FOTO Phyllis Green

FOTO Phyllis Green

Het jy gehoor?

Sunette Viljoen: “Ek het baklei vir my medalje”

Suid-Afrika se spiesgooi-liefling, Sunette Viljoen, het by vanjaar se Olimpiese Spele in Rio ’n silwermedalje gewen. Maar ongelukkig het Sunette nog nie die beloofde bonusgeld van sowat R70 000 vir haar oorwinning gekry nie, berig Netwerk24

Maandag het daar ’n onderonsie tussen Sunette en die minister van sport, Fikile Mbalula, op Twitter uitgebreek. Sunette het ’n  skermgreep van ’n WhatsApp-gesprek met Mbalula getwiet.

Mbalula het nie gehuiwer om ’n paar keer vir Sunette op Twitter te kap nie en het selfs getwiet dat sy destyds gesê het sy wou dit nie hê nie. Lees die volledige onderonsie op Netwerk24.

Maar bekendes en sportsterre soos die Olimpiese swemmer Roland Schoeman het nie gehuiwer om vir Sunette te ondersteun nie.

Verskeie lede van die media het probeer kommentaar kry by Sunette, maar sy wou nie kommentaar lewer nie.

In SARIE se November 2016-uitgawe het Sunette gesê sy is nie bang om haar mening te lug nie. Hier volg ’n uittreksel:

Dit klink of jy betekenis in alles kan sien. Is jy ’n glas-halfvol-mens?

Ek was nog altyd so, ja. Moeilike dinge kom oor enigiemand se pad, maar dis jou keuse hoe jy reageer. Gaan jy lê, of gaan jy mense wys wat jy kan doen? Jy kan kies om die lewe vierkant in die oë te kyk of om ’n slago er wees. Daar is soveel mense in slegte situasies. Kinders wat verwerp word, verstoot is, seergemaak word. Ek raak sommer hartseer. Ek wil vir hulle sê: As ek dit kan regkry, kan jy ook. Jou swaarkry, of wie jy liefhet, de nieer jou nie as mens nie – dis ’n druppel in die emmer wat bydra tot wie jy is. Moet nooit opgee nie, voel hoe brei en beitel dit jou, hoe jy groei. Loop regop, met jou skouers terug, en wees trots op jouself, kyk mense vierkant in die oë. Wys hulle!

Jy’s beslis nie bang om te praat as iets pla nie, soos toe jy Saskok op Twitter die stryd aangesê het oor atlete se betaling . . .

Ek het ’n ongelooflike fight in my. Ek is net so gebore en ek dink dit maak ’n kampioen – as jy iets met jou hele hart wil hê, moet jy nie bang wees om te praat of te baklei as dit nodig is nie. Daardie storie was net sleg. In jou Olimpiese jaar wil jy elke bietjie ondersteuning van die Olimpiese komitee hê wat jy kan kry. En toe, in Februarie, hou hulle op om my te betaal. Dan moet jy soebat en smeek! Dit was belangrik dat hulle ’n bietjie in die bek geruk word.

Wat dryf mense om Olimpiese atlete te word in ons land? As jy kyk hoeveel lande soos Australië in hul atlete belê, hoe groot die spanne is wat hulle stuur en die moeite wat gedoen word . . . hier moet jy dit regtig vir die genot doen.

En die klere wat hulle ons gegee het vir die Spele! Dit was skokkend. Elke dag gee jy jou bloed, sweet en trane, en oefen die velle van jou hande af. Dan kom jy daar en maak jou sak oop, en jy moet letterlik dít kies wat jou die minste skaam gaan maak, nie dit wat jou trots maak nie. Die ander lande se atlete het een oggend gevra: “Jeez, Sunette, what are you wearing?” Toe vra ek hulle net mooi om nie te lag nie. Nee, ek is nie bang om daai mens te wees nie, ek’s nie bang om ruggraat te wys en op te staan nie. Dit laat my goed voel om te weet ek doen iets aan ’n probeem – en dis nie net vir my nie, dis vir al ons atlete.

FOTO Phyllis Green

FOTO Phyllis Green

VIDEO: Geneem by My Bread and Butter, Johannesburg, 011 646 8639 | Geneem deur Phyllis Green | Grimering Deirdre | Stilering Fanie Cronjé | Klere The Space en Wolford

Lees die volledige onderhoud in SARIE se November 2016-uitgawe – nou te koop.

NOVember 2016 Nataniël Erik

  • Lana

    Al wat die geagte minister weereens gedoen het was ook om tog net die “flavor van die oomblik” te wees, met ‘n spul leë beloftes aan ons atlete wat SA se naam hoog gedra het tydens die spele. So tipies!! En dit is nie die eerste keer dat hy beloftes maak wat hy nie nakom nie.