Hieroor praat mense

Tejan Pillay se Survivor-droom verby

Jy en Hykie was die een oomblik nog in ‘n alliansie en die volgende oomblik het julle soos kat en hond baklei. Wat het gebeur?

Hykie het my vroeër bekoor en ek het besluit om ‘n alliansie met hom te vorm. Hy is baie sjarmant, maar later in die speletjie het ek agtergekom hy het swak plekke in sy heilige harnas. Teen die tyd dat ek dit agtergekom het, was dit te laat.

Hoe voel jy daaroor dat ‘n paar van jou stamlede gedink het jy is ‘n slang?

Dis ‘n bittersoet gevoel. Aan die een kant voel ek aaklig omdat dit is wat mense van my dink. Ek is nie so agterbaks soos wat mense glo nie. Ek probeer so eties en moreel moontlik leef. Tog is dit ‘n etiket wat ek omhels. Dit het my laat uitstaan in Survivor en dalk kry ek eendag die kans om weer in die program te wees as daar ooit ‘n reeks gemaak word waarin vorige deelnemers teen nuwes gaan speel.

Dit het gelyk asof jy van die begin tot die einde strategies oor die speletjie gedink het. Is jy ‘n aanhanger van Survivor?

Ek het al ‘n paar van die reekse gekyk, maar ek is nie die grootste aanhanger nie. Ek is eerder iemand wat die lewe leef as om voor die TV te sit. Op die eiland het ek so vasgevang geraak in die speletjie. Dit was soos om 24 uur van die dag skaak te speel. Jy moet heeltyd vier of vyf skuiwe voor jou teenstanders wees. Ek het in die nagte wakker gelê en uitgewerk wat my volgende skuif gaan wees.

Wat was jou doelwit in Survivor?

Ek wou net tot by die merge kom. Toe kom ek heelwat verder. Nou is ek sommer in die jurie.

Op ‘n stadium het dit gelyk asof jy die oorhand gehad het.

Ek het gedink ek het alles in plek om tot onder die voorste vier deelnemers te vorder. Dan sou ek teen Letshego gedraai het, want ek wou nie teen haar in die finaal te staan gekom het nie. Dit sou die ideaal gewees het om saam met Allison in die eindronde te wees omdat sy reeds ‘n kar gewen het. Dalk sou die jurie nie vir haar R1 miljoen ook wou gee nie.

Hoekom het jy aan Survivor deelgeneem?

Dit staan vir alles waarin ek glo: om soveel pret as moontlik te hê, om my lyf en psige tot die uiterste te beproef en om die lewe met oorgawe te leef.