FOTO Twitter @PublicProtector

FOTO Twitter @PublicProtector

Hieroor praat mense

Stylvolle ystervrou Thuli Madonsela vereer

Jy kan vir advokaat Thuli Madonsela in een woord opsom: Ystervrou.  Einde Oktober tree sy uit as Openbare Beskermer, ’n rol waar sy dikwels geregtigheid teen korrupsie laat geskied het. En nóú gaan sy daarvoor vereer word. Madonsela gaan die German Africa Award ontvang vir haar stryd teen korrupsie, berig Deutsche Welle (DW).

Die nuus is ook op sosiale media gedeel.

Die gesogte prys word toegeken aan iemand wat ’n bydrae vir vrede en teen korrupsie maak.

In 2014 het SARIE ’n onderhoud met Madonsela gedoen.

Sy hou van mooi aantrek en is dol op bordspeletjies met haar kinders, maar wanneer adv. Thuli Madonsela praat as Openbare Beskermer, is dit met ’n ysere wil, skryf Delia du Toit in die November 2014-uitgawe van SARIE.

Jy’t gehelp om die grondwet op te stel. Hoe vaar ons met Madiba se droom van ’n reënboognasie?

Ons het al baie gedoen om die droom te bereik, want Suid-Afrika is ’n beter plek as gister. Maar nog nie genoeg nie, want ons intensies en aksies is nie altyd dieselfde nie. Wanbestuur is een van die grootste diewe van ons drome. Die geldgierige kultuur in ons nuwe demokrasie is deel van die probleem. Dis te verstane, want mense gryp nou na wat hulle voorheen nie kon kry nie.

Ons moet terugkeer na die waardes wat ons jare gelede gehad het. Toe ek klein was, is bendelede in die gemeenskap beskinder, maar vandag dra hulle hul kentekens met trots. Ons moet weer kom waar ons bly kan wees vir mense wat geld het, want ons weet hulle het daarvoor gewerk.

Wat moet verander om korrupsie te bekamp?

Die land se leiers moet dié kantoor as ’n hulpmiddel sien om die land te verbeter, eerder as ’n irritasie. Die publiek kan ook help deur meer druk op skuldige partye uit te oefen. Laat jou stem hoor. As OB het ek nie dieselfde mag as ’n hof nie. My grootste mag lê daarin om die publiek betrokke te kry.

Het jy jou doelwitte as OB bereik?

In my vyf jaar hier was my grootste prestasie om hierdie kantoor bekend te maak. Mense weet nou van ons en kom hierheen as hulle hulp nodig het. Ons het al meer as 26 000 sake suksesvol opgelos. Maar dis nie vir my genoeg om mense te ondersoek en tronk toe te stuur nie, dis belangriker om die geld wat hulle gevat het terug te kry om skole en hospitale te bou.

Lees nou

EgyptAir MS804 in see neergestort

IRS-tuig al 100 000 keer rondom aarde