FOTO Twitter / KKNK

FOTO Twitter / KKNK

Hieroor praat mense

2 Afrikaanse groot geeste gegroet

Albei was reuse in die Afrikaanse kunste en kultuur. Een kon met boeremusiek toor, die ander was ’n rolprentmaker bekend as Oulap se dromer. En nou het die musikant Nico Carstens en die regisseur en draaiboekskrywer Jans Rautenbach hul laaste buiging gemaak.

Dinsdag, 1 November, is Nico in die ouderdom van 90 in Kaapstad oorlede. As meesterlike komponis en trekklavierspeler het hy liedjie na liedjie opgetower. Een van hulle was sy wêreldtreffer “Zambesi”.

Kyk hoe speel hy dié treffer:

Volgens Netwerk24 weet mense veral die volgende oor Nico:

“.. dat hy lief was vir mooi motors (veral Cadillacs), dat hy sewe keer getroud was, en dat hy dit gehaat het as mense na hom verwys het as die ‘Koning van boeremusiek’.”

In SARIE se April 2000-uitgawe het SARIE se redakteur, Michélle van Breda, met Nico gesels. Hier volg ’n uittreksel:

Altesame 56 orkeste het “Zambesi” opgeneem. Ook groot name soos James Last, The Shadows en later Jean Michel Jarre het opnames gemaak. Het jy nie jou talent in SA weggegooi nie?

Internasionaal was daar druk op my om te gaan. Ek hét oorsee gaan speel, maar nooit my heil permanent daar gaan soek nie. Hoekom, weet ek nie. Dalk het ek iets belangrikers gehad om te doen. Dalk wou ek ’n blonde in my Cadilac Durban toe vat. Wie weet? Ek was nog nooit maklik met die kollig nie. Ek meng nie maklik nie. By partytjies het ek dikwels alleen in ’n hoek gesit. Ek’s gemakliker met ’n kollig op die verhoog – só dat ek nie die gehoor se oë kan sien nie. En geld? Geld het nooit my lewe beheer nie.

Jy het al meer as 1 200 liedjies gekomponeer. Hoe komponeer jy – is dit iets wat jy voel?

Dis iets wat moet uitkom. Ek gebruik die klavier om te komponeer. En daar waar my vingers val, daar gaan ek. Dis soos ’n skilder. Jy moet begin met ’n idee, maar daar’s nie beheer oor wat uit die kwas voortvloei nie. Ek het kaste vol musiek; halfvoltooide goed, voltooide goed. Die kinders moet maar eendag besluit wat hulle daarmee wil maak.

Oulap se dromer

Gister is die dromer oom Jans in die ouderdom van 80 in die Bay View-hospitaal op Mosselbaai oorlede. As dromer, baanbreker en outeur het hy verskeie rolprente gemaak, soos Die Kandidaat (1968), Katrina (1969), Jannie Totsiens (1970), Pappa Lap (1971). In 2014 het hy begin verfilm aan sy laaste rolprent, ’n storie na aan sy hart, Abraham.

Dié roerende verhaal oor ’n kunstenaar, Abraham, en dromer wat oom Jans en sy vrou, Almeri, se pad gekruis het, is op sy geliefde plaas Oulap en die omgewing van De Rust in die Klein Karoo geskiet. Oulap is sy tuiste sedert 1971.

Dis verlede jaar uitgereik.

Kyk hoe praat oom Jans oor sy film:

Die akteur Dann-Jacques Mouton, wat die hoofrol in Abraham vertolk het, het een ding by hom geleer:

“Moenie bang wees om  drome te hê nie. As jy eerlik is oor wat jy wil hê en jy werk hard aan jou craft, is dit moontlik. Maar almal se drome word natuurlik nie waar nie …”

En oom Jans het gedroom – as klein seuntjie in Germiston se strate en as 80-jarige voor hy sy laaste asem uitgeblaas het.

Rus sag, ou grotes.

* Die aanhaling van Dann-Jacques Mouton kom uit ’n onderhoud deur Marguerite van Wyk in SARIE se September 2014-uitgawe.

Lees nou

Bekende akteur inspireer en doen nóg meer!

Nataniël hou konsert vir goeie doel