Hieroor praat mense

Tom Cruise maak fliek in Namibië!

Reg onder ons neus word ’n internasionale fliek gemaak! Nie dat SA flieks nie topgehalte is nie; juis hierdie week is daar 3 Afrikaanse flieks landwyd te sien.

Ons kan nie ophou kyk na die foto’s van The Mummy nie, wat tans in Swakopmund, Namibië, verfilm word. Die 1999-treffer The Mummy met Brendan Fraser en Rachel Weisz word oorgemaak. Dit was destyds die einste film wat die Suid-Afrikaner Arnold Vosloo so bekend gemaak het.

Hy is speel nie in die nuwe fliek nie, want dié keer vertolk aktrise Sofia Boutella die rol van die antagonis.

Die akteurs wat nou hier in ons buurland doenig is, is Tom Cruise, Russell Crowe, Jake Johnson (van New Girl-faam) en Annabelle Wallis, wat jy in The Tudors (2007 – 2010) gesien het.

fliek

Jake Johnson FOTO Twitter (@OnlyFilm)

Die rolprent speel eintlik af op die Mediterreense eiland Malta. En oorspronklik sou dit daar verfilm word, maar Namibië het toe die plaasvervanger geword. En ons kan sien hoekom!  As jy hoop om vir Tom iewers te sien, het ons slegte nuus, Universal Monsters Universe berig dat die verfilming reeds die 15de Augustus gaan ophou.

fliek

Sofia Boutella FOTO Twitter (@Sofia Boutella)

Dit lyk of The Mummy iewers in Junie 2017 sal begin draai.

fliek

Tom Cruise FOTO Instagram (@universalmonstersuniverse)

Pete’s Dragon

’n Bewaarder, Grace (Bryce Dallas Howard), ontmoet ’n 10-jarige seuntjie in die woud waar hy al vir ses jaar woon. Die seuntjie praat gedurig van ’n draak wat in hierdie einste woud bly. Is dit werklik moontlik? Met dié vraag besluit Grace en haar pa (Robert Redford) om die waarheid te gaan soek.

Florence Foster Jenkins

In Florence Foster Jenkins speel Meryl Streep die hoofrol van die sosiale vlinder, Florence, wat ’n opera-sanger geword het al kon sy nie een noot reg sing nie. Sy word tot vandag toe beskou as die slegste opera-sanger in die geskiedenis, berig The Guardian. Maar dis geen grap nie, Meryl moes leer om vals te sing!

Met Meryl en Hugh Grant in die hoofrolle kan dit net ’n treffer wees.

Mike & Dave Need Wedding Dates

Twee broers, Mike (Adam DeVine) en Dave (Zac Efron), sorg altyd vir kattekwaad. Maak nie saak waar hulle gaan nie, op een of ander manier maak hulle amok. Hul pa het ’n plan: hulle moet albei metgeselle na hul suster se troue bring. Dit sal hulle rustiger maak – of so hoop hy. Ongelukkig ontmoet hulle vir Tatiana (Aubrey Plaza) en Alice (Anna Kendrick) wat albei meer streke as die broers saam het!

Alison

Wat met Alison Botha in Desember 1994 gebeur het, het Suid-Afrika geskok. Haar gruwelike verkragting en die poging om haar te vermoor het ook die wêreld aangegryp. Die fliek gaan oor dié 90 minute wat haar lewe vir altyd verander het.

Jy sien ook hoe sy ná die brutale aanval fisiek en emosioneel moes herstel het.

Christia Visser speel die jong Alison. De Klerk Oelofse en Zak Hendrikz vertolk die rolle van haar aanvallers.

Alison en haar skoenlappervlerke

Maak seker jy loop ook nie hierdie flieks op die groot skerm mis nie

Lees nou

Só baie SA flieks!

Kyk! Sy Klink Soos Lente-lokprent