FOTO: Facebook

Hieroor praat mense

Tiener veg dat skool later begin – en wen!

Nou dít wil gedoen wees! ’n 17-jarige meisie van die staat Missouri in Amerika wou nie hê die skoolklok moet so vroeg in die oggend lui nie – en sy het haar sin gekry.

Jillian Dos Santos was volgens die webblad Jezebel.com ongelukkig toe sy hoor haar skool wil skoolure met omtrent ’n uur vervroeg. Die tiener, wat vantevore ’n internskap tydens ’n politieke verkiesing gedoen het, het Facebook en Twitter gebruik om haar veldtog te voer.

Sy het haar skoolmaats genooi om ’n beheerliggaamvergadering by te woon en hulle aangesê om netjies aan te trek vir dié geleentheid. Hier het sy die volwassenes oortuig dat die vroeë skoolure nie ’n goeie idee is nie.

Maar sy het nie daar opgehou nie.

Jillian het navorsing gekry wat bewys dat tieners eers snags teen elfuur moeg word én dat kinders by skole wat later begin, beter presteer. Dis omdat dié leerlinge steeds agt ure se slaap kry.

Haar skool het toe die oorspronklike skoolure wat hulle wou vervroeg, aangepas om selfs later te begin. Die staat se skoolowerheid ondersoek nou die moontlikheid dat al die skole in Missouri dalk later moet begin.

7 maande nadat die skoolklok by Jillian se skool later begin lui het, het ouers én onderwysers ’n positiewe verandering in die leerlinge gesien.

Jillian Dos Santos FOTO: Facebook

Jillian Dos Santos
FOTO: Facebook

Jillian, of Jilly soos haar vriende haar noem, se storie het selfs die New York Times gehaal – lees die storie hier!

Ons hou van dié dinamiese meisie wat verandering op ’n demokratiese manier aangebring het. Dalk die toekomstige eerste vroulike president van Amerika?

BRON: Jezebel.com