FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Hieroor praat mense

Sy verloor 40 kg in een jaar

Ema Cupido het die skaal eens op 104 kg getrek. Sy kon 6 kg afskud, maar die res van die rolletjies wou net nie wyk nie. Sy het ’n plato bereik.

“Die ergste is, ek is maar net 1,6 m lank.’’ Sy het gehyg as sy haar skoenveters moes vasmaak, gesukkel om te slaap, niks in die winkels gekry wat haar gepas het nie, wou nie sosiaal wees nie. Als was ’n stryd.

“Ek moes my vyf maal per dag inspuit met insulien, later tien maal per dag, en daarby moes ek elke keer ’n vingerpriktoets doen. Ek het kombinasie-medisyne gebruik.”

Sedertdien het sy 40 kg verloor!

Toe

FOTO Ema Cupido verskaf

FOTO Verskaf

Foto verskaf Ema Cupido

FOTO Verskaf

Sy was altyd slank en sportief, maar op vyftien het sy onverklaarbaar ontplof in ’n Orosmannetjie, vertel Ema (40), assistent-direkteur kommunikasie van gesondheid in die Wes-Kaap.

Tussen vyftien en dertig, toe sy die eerste keer met diabetes 2 gediagnoseer is, het sy baie geslaap, blaasinfeksies gekry, al hoe vetter geword, sy was dors, moeg … niemand, allermins sy, het geweet wat met haar aangaan. Veral nie omdat sy gesond geëet het nie.

Toe sy op dertig by die huisdokter aanland, was haar suikervlakke 35, terwyl ’n normale mens s’n tussen 4,4 en 6,6 is.

“My huisdokter het gereken ek moes eintlik al lankal dood gewees het. Hy het gesê my liggaam het waarskynlik gedurende die jare aan die hoë vlakke van suiker gewoond geraak.” Sy is dadelik op kombinasie-medikasie geplaas en op verskillende tipes insulien.

“Ek moes nege jaar lank tot vyf keer per dag insulien inspuit. My lewe was aaklig. Ek was altyd moeg, het dikwels agter die stuurwiel aan die slaap geraak, my lyf het gepyn, my cholesterolvlakke was hoog, ek het fibromialgie gehad, black-outs gekry, gesukkel met jig, artritis …”

In 2014 het sy akute pyn gehad en kon nie eens haar arms beweeg nie. Sy het gevoel of sy sterf. Die huisdokter het gesê hy kan niks meer vir haar doen nie, haar suiker is te hoog, dit is haar einde. ’n Internis en chirurg het egter gereken hulle moet haar liggaam “flous’’ en die “bedrading’’ verander. Al wat moontlik kon help, was bariatriese chirurgie (gastric bypass). Anders was ’n massiewe hartaanval of beroerte haar voorland.

“Die meeste mediese fondse beskou dit egter as ’n kosmetiese operasie omdat baie oorgewig mense dit as die laaste uitweg gebruik om gewig te verloor. Gevolglik moes my arts dit vier keer motiveer voor hulle dit goedgekeur het. In my geval was dit die enigste opsie om my lewe te red.”

Nou

FOTO Ema Cupido

FOTO Verskaf

FOTO VERSKAF EMA

FOTO Verskaf

Die operasie is op 3 Junie 2015 uitgevoer.

“Mense dink verkeerdelik jy verloor daarna maklik gewig. En hulle besef nie jy kan ná die operasie weer gewig aansit nie. Jy moet dus jou hele leefwyse aanpas. Jou maag krimp aansienlik. Die eerste paar dae daarna kon ek net ’n ysblokkie suig, dan was ek versadig. Daarna kon ek net bietjies op ’n keer eet. Dit het maande geneem voor ek vaste kosse kon inneem of koffie kon drink. Ek moes die dieetkundige se voorskrifte slaafs volg. Ek eet nou nog net 125 ml kos op ’n slag, maar ek moet drie keer per dag kos inneem en klein peuselhappies tussendeur. Vir ontbyt eet ek ’n halwe vrug, ’n vetvrye kinderjogurt en ek drink koffie by die werk. Ek eet middag- en aandete op ’n kleinbordjie. Middagete eet ek ’n slaatjie en saans ’n groente en stukkie proteïen. Vyf dae per week stap ek ’n halfuur lank.

“My lewe het drasties verander vandat ek so maer is. Die artse noem my die ‘wonderwerk-kind.’ My liggaam het homself geheel en al genees danksy die bariatriese chirurgie. Ek hoef nie meer medikasie te neem vir my suikersiekte nie. Ek hardloop trappies op, stap vinnig – van hoek tot kant – deur winkelsentrums. Om te beweeg is ’n plesier. Mense besef nie hoe ’n seën dit is om aktief te wees nie. Ek is lus om te werk. Ek is soggens uitgerus. Ek hoef nie meer ’n slaapapnee-masjien te gebruik as ek wil slaap nie. Ek is nie meer bang vir die kamera omdat ek so vet is nie. Dit is lekker om klere te koop. Vroeër was ek baie skaam. Nou het ek selfvertroue.”

Maar sy sê dit is ’n wilsbesluit om jou leefwyse te verander. En sy raai mense aan om gereeld hul suiker te toets. “Ek het nou ’n tweede kans op lewe gekry, maar ek moes hard werk om die lewe weer te omarm. En ek is baie dankbaar vir die mediese wetenskap – bariatriese chirurgie het my gered. En as ek net een mens kan inspireer met my storie, sal dit die moeite werd wees. Diabetes hoef nie ’n straf te wees nie. Jy kan dit oorwin deur die regte leefwyse te volg.’’

Ema, jy is beslis ’n inspirasie!

– Vandag is SARIE Diabetes op die rakke. Om ’n diabeet te wees beteken nie jy moet vaal en onsmaaklik eet vir die res van jou lewe nie. Aikôna, daar is baie lekker resepte, soet en sout, met geur en skop, wat vir jou sal werk. Ons deel meer as 50 resepte in die nuwe SARIE diabetes!

SARIE-Diabetes_large

Lees nou

Selena Gomez lewer emosionele toespraak

SA se beste eetplekke – hier is die lys!

The Huffington Post South Africa is hier!