Hieroor praat mense

Uiteindelik – Fantastic Beasts is hier!

Die storie vóór Harry Potter is uiteindelik hier! Aanhangers het lank gewag vir Fantastic Beasts and Where to Find Them; ek kan byna nie glo dat die bekendstellingsnaweek hier is nie. Ek is só nuuskierig oor die storie. Dis 70 jaar voor Harry Potter in die skool is, daarom is al die karakters nuut en baie verrassings en nóg meer vrae lê voor! Is jou bespreking gemaak? 

Vir die Voëls, ’n plaaslike prent en ware verhaal wat reeds resensente aan die gons het, begin ook die naweek draai. Ons het hierdie week die kans gehad om dié fliek te kyk en het net twee woorde: móét sien. Vat jou hele gesin, nee, vat jou hele familie, want van die kostumering tot die stelontwerp en van die musiek tot die akteurs se spel, alles werk net goed saam. Jy gaan sommer net lekker voel daarna.

Fantastic Beasts and Where to Find Them

Hierdie nuwe verhaal van Harry Potter-skrywer J.K. Rowling vertel die storie van Newt Scamander, ’n skrywer in New York se geheime gemeenskap van hekse en towenaars. Die fliek speel 70 jaar af voordat Harry Potter Newt se boek in Hogwarts gelees het.

Fantastic Beats and Where to Find Them is een van vyf flieks wat verfilm gaan word en het in sy eerste week oorsee beter as drie van die Harry Potter-flieks se eerste week (Maandag tot Vrydag) gedoen! Bekendes soos Eddie Redmayne, Colin Farrell, Ezra Miller (The Perks of Being a Wallflower) en Katherine Waterston (Steve Jobs) speel in die rolprent. Ons het gehoor van ’n verrassing wat op kykers wag: ’n Bekende akteur maak ook sy verskyning in hierdie nuwe fliekreeks!

Vir die Voëls

Vir die Voëls is gegrond op die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd geterg het. Tot kort tevore het sy vas geglo onafhanklikheid is die enigste vorm van vryheid, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oor haar oortuigings laat nadink.

Die verhaal speel in die laat 1970’s af en gaan die hartsnare roer. Dit is ’n nostalgiebelaaide rolprent oor ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit was en ’n man met so ’n sterk selfbeeld dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg. Dit is ’n storie oor die stryd teen jouself en hoe om te keer dat omstandighede en emosionele bagasie jou kans op geluk verongeluk.

 

Nog flieks wat hierdie week wys

Lees nou