kanker hul lewens verander het. Deur ’n platform vir mense te skep waar hulle bemagtigende stories kan deel, het die veldtog werklik lewens verander. Die veldtog het ook Suid-Afrikaners aangemoedig om bewus te wees van die gevare van kanker en watter beskerming hulle nodig het om die kankerstryd te veg. Vir meer inligting, klik hier.